Brief aan Afrikaanse jongmense: Die toekoms is Afrikaans!

uprising-betoging-Tuks

Een van die lede van die #UPrising-beweging. Foto: ANA

Liewe vriende

Die afgelope tyd is die media propvol berigte oor aanvalle op Afrikaans op universiteitskampusse. Baie van julle wonder seker al of daar nog ’n toekoms vir Afrikaans is, en of jou taal op universiteit nog enigsins belangrik is. Daarom het ek met hierdie brief twee doelwitte. Eerstens wil ek kortliks agtergrond oor die taalkwessie aan julle gee. Tweedens wil ek “sewe toekomskaartjies” van Afrikaans met julle deel om my siening te regverdig dat die toekoms steeds Afrikaans is.

In 1976 was die swart jeug se kreet “óns wil nie in Afrikaans leer nie”. Veertig jaar later is dit “júlle mag nie in Afrikaans studeer nie”. Dis óns wíl nie, teenoor júlle mág nie. Hierdie twee krete is wêrelde van mekaar verwyder. Die een was op die oog af ’n stryd vir demokrasie, die ander ’n openlike stryd teen ander se demokratiese regte. Die 1976-geslag het in die naam van hul eie vryheid geveg, die 2016-geslag veg teen Afrikaanse studente se vryheid om hulle taal en kultuur uit te leef.

Die eerste kreet was die voorspel van “liberation before education”. Dit het ’n groot rol gespeel om die onderwys en indiensneembaarheid van ’n hele geslag jong swart mense te ondermyn. Vandag is die kreet “transformation before education”, waardeur die volgende geslag hul eie toekoms ondergrawe. Dit lyk of nóg ’n betekenisvolle groep jong swart mense die boot wil sink waarin hulle self moet vaar. Maar as ons kyk na wat die ANC se “1976-geslag” intussen met die land gemaak het, blyk dit terugskouend dat 1976 meer oor mag as taal gegaan het. Nie oor politieke regte nie, maar oor politieke mag. Soos Breyten Breytenbach in sy kritiek op dr. Van Zyl Slabbert gesê het: “[Slabbert] did not realise that the ANC is neither about building a new nation nor about reconstruction and development, but about divvying up the spoils of victory.” ’n ANC-woordvoerder, Smuts Ngonyama, het dit reguit gestel: “Ek het nie gestruggle om arm te wees nie.”

Vryheid deur Afrikaans!

Maar die feit is dat daar ’n nuwe stryd teen Afrikaans, studiegeleenthede vir Afrikaanse studente en die oorblyfsel van ’n Afrikaanse leefwyse op die histories Afrikaanse kampusse is. Soms word die stryd openlik teen Afrikaans en sy sprekers gevoer, soos die EFF by Tukkies. Meermale is die rassetransformasie van die universiteit die doelwit, en is perke op die toegang vir Afrikaanse studente en ’n stadige dood vir Afrikaans die voorspelbare gevolg. Die vraag is: Wat moet Afrikaanse jongmense se reaksie hierop wees? Die regte strategie is een van “Vryheid deur Afrikaans”, oftewel “Vryheid deur Afrikaanse onderwys en opleiding”. Die rede is dat goeie onderwys en opleiding vandag éérs die sleutel tot sukses is. Dit maak jong Afrikaners betreklik vry van drakoniese rassewette en is die oorsaak dat werkloosheid onder wit jong mense teen 12% steeds ’n breukdeel van die werkloosheid van 43% onder swart jong mense is.

Met goeie onderwys en opleiding kan en gaan Afrikaanse jong mense altyd vir julself kan sorg – deur werk te kry of deur selfindiensname soos ’n eie sake-onderneming. Julle moet net moed hou, want ’n ekonomie werk uiteindelik nie op ras nie, maar op kennis, vaardighede en harde werk. By hierdie werklikheid kan niemand verby kom nie, ook nie radikale politieke jeugdiges nie.

Sewe toegangskaartjies van Afrikaans

Afrikaanse universiteite is ’n “broodsaak” omdat dit oor baie meer as bloot taal gaan. Afrikaans gee aan jou die volgende sewe noodsaaklike toegangskaartjies vir jou lewenspad vorentoe:

  1. Afrikaanse onderwys en opleiding is jou toegangskaartjie tot studies

By Engelse “getransformeerde” instellings is Afrikaanse studente in die praktyk nie meer welkom nie. Kyk maar wat het reeds by die Universiteit van Johannesburg en tegniese universiteite en -kolleges gebeur. Natuurlik is toegang vir swart studente belangrik, maar toegang vir Afrikaanse studente ook. Indien Tukkies verengels, beteken dit dat daar in die hele Gauteng nie meer een openbare instelling oorbly waar Afrikaanse studente in hul eie taal kan studeer nie. Dit help nie die een groep se insluiting lei tot die ander groep se uitsluiting nie!

  1. Afrikaans is die enigste skans teen afrikanisering

Afrikaans is jou kaartjie na akademie en ’n lekker studentelewe sonder politieke inmenging. Rasseteikens wat die bevolkingsamestelling moet weerspieël, verander in die praktyk ’n universiteit in ’n politieke instelling. Afrikaans is ook die enigste volhoubare waarborg vir die loopbane vir Afrikaanse dosente en personeel, wat andersins deur rasseteikens uitgedun gaan word. Dis juis die verstaatliking van universiteite in Afrika wat tot hul ondergang gelei het.

  1. Dis jou kaartjie tot die beste opleiding

Genoeg studies het al bewys dat die beste opleiding in jou moedertaal gebeur. Dit stel jou in staat om jou kennis, waar nodig, in ’n tweede taal toe te pas. Duisende Afrikaners wat net in Afrikaans studeer en geleef het, beklee daarom nou topposte in Engelssprekende lande. Moderne Afrikaanse jong mense se Engels is weens die media, rekenaars en handboeke in elk geval baie goed. Jy sal dus maklik in die werkwêreld aanpas.

  1. Afrikaans is jou kaartjie tot hoë standaarde

Die verengelsing van instellings lei daartoe dat dosente en studente eerstens op grond van ras aangestel en gekeur word, in plaas van suiwer op meriete. Natuurlik is daar baie top- swart akademici en -studente, maar gedwonge rasseteikens word baie hoër gestel as hul beskikbaarheid. Wanneer dit gebeur, is standaarde die slagoffer, soos al by so baie ander staatsinstellings gebeur het. Daarom bly Afrikaans baie belangrik vir hoë standaarde.

  1. Afrikaans is jou “tuisvoel”-kaartjie

Die ondervinding by getransformeerde instellings het gewys dat Afrikaanse studente dáár nie net so tuis, veilig en welkom voel nie. Hierdie plekke se kultuur word al hoe meer onvriendelik vir Afrikaanse studente. Julle het net soveel reg op ruimtes waar julle kan tuis voel, wêreldklasopleiding kan kry, én ’n onvergeetlike Afrikaanse studentelewe kan geniet.

  1. Dis ’n winskoop kaartjie, want dit kos minder en jy leer meer!

Dr. Fernand de Varennes, die internasionale taalregtekenner van Kanada, se navorsing wys dat moedertaalonderrig gemiddeld 27% minder kos, omdat kinders beter daarin leer. Die hoër koste is te wyte aan die swakker prestasie en selfs herhaling van onderrig of van studiejare. Dan kom die nie-geldelike kostes nog by, wat soms onberekenbaar hoog kan wees. Dit is onbekostigbare “kostes” soos taalverwaarlosing, kulturele vervreemding en ontkenning van mense se kulturele vryheid, gelykheid en menswaardigheid.

  1. Afrikaans is jou toekomskaartjie

Afrikaanse onderwys en opleiding was nie verniet nie. Al het jy dit verniet gekry, het jou ouers en grootouers dit teen groot kostes en opofferings opgebou. Dis jou voorreg om dit nou te help bewaar en weer vir die volgende geslag aan te gee, sodat hulle dieselfde sewe kaartjies na sukses kan hê as wat jy kan kry.

Hierin staan jy nie alleen nie. Daar is ’n hele span sterk Afrikaanse organisasies wat saam met jou staan. Ons werk vir die toekoms van Afrikaanse universiteitsopleiding in die openbare én private sektor. Wees asseblief verseker van (onder meer) AfriForum, Solidariteit, die Helpende Hand, Akademia en Sol-Tech se steun vir julle toekoms – in Afrikaans!

  • Hierdie brief is oorspronklik op AfriForum se webwerf gepubliseer en word met die nodige toestemming hier gebruik.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Johann Marx ·

Afrikaanssprekendes staan op vir Afrikaans. Duitsers in SA staan op vir Duits. Die Portuguese staan op vir Portugees………So staan elke groep op vir sy moedertaal, sy kultuur en dit wat vir hom kosbaar is. Maar die swartes veg vir Engels…….Ek sê maar net.

John White ·

“Whenever you hear an African politician calling for “African solutions for African problems, you know that by “African solutions” he means a German car, English suits, Italian shoes, a clinic in London and, above all, education for his children in a European language.
The African leaders who have these self-doubts and who want their children to be taught in English are painfully aware that the Afrikaners have no such self-doubts, are proud of their culture and their language, and want their children taught in Afrikaans. Afrikaner pride shows up African doubt, and this infuriates a section of the black ruling classes. This explains their anger against Afrikaners teaching in Afrikaans at Afrikaans universities.”

thea ·

100% die waarheid,goeie opgestelde brief, kan sien die skrywer skryf met insig

Sarie ·

Kolskoot soos altyd Flip. Ironies dat Moedertaaldag hierdie week gevier is. Baie min is hieroor in die media gepubliseer. Die tyd is daar dat ons sal vasstaan en die wat Afrikaans as onderrigtaal wil bevorder al is ons in die minderheid moet daarmee voortgaan met al die middele tot ons beskikking. ‘n Land kan maklik geploeg word met ‘n paar gewillige osse as om te wag dat die halstarriges ook ingebreek word. As die vore eers begin blink lê sal die ander volg. Afriforum en Solidariteit vat voor! Julle is goeie touleiers en hierdie ou gryskop volg gewillig.

Ruby ·

Ons hoop is op Akademia.

Die wit dosente wat so geteister en aan die borste gegryp word, moet die spul los wat net wil afbreek en eerder by ‘n instansie soos Adademia aansluit.

Hopenlik is Akademia binnekort ‘n volwaardige universiteit wat alle diplomas aanbied.

Mattheus Frederik ·

My bors swell van trots. Die skrywe van jou, Flip, is ‘n juweel! Ek wil graag ‘n klip in die bos gooi. Dit is duidelik dat nie Afrikaanse studente nie wil studie, losies of vir kos wil betaal nie. Hulle wil ook nie studeer nie maar al die voordele van n slaap plek, vry kos ens wil geniet vir n onbepaalde tyd. Om die problem op te los stel ek voor ons gee hulle grade verniet dan moet hulle vort en gaan probeer werk kry. Miljoene Rande sal bespaar word!Die fyn skrif op sertikaat kan dalk net meld dat dit ‘n FOP graad is. Hulle sal nie weet waarvoor FOP staan nie want hulle kan nie lees nie!!
Groete
Oom Mattheus

Cindy ·

Ongelukkig my liewe oom gaan ons die geld spaar nie, want dan gaan hulle die werksplek aan die brand steek, omdat hulle bloot nie in staat sal wees om die werk wat in hulle skoot val te kan bemeester nie. Wonder wie se skuld is dit dat, want ” we don’t want to learn… we want to burn!!”

roné ·

Baie Suid-Afrikaners kyk hul vas daarin dat hierdie “geveg” gaan oor Afrikaans as onderrigtaal by Universiteite. 16 jaar terug moes ek al leer uit Engelse handboeke. Klasse was aangebied in Afrikaans én Engels. Die keuse was nog altyd daar. Swartes het toegang tot enige koshuis en kan nou tussen die blankes leef, soos hulle so graag wou. In hoe ‘n mate word hulle regte dan geskend? Hoe word hulle dan nou benadeel?
Ek sal julle sê…hierdie “geveg” gaan beslis nie oor ons taal Afrikaans nie, dit gaan oor ONS! Dit gaan oor die kleur WIT wat hulle wil wegvee. Hulle probeer dit doen agter verskuilde verskonings (dienste, salarisse, taalbeleid), terwyl die groot propaganda is om die massa op te sweep en die rassehaat aan te wakker! Dis tyd dat ons blankes wakker word en ophou probeer handjies vat!

jaco ·

Akademia is n privaat universiteit, so dis seker nog duurder as staatsuniversiteite. Met Afrikaans as onderrigtaal trek dit seker hoofsaaklik wit en bruin studente. Nou wonder ek maar net: as jy daar afgestudeer het en jy sit met jou graad en reusagtige studieskuld, gaan jy met jou wonderlike Akademia-graad werk kry as jou velkleur wit of bruin is? Wittes en bruines sonder kwalifikasies sukkel klaar om werk te kry weens regstellende aksie en BEE.

Johann Marx ·

Jaco, dink jy jy gaan met jou graad van die afgebrande NWU Mafikeng kampus werk kry? As jy twee beurs-aansoeke kry….een van ‘n Mafikeng PUK en een van ‘n Akademia blanke kind wat wil studeer……waar gaan jy jou geld belê? Suid Afrika se “nuwe jeug” is alreeds besig om te verander in ‘n miljoen “gegradueerdes” met NIEMAND wat kan werk nie……en hulle verstaan dit nie.

Henry ·

Jaco, siende dat jy so skepties oor Akademia se moontlike suksesse is, het jy seker ‘n baie goeie oplossing vir al die krisisse wat Afrikaanse studente by die onderskeie universiteite in die gesig staar.
Vertel tog en help dat ons wittes in die algemeen en Afrikaners in besonder, ‘n beter toekoms tegemoet kan gaan!!!
Onthou tog ook dat ons slegs 8% van die inwoners verteenwoordig, dat die oorgrote meerderheid studente van die 8% nie bereid is om iewers aan die walle van die Oranjerivier te woon en te studeer nie en dat niemand langer daarin gaan slaag om perdekuttels as vye aan die studente of hul ouers te smous nie.

Johan 2 ·

As jy hard werk sal jy altyd werk kry. Veral in SA as jy n kwalifikasie het in jou moedertaal. Ons is puik in ons tweedetaal en funksioneer baie goed daarin, vergelyk dit met opgeleide franse wat maar lekker kan sukkel met brits. My raad : werk hard en studeer in Afrikaans op n plek waar jy welkom is.

Simon ·

Dit is n baie goeie brief, maar kom ons wees eerlik met mekaar. Die gebeure van die afgelope tyd is in werklikheid n aanval op die blanke volk van Suid Afrika. Ons taal word net gebruik as motivering vir hulle gedrag en dade. Ons taal en kultuur bly in die slag, maar dit is nie die werklike doelwit waarna die barbaarse nasie streef nie.

Marius ·

Kom ons beledig nie bevolkingsgroepe en noem hulle ‘n barbaarse nasie nie. Jy moes sekerlik gesien het hoe swart en wit studente op kampusse bymekaarkom teen die “barbaarse gedrag”. As jy ‘n hele nasie as barbaars beskryf moet jy maar liewer elders in die wêreld gaan bly. Dis radikale EFF en ANC ondersteuners. Dis al. Ons leef elke dag in harmonie saam met alle bevolkingsgroepe. Misdadigers soos die EFF wil hê ons moet polariserende taal gebruik om te bevestig hoe rassisties ons is, sodat dit hulle agenda kan bevorder. Moenie val daarvoor nie. Moenie die mense waarmee jy elke dag oor die weg kom as barbaars beskryf nie. Mense met ‘n agenda sal chaos veroorsaak en hulle gee nie om wie seerkry daardeur nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.