Chris Karsten, Sophia Kapp wen ATKV-Woordveertjies

Die Otto Stigting ontvang vanjaar se ATKV-Woordveertjie vir leesbevordering. (Foto: Verskaf)

In ʼn tyd waar sosiale interaksie deur die Covid-19-pandemie aan bande gelê is, het boeke die ideale geselskap geword.

“Dit is vir die ATKV ʼn voorreg om uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord te bekroon. Die voorafgaande kalenderjaar is een wat vir ewig in die geskiedenisboeke opgeteken sal word en ons glo dat die wenners van die ATKV-Woordveertjies bygedra het om ʼn moeilike tyd meer draaglik te maak.

“Die ATKV is dankbaar vir elke skrywer wat vir Afrikaanse lesers die geleentheid gee om hul horisonne te verbreed, al was dit net met reise op die rusbank. Baie geluk aan elke wenner,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.

Prys vir leesbevordering

Die Otto Stigting, wat talle biblioteekprogramme in voorheen benadeelde gemeenskappe bestuur, ontvang vanjaar se ATKV-Woordveertjie vir leesbevordering. Dié prys bekroon projekte wat gemik is op die bevordering van ’n leeskultuur onder kinders en jongmense.

“Die toekenning gee vir ons ʼn geleentheid om ons werk met ʼn breër gehoor te deel, en om bewustheid van die belangrikheid van leesgenot te skep,” sê Frouwien Bosman, besturende direkteur van die Otto Stigting.

Volgens haar is die volhoubaarheid van hulle projekte en aktiwiteite afhanklik van eksterne donateurs.

“Ons hoop dus ook dat die erkenning en blootstelling wat die ATKV-Woordveertjie vir die Otto Stigting gee, ander organisasies en finansiers sal aanmoedig om in die toekoms saam met ons te werk.”

Die organisasie het sedert 2016 drie skoolbiblioteke in Distrik Ses in Kaapstad gevestig.

“Die Otto Stigting fokus op die daarstelling en bestuur van biblioteke, en die implementering van leesprogramme. Ons glo dat die fondament van ʼn kind se skoolloopbaan sy vermoë is om met begrip te kan lees. Kinders moet kan lees om te leer,” sê Bosman.

ATKV-Prosaprys

Die ATKV-Prosaprys word vanjaar aan Willem Anker toegeken vir Skepsel (Queillerie). Francois Bekker, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe was die keurders in die kategorie.

Skepsel is ʼn meesleurende roman wat die leser konfronteer en uitdaag. Stilisties is dit ʼn kreatiewe teks met drie verhaallyne wat ʼn verrassende filosofiese geheel vorm. Die reikwydte van die verhaal is verbluffend. ʼn Verhaal met ongelooflike gravitas, maar ook sardonies en deerniswekkend.

Die keurders skryf: “Skepsel is ʼn kragtoer van skryfvaardigheid, intelligensie, intellektualiteit en ʼn ensiklopediese kennis van pop-kultuur. Hiermee sing Anker voor in die koor op die groot verhoog en plaas daarmee Afrikaanse letterkunde ook daar.”

Prys vir spanningslektuur

Die versoeking van Thomas Maas deur Chris Karsten het die prys vir spanningslektuur gewen. Vanuit die staanspoor integreer Karsten uiteenlopende taalregisters op soomlose wyse sonder om ooit die aandag van die sentrale spanningslyn af te lei. Sy navorsing is omvattend en onberispelik, sy taalgebruik ʼn vreugde en die vrae wat sy roman vra, uitdagend en interessant. Die versoeking van Thomas Maas is ʼn roman wat die leser se aandag nie net enduit behou nie, maar dit ook dubbel en dwars beloon.

“Die manier waarop Karsten die verhaal inlui, maak dat die leser aanhou lees, want jy wil weet wat die uiteinde is. Die verhaal is spanningsvol en innoverend geskryf, en breek deur die normale, ‘afgesaagde’ spanningsroman resep,” meen die keurders.

Hulle sê verder dat die karakters in Die versoeking van Thomas Maas veelvlakkig en oortuigend is en die verhaal geloofwaardig aangebied word. Wat verras is hoe glibberig die karakters met die waarheid omgaan, niemand vertel leuens nie – net nie die volle waarheid nie.

Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen het dié kategorie beoordeel.

Niefiksieprys

Die niefiksieprys word toegeken aan Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949 – 1981 wat deur Stephanus Muller en Stephanie geskryf en deur Protea Boekhuis uitgegee is. Die keurders was Jean Meiring, Martie Retief-Meiring en Bettina Wyngaard.

Die briefwisseling tussen Arnold van Wyk en Anton Hartman werp nie net lig op ʼn vriendskap nie, maar gee die leser ook ʼn binneblik op die groei van Afrikaanse klassieke musiek. Die skrywes vang die tydsgees vas: sosiaal, maatskaplik en selfs polities. Die komponis en dirigent se persoonlike insigte, vrese, afkeure en interpretasies is vir die leek én die musikus vars en stof tot nadenke.

Die keurders skryf: “Dit is ʼn waardevolle bydrae tot ons kennis van Afrikaanse komponiste en ʼn bloeityd in musiek –  deur wat vasgelê is, maar ook selfs deur wat bewustelik agterweë gelaat is. Uiters leersaam. Outentieke taalgebruik, keurige verpakking en die weldeurdagte samestelling van die briewe maak vir ʼn toeganklike, genotvolle leeservaring.”

Prys vir poësie

Die poësieprys is vanjaar aan Johann de Lange toegeken vir sy bundel Die meeste sterre is lankal dood (Human & Rousseau).

“Verrukking en melankolie gaan hand aan hand in hierdie uitstaande digprestasie deur De Lange. Die bundel getuig nogmaals van De Lange se sonderlinge vernuf om komplekse onderwerpe laag vir laag te stroop en opnuut helder te laat weerklink,” meen die keurders.

Diana Ferrus, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen het die kategorie beoordeel.

Prys vir ʼn dramateks

Marina Griebenow, Theo Kemp en Ilse Oppelt was die beoordelaars vir die prys vir ʼn dramateks en die prys gaan vanjaar aan Droomwerk deur Pieter Odendaal.

Volgens die keurders is Droomwerk die tipe teks wat oënskynlik soomloos vloei tussen wydsbeen wêrelde: die intens-persoonlike en die universele, vlae verledes en die hede; waansin en waarheid, droom en werklikheid; Afro- en Eurosentrisme.

“Die drama sluit aan by ʼn brandende hedendaags Suid-Afrikaanse diskoers waaroor ons nog nie naastenby uitgepraat is nie, naamlik ons begrip van ons kollektiewe (en individuele) verlede en aandadigheid om ons hier-en-nou te verstaan,” sê die keurders.

Odendaal se gebruik van taal fassineer deurgaans, meen die keurders. Die Afrikaans wat hy in die monde van sy karakters plaas, dek ʼn wye spektrum van die taal, maar wys terselfdertyd dat Afrikaans nie gepraat kan word sonder die invloed van al sy gemeenskappe en ander tale nie.

(Foto: Maroela Media.)

Woordwystoekenning

Die rol van woordboeke en taalgidse kan nie onderskat word nie en daarom bekroon die ATKV elke jaar een van dié boeke.

Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is deur Willem Botha, Rufus Gouws en Marné Pienaar beoordeel en is aan Eleanor Cornelius vir Gewone Taal: ’n Oorsig (SUN PReSS) toegeken.

Afrikaans beskik oor verskeie bronne wat leiding oor praktiese taalgebruik bied. Cornelius se boek vul egter ʼn spesifieke leemte in die mark en illustreer hoe ingewikkelde tekste in gewone taal omskryf kan word sodat dit verstaanbaar is vir die gewone leser.

ʼn Wye verskeidenheid lees- en skryfprobleme word bespreek. Moeilik verstaanbare bewoording wat byvoorbeeld deur banke gebruik word, dien as voorbeelde met duidelike aanduidings hoe hierdie bewoording vereenvoudig kan word om dit maklik leesbaar en verstaanbaar te maak.

Met hierdie nuwe fokus, uitstekende inhoud en die verklaring van die begrip, gewone taal, is ʼn broodnodige, praktiese handleiding geskep wat die versameling taalhandleidings vir Afrikaans vernuwend verryk.

Prys vir romanses

Die ATKV-Woordveertjie vir Romanses is aan Elize Davies toegeken vir Liefste rooikop wat by Lapa Uitgewers se Romanza-afdeling verskyn. Sophia Kapp het die prys vir liefdesromans gewen vir Kanaän, wat ook by Lapa Uitgewers verskyn.

Die keurders skryf oor Liefste rooikop: “Die emosionele spanningslyn word aangevul deur humoristiese insidente en interessante karakters. ’n Heerlike leeservaring.”

Oor Kanaän skryf die keurders: “Dit is ʼn meesterlike, puik nagevorste roman met lewensgetroue karakters wat diep in die leser se hart inkruip. Belangrike temas soos vergiffenis, vooroordeel, naasteliefde en oorlog met al sy wreedheid vorm die agtergrond van hierdie woordskildery, sonder om die liefdesverhaal te oordonder.

“Kapp se taalgebruik is bekoorlik, genuanseerd en poëties. Die tyd rondom die Tweede Wêreldoorlog en die lewe op ʼn boereplaas is goed nagevors. Die gebeure in Europa het ʼn direkte impak op wat op die plaas gebeur. Kapp het die omstandighede wat daardeur geskep is soomloos by haar verhaal ingewerk, sodat ʼn mens begrip kan hê vir hoe die mense van daardie tyd dink en doen.”

Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Amanda Claasens het die romanses beoordeel en Malene Breytenbach, Shireen Crotz en Ilse Salzwedel die afdeling vir liefdesromans.

ATKV-Kinderboektoekennings

Dié toekennings word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke te bekroon wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Boeke wat vir die pryse in aanmerking kom, word deur jong lesers self beoordeel en dit onderskei hierdie projek van alle ander toekennings.

Die jongspan se keuses vir die beste kinderboeke van die jaar is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR en graad 1

  • Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Moenie die melk vergeet nie
  • Illustreerder: Linki Brand (Lapa Uitgewers) – Magriet die stadshoender

Selfleeskategorie: Graad 2 en graad 3

  • Skrywer: André Trantraal (Lapa Uitgewers) – Keegan en Samier: Die sokker-fiasko
  • Illustreerder: Tumi K. Steyn (Pan Macmillan SA) – Minki in die middel

 Selfleeskategorie: Graad 4 en graad 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Oupa Zombie
  • Illustreerder: Theodore Key (Pan Macmillan SA) – Oupa Zombie

Selfleeskategorie: Graad 6 en graad 7

  • Skrywer: De Wet Hugo (Human & Rousseau) – Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf

Selfleeskategorie: Graad 8 tot graad 10

  • Skrywer: Fanie Viljoen (Lapa Uitgewers) – Offers vir die vlieë

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Ek het Die versoeking van Thomas Maas ongelooflik baie geniet. Sal dit verseker aanbeveel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.