Debat oor Afrikaans aan US is verby

dr-conrad-steenkamp-afrikaanse-taalraad

Dr. Conrad Steenkamp hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Foto: Twitter.

Deur Dr. Conrad Steenkamp 

Enigiemand wat sukkel om die uitmergelende stryd oor die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid te verstaan, het my opregte simpatie. Hoe meer woorde, hoe minder duidelikheid.

Onlangs nog argumenteer prof. Arnold Schoonwinkel byvoorbeeld in Die Burger dat Afrikaans veilig is aan die US en dat diegene wat anders beweer, ’n onwaarheid verkondig.

Die rektor bevestig self by verskeie geleenthede dat Afrikaans “nêrens” heen gaan nie en ’n plek aan die US het. Die US wil ’n “meertalige” instelling wees wat niemand op grond van taal uitsluit nie.

Word Afrikaans aan die US dan nou behou, of uitgeroei, soos ander sê? Wie moet ’n mens glo?

’n Belangrike bestepraktykbeginsel vir ’n goeie beleid is dat almal wat deur ’n beleid geraak word, dit maklik en op dieselfde manier moet kan verstaan, iets waaraan die US se taalbeleid duidelik nie voldoen nie.

Trouens, by die lees van Schoonwinkel se uiteensetting dink ’n mens onwillekeurig aan daardie straatdobbelspel met die drie koppies wat so behendig heen en weer geskuif word.

Daar is ’n boontjie onder een van die koppies, maar watter een? Laat my toe om te verduidelik.

Meertaligheid ’n flouswoord

Bestepraktykbeginsels vereis dat ’n goeie beleid nié primêr moet fokus op die metodes waarvolgens dit in werking gestel moet word nie, maar eerder om duidelike en meetbare doelwitte te stel. As iets nie meetbaar is nie, kan jy dit immers nie bestuur nie.

Die US se taalbeleid bevat egter geen sodanige doelwitte nie. Dit fokus ook hoofsaaklik op die meganismes wat – waar “redelikerwyse uitvoerbaar” – in die lesingsale gebruik sal word om “meertaligheid” te bevorder. Die Afrikaanse boontjie lê dus onder ’n koppie met die naam “bevordering van meertaligheid”.

Die “meertalige” lesings word “minstens in Engels” aangebied met bykomende materiaal en ondersteuning in Afrikaans. Presies hoeveel Afrikaans in sulke lesings gebruik word, weet ’n mens egter nie, want die US voer die buitengewone argument aan dat dit onbillik teenoor dosente sou wees om taalgebruik in die lesingsaal te meet.

Elke lesingsaal word hierdeur in ’n onpeilbare “swart boks” omskep waarbinne “meertaligheid” ongesiens sy geheimsinnige gang baan.

Nes Schrödinger se kat is Afrikaans in enige betrokke lesingsaal te eniger tyd terselfdertyd springlewendig én morsdood. ’n Mens moet dus glo die boontjie is onder die koppie, hoewel ’n mens nooit seker kan wees dat dit werklik die geval is nie.

Uiteindelik blyk dit dat die blote uitdeel van ’n Afrikaanse opsomming aan die einde van ’n lesing sou voldoen om dit as “meertalig” te laat geld. Wat die US met “meertalig” bedoel is dus duidelik nie wat die gemiddelde leser of ’n taalkundige daaronder verstaan nie. Dis dus ’n flouswoord wat die afskaling van Afrikaans na ’n minderwaardige hulptaaltjie vir eerstejaars moet verbloem.

Geen Afrikaanse boontjie nie

Daarby is hierdie minimalistiese aanbod ook nog onderhewig aan die woordjies “indien redelikerwys uitvoerbaar”. Die bewoording, geleen uit die Grondwet, klink redelik, totdat ’n mens merk dat die taalbeleid geen meganismes bevat om die “redelike uitvoerbaarheid” van Afrikaans te handhaaf of uit te bou nie.

Die beleid kon dus net sowel gesê het “as ons lus is” – dit sou dieselfde gewig gedra het.

Die “plek vir Afrikaans” aan die US is as skyn ontbloot. Om enigiets anders te glo is om in die rook rond te draai. Daar is geen Afrikaanse boontjie onder enige van die drie koppies nie.

Die debat oor Afrikaans aan die US is verby.

Die US kon kwalik so ’n kriptiese en tegnies onvoldoende beleid per abuis ontwikkel het en ’n mens kry die indruk dat die beleid nie primêr as ’n instrument vir die volhoubare bestuur van taal aan die US bedoel is nie.

Dit is veel eerder iets waarmee gevegte in die hof baklei en gewen kan word.

’n Mens verwag van beleidmakers om eerlik te wees oor wat hulle met ’n beleid beoog, deels omdat dit dan moontlik is om die impak van die beleid op alle belanghebbers te beoordeel.

In die geval van die US se taalbeleid word Afrikaans as akademiese taal onherroeplike skade berokken met gevolglike skade aan moedertaalonderrig in alle inheemse tale.

Die verengelsing van die US sal ook die reeds bestaande strukturele diskriminasie by die universiteit teen Afrikaanssprekendes uit kwesbare en veral bruin en plattelandse gemeenskappe verdiep – en daarmee bydra tot hul algemene kulturele, maatskaplik-ekonomiese en politieke marginalisering.

Die volle ekonomiese, kulturele en maatskaplik-ekonomiese koste van die US se taalbeleid moet nog bepaal word. Nietemin is dit reeds duidelik genoeg dat die US besig is om die drome van derduisende ouers en kinders op ’n beter toekoms te vernietig.

Die enigste raad wat oorbly, is vir die sprekers van Afrikaans in hulle volle diversiteit om op te staan.

Bestepraktykbeginsels waaraan die US-taalbeleid gemeet kan word

  1. Verstaanbaarheid: Beleid moet deur almal wat daardeur geraak word, verstaan word;
  2. Doelgerig: Beleid moet duidelike en meetbare doelwitte en teikens hê;
  3. Uitkomsgerig: Beleid moet op bedoelde uitkomste fokus sonder onnodige aandag aan die metodes waarmee dit bereik moet word;
  4. Opregtheid: Die bewoording van ’n beleid moet ’n eerlike uitdrukking van die beleidmakers se doelwitte wees;
  5. Inklusiwiteit en gelykheid: Almal wat deur die beleid geraak word, moet op ’n gelyke grondslag betrek word sonder om enige groep negatief te stereotipeer;
  6. Konsultatief en deursigtig: Belanghebbers moet op ’n deursigtige manier gekonsulteer word;
  7. Impakassessering: Die volle impak van ’n beleid op die belange van alle groepe moet so goed moontlik in ag geneem word; en
  8. Geregtigheid: Die belange van verskillende groepe moet op ’n regverdige en ewewigtige wyse gehanteer word.
  • Dr. Steenkamp is hoof van die Afrikaanse Taalraad. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid. Die Afrikaanse Taalraad is ʼn konfederale liggaam van Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies en bevorder die belange van Afrikaans en Afrikaanssprekendes in hul volle diversiteit binne ʼn meertalige konteks.
  • Hierdie artikel is oorspronklik op Netwerk24 gepubliseer en deur die skrywer aan Maroela Media verskaf vir publikasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Basson ·

Baie insiggewend (en teleurstellend), dankie.

“Tyd vir opstaan” – inderdaad!

Lampies ·

So stadigaan sterf ons taal uit en daarmee saam gaan ons kultuur en volkstrots ook verlore. Maar dalk sal Mmusi Maimane vir die behoud van Afrikaans intree? Of nee, hy sal nie: dit is ‘n verwerplike koloniale taal!

JC ·

Afrikaans=koloniale taal????????????! Regtig, Lampies? Ek DINK nie so nie, Afrikaans hier geanker en ontwikkel. Afrikaans=Afrikataal(albeit met ‘n Europese “flair”).
Engels EN FRANS, goeie vbe. van koloniale tale-afgedwing op Wes en Noord Afrikane(hulle moedertaal is nou nog Frans) vgl met SA waar ENGELS juis AANGENEEM wil word sonder dwang deur sommige swartmense, ten nadeel verbasend genoeg van hul eie tale, Engels word NIE op enigiemand AFGEDWING nie. Engels en Frans=Niks verander om dit ‘n Afrika-taal te maak of te “Afrikaniseer” nie, Engels het dan geleen by Afrikaans, wat in die eerste plek somtyds geleen het by ander Afrika tale. Afrikaans so ver van enigiets met koloniaal te doen as wat ek van ‘n doseerpos by ‘n staatsuniversiteit is, d.w.s. oksimoron! :) Jammer, indien ek bietjie oordadig voorkom, maar dit is net so goed jy se Afrikaners is koloniste wat belaglik is, soos Dr Dirk Hermann se, ons is HIER GEMAAK. Afrikaans op niemand afgedwing nie.(behalwe AS eksklusiewe TAAL vir WETENSKAPSGEBRUIK in swart skole in die vroeere jare). O ja, moenie vergeet van Litnet nie, hulle is ook ‘n noem werd vir verdienstelikheid en waarde toevoeging vir Afrikaans.

Gerhardus Petrus Padda ·

Ek het geen probleem met Afrikaners wat in Engels wil studeer nie. As hulle glo dit is beter vir hulle eie of hulle kinders se toekoms dan moet hulle dit doen. Dit is hulle lewe en hulle keuse.

Maar daar is min dinge in die lewe wat my so briesend maak as ander mense wat vir my wil voorskryf dat ek of my kinders in Engels MOET studeer om n toekoms te verseker. Wat my dalk nog meer kwaad maak is mense wat bedrog pleeg om hierdie doelwit te bereik. Om voor te gee dat Afrikaans “beskerm” word. Om te lieg en bedrieg. En dan is die meeste van hierdie mense seker nog “Afrikaners” ook. Skande.

Alumni ·

Onttrek alle alumni ondersteuning vannaf universiteite wat afrikaans of wit weggooi en gee eerder aan akademia en van die ander nuwe afrikaanse instellings. Dankie.

JC ·

Dankie Prof. Steenkamp vir die artikel, en vir jou ook Basson, EK STEM SAAM!
Straatgevegte sal ons nou moet begin baklei vir die VOLLE akademiese behoud, volhoubare groei, ontwikkeling en retensie van ons pragtige taal, kom wat wil.
Mens kan dit doen deur ‘n verskeidenheid of veelvuldigheid van taktieke, d.i. litigasie teen staatsuniversiteite waar hul versuim OM HUL GRONDWETLIKE PLIGTE na te kom m.b.t. moedertaalonderrig, ondersteuning van Afriforum(waarvan die FAK deel is), Solidariteit Helpende Hand(ondersteuning aan studente WAT IN AFRIKAANS STUDEER) die FAK self, ATKV, die Afrikaanse Taalraad, aanlyn bronne en hulpmiddels soos Viva, finansiele steun aan Akademia, Aros en die APA en nog meer! Wat veral van belang is, is die dringende uitbreiding van die privaat Afrikaanse universiteitswese, die ontrekking vanaf STAATSUNIVERSITEITE soos US, UV, UP, UNISA VAN finansiele steun, bemakings en testamentere bemakings en donasies, en die kanalisering van daardie donasies, gelde en finansiele steun aan DIE privaat universiteite soos Akademia, Aros en die APA, Indien die US nie sy plig teenoor Afrikaans nakom nie, soos wat hul stigtingsdonasie verklaring en voorwaardes vir die aanhou (finansiele bemaking en steun) daarmee vermeld en vereis, kan daardie geld weggeneem word vanaf US en na Akademia gekanaliseer word? Dit is iets wat beslis ondersoek moet word.

Conrad Steenkamp ·

‘n Prof is ek gelukkig nie, JC. ;-)
Groete
Conrad

Fanie ·

Baie goeie artikel! Die stiksienige US bestuur gaan Afrikaanssprekendes uitsluit- onder die vaandel van insluiting. Hier het ons die UWK-vervolgverhaal. Eers word die taal uitgeskuif, en daarna sy sprekers. Hierdie hoogs opgeleide onopgevoedes Afrikaanssprekendes van die US is nie ideologies toegerus om die universiteit se volhoubaarheid te verseker nie. Afrikaanse akademici se loopbane gaan ook nou deur kwotas ipv uitnemendheid bepaal word.

John ·

Hoekom dra die rektor van US en sy brawe trawante nie ‘n verhewe kenteken nie sodat almal kan buig as die edeles verbykom… iets soos ‘n wit doek om die nek of een aan ‘n stok… hoog bo hul koppe… nes die hensoppers van destyds aan die Kaap en gedurende die Boere-oorloe?

Simone ·

Dankie vir die skrywe. US het nie meer my geld of ondersteuning nie. Alles hier het verval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.