‘Borrelvoos’, ‘virusvetjies’ gewild in 2021

(Foto: Anna Tarazevich/Pexels)

Pharos het in 2021 elke maand vir gebruikers gevra om vir hulle gunstelingwoorde te stem en nuutskeppings was keer op keer die gewildste.

“Bioborrel”, “kokonkoors”, “mengels”, “pandemie-pê” en “plekspeld” is van die woorde en nuutskeppings waarvoor gebruikers deur die jaar gestem het en dit is ook enkele van die gewildste woorde wat vanjaar meeding om Pharos se woord van die jaar te word.

Die uitgewer het onlangs ʼn lys met 2021 se top-30 woorde gekies en gebruikers kan nou vir hulle gunsteling stem. “Aabbagemeenskap”, “blink-in-die-skuld”, “boewekrasie”, “borrelvoos”, “deernistoegang”, “deernisverlof”, “empatie-uitputting”, “grendelnood”, “groenpoetsery”, “huiskos”, “infodemie”, “kletsbot”, “kokonbestaan”, “maskerpouse”, “opsitwerf”, “opwipwinkel”, “skermmoegheid”, “skolliepatrollie”, “son-onnertjie”, “stroomvermaak”, “trolfabriek”, “tsotsolitikus”, “uitgezoem”, “virusvetjies” en “virusvoos” het ook dié lys gehaal.

Gebruikers het tot 15 Desember kans om vir tot vyf woorde te stem in die kommentaarfadeling van ʼn Facebook-plasing op Pharos se blad.

Een gelukkige persoon kan ʼn Pharos-geskenkpak wen wat uit ʼn Tesourus van Afrikaans, Afrikaanse Woordelys en Spelreëls en Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom saamgestel is.

Pharos Woordeboeke het sedert die stigting in 1996 gepoog om tred te hou met die vinnig veranderende behoeftes van Suid-Afrikaanse woordeboekgebruikers. ʼn Span toegewyde leksikograwe ontwikkel voortdurend nuwe produkte wat die volle kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse taallandskap weerspieël.

Pharos se woordeboeke is op NB-Uitgewers se webwerf beskikbaar of gebruikers kan op PharosAanlyn registreer om die woordeboekversameling digitaal te gebruik.

PharosAanlyn is ʼn versameling aanlyn algemene en vakwoordeboeke. Dit is ʼn omvattende naslaanbron vir elkeen wat doeltreffend in Afrikaans, Engels en ander tale wil kommunikeer. Dié versameling sluit ʼn wye verskeidenheid van tegniese woordeboeke in en word deurlopend aangevul wanneer nuwe titels verskyn.

Nog nuutskeppings en woorde waarvoor gebruikers vanjaar gestem het, maar wat nie die top-30 gehaal het nie, sluit in “afstandleer”, “armoedepandemie”, “betalingsvakansie”, “briljantjie”, “deugpronker”, “hommeltuigswerm”, “jip-jap”, “onheilsnuffel”, “slimstad”, “toekomsbestand”, “winkelwoede” en “Zoom-voos”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.