Zuléka Smit ken ’n kind se hart

Zuléka Smit (Foto: Verskaf)

As jy Ben en die boelies drie keer agter mekaar vir jou vierjarige kleinkind moet lees, weet jy die skrywer ken die hart van ʼn kind.

Ben en die boelies is die jongste boek deur hierdie gewilde kinderboekskrywer wat ʼn kindertuinonderwyseres en self ʼn ma van twee is.

Die hoofkarakter in hierdie prenteboek, met illustrasies van Johann Strauss, gaan maar langtand skool toe.

Die rede? Daar is nie net een nie, maar twee boelies, drie keer so groot soos hy, ʼn identiese tweeling met rooi hare en groen oë wat hom aanhoudend teister en net eenvoudig nie sy kosblik kan uitlos nie. Mamma herinner Ben daaraan dat hy nooit hoef bang te wees as Jesus by hom is nie en dat daar ander maniere is om boelies te hanteer.

Zuléka Smit se storie bespreek die sensitiewe tema van boelies, veral by skole, en is gebaseer op haar baie jare van ondervinding in die onderwys en ook haar ervaring met haar eie kinders.

Die skrywer is ʼn lief-vir-die-lewe-kindertuinonderwyseres en motiveringspreker met ʼn besondere liefde vir jongmense en skryf.  Oor waar haar belangstelling vir kinderboekskryf vandaan kom sê sy: “Ek was van kleins af lief vir ʼn mooi storieboek met kleurvolle illustrasies. Ek het toe al begin droom om eendag my eie kinderboek te skryf.”

Oor boeliegedrag en of sy dink dit neem toe sê sy: “Ek is nou nie hooggeleerd in die sielkunde nie, maar ek glo vas dat boeliegedrag nie iets is wat die boelie sommer een oggend uit sy duim suig en gou-gou met eerste pouse vir pret toepas op ʼn maatjie nie. Boeliegedrag dui op een of ander leemte of opgekropte emosie iewers by ʼn kind – of selfs grootmense wat boelie – wat ontstaan lank voordat ʼn voorval van boeliegedrag na vore kom. Jou tipiese boelie het iewers blootstelling aan een of ander vorm van geweld, gewoonlik in die familie, gehad of kon selfs iewers verwerping of verwaarlosing ervaar het.

“Ek glo dat jy byna altyd hierdie negatiewe optrede kan opspoor as iets in die boelie se verlede wat met hom gebeur het of wat die boelie iewers in hul verwysingsraamwerk ervaar het.

“Ons lewe in ʼn snelveranderende wêreld waar ons kinders reeds van jongs af met die druk van ʼn gejaagde leefwyse te doen kry wat ons, as die ouer garde, eers heelwat later in ons lewe mee te doen gekry het.

“ʼn Voorbeeld is snelle tegnologiese vooruitgang, die internet, ons hedendaagse ‘kennis-ontploffing’ wat veroorsaak dat ons almal, en soveel te meer ook ons kinders, net nie altyd kan byhou met die gejaagdheid in ons huise nie.

“Ben en die Boelies” (Foto: Verskaf)

“Konflik in die gesin weens toenemende eise op jong ouers, die gejaag na prestasie en selfs oorlewing in ons ondernemings sowel as die strewe om te presteer, veroorsaak dat ons kleintjies aan ʼn harder en aggressiewer leefwyse blootgestel word.

“Ons kinders voel maklik afgeskeep, aanskou onaanvaarbare maniere van konflikhantering, al is dit net op die internet en in speletjies waaraan hulle blootgestel word. En dit alles vertolk ʼn rol in hoe hulle hulself by die skool, in die klas of selfs op die speelgrond handhaaf.

“En ja, ek is daarvan oortuig dat boeliegedrag toenemend voorkom; ook onder ons jonger kinders. Boeliegedrag raak ook amper meer geslepe, meer gevorderd.

“Ek weet van dogters by ʼn meisieskool wat ʼn individu sal uitsonder as sy pouse ʼn standaard tuisgemaakte ham-en-kaastoebroodjie sal eet, bloot omdat dit nie ʼn gekoopte fynproewers-toebroodjie of voorafvervaardigde geriefskos is nie.”

Oor hoe sy as kleuterskoolonderwyseres boelies hanteer, sê sy dis altyd moeilik en dit verskil van geval tot geval. Dis belangrik dat die regte prosedures gevolg word.

Oor die persepsie dat dit maklik is om kinderboeke te skryf, sê sy: “Dit lyk dalk op die oog af maklik, maar dit neem nogal tyd om die les deur die boek te trek en die kind se aandag te behou om verder te wil lees. Die kind moet aanklank vind by die karakters en dit kan nogal ʼn uitdaging wees.”

Sy vertel dat sy gedurende Desembervakansies in hul woonwa op Onrus die lekkerste skryf.

Sy beskryf haar eienskappe soos volg: “As juffrou: passievol oor Jesus se pêrels. As mens: om om te gee en vir Jesus lief te wees. As skrywer: om ʼn verskil te maak.

“Ek skryf oor dit wat Jesus op my hart lê en Luca laat my toe om Jesus se boodskap in my boeke bring. Ek het ook die voorreg en vryheid om met ʼn ongelooflike span te werk wat my toelaat om my eie ding te doen. Aan die einde van die dag is dit Jesus se boeke.

“Alle eer aan Hom.”

Zuléka het haar loopbaan by Klein Boishaai in die Paarl begin waar sy reeds die afgelope 15 jaar haar lewe daaraan wy om klein kinders voor te berei en ʼn stewige basis in hul lewens te lê.

Sy is by uitstek ʼn gesinsmens en is getroud met Johan. Hulle het twee pragtige kinders, Karli (16) en Heini (15).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.