Zirk van den Berg se toorwoorde oor barre landskap

Zirk van den Berg (Foto: Brenda Veldtman)

Zirk van den Berg het die Hochnamib-trilogie – Die vertes in, Tweegevreet en Een of ander held – wat vir ’n paar maande in 1905 in Duits-Suidwes-Afrika afspeel – die afgelope twee jaar die lig laat sien.

Sy toorwoorde oor die barre landskap wat onder jou vel kom sit, die sterre wat snags só naby flonker dat jy hulle wil aanraak, die verganklikheid van ’n lewe, die onnodigheid van wreedheid en ook oor oorlog laat jou emosies tussen weersin en trane wissel, skryf Maryke Roberts. Sy gesels met hom oor hierdie projek.

Zirk is in Namibië gebore, maar het in Suid-Afrika grootgeword. Sy liefde vir sy geboorteland kom dwarsdeur sy boeke in verskeie beskrywings deur die karakters soos oorgrote kunswerke voor jou geestesoog op. Voorbeelde hiervan:

“Hierdie plek se stof kom sit in jou siel en dan’s jy nêrens anders tuis nie …” (oor Van Jaarsveld wat nie die land wil verlaat nie.)

Sy beskrywing: “Hy het só lanklaas geselskap gehad, dat dit voel asof sy woorde in ’n groot wolk opgebou het, en nou bars die reën uit,” is so tersaaklik in ’n waterskaars land waar mens en dier van dors omkom, dat niemand ’n oog daaroor knip nie.

“Hy is ’n vreemdeling hier; nie omdat hy Duits is nie, maar omdat hy mens is. Die verlate barheid van die landskap doen iets aan hom; die grondliggende stilte eggo in sy siel.”

En dis nie net die setlaars wat in verwondering oor die landskap staan nie: “As kind het Mordegai gedink die tjirpgeluide wat hy snags hoor, word deur flonkerende sterre gemaak. Hy het sedertdien die waarheid oor krieke uitgevind, maar hou steeds daarvan om hom te verbeel dat hul geluide uit die hemele kom.”

Die wreedheid en sinneloosheid van die bakleiery oor grond is ’n sterk tema regdeur al drie boeke. Die boodskap van die bose kringloop van oorlog en die siklus wat dit loop kan in die dae voor die Duitsers gekom het gesien word – eers gaan stroop die Namas onder die Herero’s, en dan kom iemand weer húl kuddes steel.

“Dit was ’n konstante geveg wat selde enigiemand op die lang termyn bevoordeel.”

Later is daar gesprekke dat die Duitsers nie die eerste veroweraars is wat daar aangekom het nie. “Die einste mense wat die wapen teen ons opgeneem het, die Herero’s en die Oorlam-Namas, het gerieflikheidshalwe vergeet dat hulle nie te lank gelede nie self as veroweraars hier aangekom het. Die Namas en Herero’s is al dekades lank in ’n bloedige stryd teen mekaar gewikkel. Net soos die Herero’s, het die Namas nog altyd die Damaras as ondergeskik gesien.”

Sy fyn waarneming van die mens se psige, die ongedurigheid om altyd te wil hê wat hy nie het nie, maar dit wat hy wel het mis te kyk, dwing jou soms tot verposing.

Dan is daar oomblikke wat jy besoeke aan Namibië in jou gedagtes opdiep, herleef of bevraagteken deur frases soos:

“Die warm droë lug roer skaars; dis asof alles en almal effens uitasem is” en “Hoe wyer jou horisonne, hoe meer méns voel jy …”

Zirk het vir etlike jare as joernalis gewerk en daarna by verskeie plekke as kopieskrywer. Hy debuteer met ’n kortverhaalbundel, Ekstra dun vir meer gevoel, en daarna ’n roman, Wydsbeen. Sedertdien verskyn sy romans in Afrikaans én Engels. Ek wens, ek wens is in 2020 met die WA Hofmeyr-prys bekroon, asook kykNET-Rapportpryse in die fiksie- en filmkategorieë.

Die oorgang vanaf pittige kopieskryf vir advertensieagentskappe na die lang skrywery van ’n roman kon nie maklik gewees het nie. Hy vertel: “Ek was nog altyd in die eerste plek ’n storieskrywer; ek het daarmee begin toe ek 12 was. Die kopieskryf was iets wat ek ter wille van oorlewing gedoen het, en by terugskouing was daardie deel van my loopbaan ’n fout. Hulle het my iewers ’n prys gegee, maar ek was nie juis ’n goeie kopieskrywer nie. My verhouding met bemarking van enige aard is maar problematies.”

Die boeke het so lekker gelees, ʼn mens hoop regtig dis nie koebaai vir Siegfried en sy trawante nie, maar dit was ook ’n enorme taak om af te handel. Zirk sê toe hy die projek in 2013 aangepak het, het hy daarna gekyk soos ’n minireeks op TV; hy het geweet daar sal ’n klompie boeke wees.

“Al staan elke boek op sy eie, vorm die drie saam ’n lekker eenheid en ek meen die storie is nou klaar. Daar is weliswaar karakters en dinge waaroor ek nog sou kon skryf, maar ek het nie tans sulke planne nie.”

Zirk van den Berg (Foto: Brenda Veldtman)

Hy woon die afgelope 23 jaar met sy gesin in Browns Bay in die noordelike voorstede van Auckland, Nieu-Seeland. Zirk erken: “Toe ek in 2019 in Suid-Afrika was om Ek wens, ek wens bekend te stel, het ek besef ek het nou uiteindelik in my gemoed ook geëmigreer, 21 jaar nadat ek landuit is. Ek is nou wel weg daar, maar is nie seker ek het al heeltemal in Nieu-Seeland aangekom nie. Die eerste klompie jare hier was ongelooflik swaar – emosioneel en finansieel. ’n Mens leer om jou trots te sluk, al stik jy daarvan. Deesdae lewe ons egter heel lekker, al lê hartseer maar altyd iewers in ’n kas, soos opgevoude linne.”

Hy sê hy kom te min in Namibië: “Covid befoeter my planne nog verder. Die kuiers op my oupa se plaas was altyd hoogtepunte. Ek onthou eenkeer toe ek so 10 of 12 was, het ons in ’n konvooi afgekruie na die Kuiseb Canyon toe, wat aan die plaas grens en waar die grootmense ’n sundowner wou drink. Daardie middag het ’n geweldige indruk op my gemaak – ek het iets van die romantiek van die ou Afrika aangevoel. In ’n groot mate is hierdie reeks boeke ’n poging om daardie gevoel na te jaag.”

Hy erken dat hy die mense se gulhartigheid en lewenslus die meeste mis. “Boerbeskuit. En stof. Hier in die nat noorde waar ek woon, is dit so klam dat jy nooit stof ruik nie, net modder en muf. En ek mis die wêrelddeel waar hierdie stories afspeel geweldig; die berge en klippe en stil, blou hemel.”

Hy is al soveel jare uit Namibië weg, dis verbysterend hoe akkuraat hy die omgewing beskryf. Hy sê Namibië is sy hartsland. “My oupa se plaas, waar ek as kind gekuier het, is in die omgewing waar die boeke afspeel. Ek het ook ’n paar keer soontoe gegaan spesifiek met die oog op hierdie reeks.”

Zirk sê hy maak nie notas vir die mooi beskrywings nie, maar “dwaal maar net so in my gedagtes rond, probeer my in die karakters se situasie inleef en dit dan so duidelik en oortuigend verwoord as wat ek kan. ’n Sin duik partykeer op as ek ver van skryfgoed is, en dan probeer ek hom maar vir later onthou. En dit vat baie skaafwerk om die woorde reg te kry. Hoe harder ek werk, hoe makliker en lekkerder lees dit.”

Zirk se boeke het elke denkbare resensent in Suid-Afrika wat sy sout werd is se lofprysinge vir hierdie trilogie gekry. Spoor dit ʼn mens tot groter hoogtes aan, of maak dit jou bang dat jy dalk nie weer hierna so ’n goeie boek kan skryf nie, wonder ek. “Ek is die afgelope klompie jare altyd besig met ’n boek of twee verby die een wat verskyn, en die reaksie op een boek affekteer daarom nie die volgende een nie.

“Ek wil natuurlik hê mense moet lekker lees en dis wonderlik as resensente van my werk hou, maar ek skryf in die eerste plek stories wat ek self sal wil lees. My hoop is dat daar dan ander mense sal wees wat ook daarby aanklank sal vind. Ek kan nie toelaat dat resensente of prysbeoordelaars se menings my aan bande lê nie. Dis ’n drukgroep. Hennie Aucamp het uitgewys dat ’n skrywer hom nie aan drukgroepe durf steur nie.”

Afrikaans is steeds hul huistaal, maar hy sê die alledaagse woordeskat is nie genoeg vir stories van hierdie aard nie en hy verlaat hom dus op die taal soos “ek dit onthou, druk en trek maar daaraan soos klei. En dan is daar natuurlik redakteurs wat help dat ek nie te veel aanja nie.”

Dit bring ons by sosiale kommentaar en humor – beide is fyn deur die storielyn vervleg. Laasgenoemde met pittighede soos: “’n Man met ’n swart onderbaadjie steek ’n vlag uit wat blykbaar sterk genoeg is om ’n trein te stop.” Dis eers met die tweede leesslag wat jy aan’t proes gaan. En dis maar een van die talle tong-in-die-kies opmerkings vir dié wat fyn kyk.

Zirk sê sy indruk is dat die meeste lesers agter die storie aan lees en min gepla is met sinne en so aan. “Ek self geniet onderhoudende prosa en probeer sin vir sin só skryf dat daar vir lesers – en vir my as skrywer – benewens die oorhoofse storielyn ook deurlopende lekkertes in die vertelling is. Poëtiese elemente of onverwagte wendings of sienings is deel daarvan, en humor ook. Humor is ’n onontbeerlike deel van my lewe. In ons huis lag ons elke dag. As daar nie vreemdes by is nie, kan ek nogal simpel wees.”

Sy houding jeens die sosiale kommentaar is effens anders. “Ek het nie ’n boodskap nie. Aanvanklik sou hierdie bloot historiese speurverhale wees, maar ek het gevind ek kon die politieke omstandighede van daardie tyd nie ignoreer nie. Die politiese kleur wat die stories gekry het, was vir my onverwags. Ek beplan beslis nie sosiale kommentaar nie en weet nie genoeg om te preek nie. Ek probeer so goed moontlik verstaan wat aangaan en dink my in hoe die omstandighede die mense raak. Ek kies kant vir mense, teen wreedheid en idees wat daartoe lei.”

Hy sê hy het nog nie kritiek ontvang oor sy sosiale kommentaar nie, maar as daar wel kritiek is, kan dit van enige kant van die politieke spektrum af kom. “Solank mense die geheel oorweeg eerder as om op een of ander besonderheid vas te steek, het ek vrede daarmee.”

Voor ons groet, wonder ek waaraan hy tans werk. Hy sê daar kom volgende jaar nog ’n historiese storie uit wat in Namibië afspeel, maar dis iets van ʼn gans ander aard; ’n ligte lekkerleesstorie met Nazi’s in die Namib en ’n sterk streep wetenskapsfiksie.

“My hoop is dat daar iets omtrent my boeke is wat mense nog van hulle wil laat lees, maar ek skryf nie altyd in dieselfde genre nie. Dit hang af wat my verbeelding gaande maak, wat vir my na iets lyk wat lekker sal wees om te lees.”

Ek volstaan met Johan Myburg se kommentaar op Maroela Media oor Zirk se skryfvermoë: “’n Mens kry die gevoel dat hy nie oor die omgewing skryf nie, maar vanuit die omgewing …”

Die drie boeke in kort:

Die vertes in:

Die tengerige Siegfried Bock kom as soldaat na die protektoraat om sy staal te wys, maar hy word gou ontnugter. Lisbeth Löwenstein is hier om met ’n man te trou wat sy skaars onthou. Mordegai Guruseb ontsnap uit ’n konsentrasiekamp waar gevangenes van ontbering omkom. Dan is daar ook die mislukte dokter Albert Pitzer wat hoop om data te versamel wat sy teorieë staaf. Alvaus Luipert, ’n plaaslike skoolmeester, duld egter nie sy vernederende metodes nie.

Tweegevreet:

In Julie kry Siegfried te make met ’n plaaslike boer se grudood, spoke uit sy verlede en ’n Berlynse besoeker wat ’n dodelike wrok koester. Hy worstel met Duits-Suidwes-Afrika se onstuimige politiek en ongenaakbare natuur. As hy geregtigheid wil laat seëvier, moet hy dít, asook strominge in sy eie gemoed, te bowe kom.

Een of ander held:

Daar is helde en hélde. Mense met die moed van hulle oortuiging. Mense met twyfel. Dié met gewere, dié met regulasies en dié met ideale.

Voor ’n groot moordverhoor in November bestempel ’n Windhoekse koerant Siegfried as ’n nuwe soort held. Die beskuldigde se advokaat stel Siegfried egter in ’n heel ander lig, en skep gevolglik agterdog wat sy goeie naam en toekoms bedreig. Boonop is sy voormalige bevelvoerder, oberleutnant Berghammer, en die Namakryger, Jager Orlam, albei daarop uit om Siegfried te laat boet – die een oor sy soldate se dood, die ander oor ’n opstandeling s’n. Dan is daar die burokraat Stauffacher met sy skreiende planne vir Siegfried en die ganse Duits-Suidwes-Afrika.

Die strop trek ál nouer om Siegfried se nek. Hy sien nie uitkomkans nie. Maar daar móét een wees, veral noudat liefde vir hom wink …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

apollonio ·

En hier sit ek tans in Uis, Namibie, die wind waai en die stof trek deur die uitmekaar gebrande gordyne en verdroogde deurkoesyne. Zirk was die inspirasie wat ek nodig gehad het om die gedagtes van “ek moet huistoe” weg te toor. Die wereld is dor, droog, maar onder al die ongenaakbaarheid is daar ‘n volslae hemel op aarde.

Jan Seerot ·

Onder die sopnat uitspansel, wonder ek vanmôre waar ek die krag gaan kry om die voer uit te sit. Die helder, waaksame geel oë van die lêhenne kyk my uittartend aan. “Jy wonder verniet, witman. Jy hoort nie in hierdie land nie. Waar water uit die hemele giet en jy die damp inasem.” Dis om van te verstik. Hierdie goddelose land. Waar sy my gelos het en gedros het na ‘n stad ver in die suide.

Jan Seerot ·

Geagte Stephan, los hom uit. Dit is die tipe karakter wat hom verkyk aan ander lande se volksdanse en dan Volkspele kultuurspronge noem. Met die mentaliteit van ‘n oorryp veselperske en die kultuur van ‘n vrek gloeilamp, gaan daar van jou argumente dadels kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.