Deelnemers gesoek vir navorsingsprojek oor filosofiese begrippe

filosofie-denke-boeke-biblioteek

(Foto: Giammarco Boscaro/Unsplash.com)

Geografie van filosofie is ʼn interdissiplinêre en -kulturele navorsingsprojek wat die universaliteit en diversiteit in fundamentele filosofiese begrippe ondersoek. Mense se beskouings van kennis, insig en wysheid word wêreldwyd versamel deur middel van aanlyn vraelyste wat deelnemers in hul moedertaal invul.

Op eie bodem staan dié projek as “Filosofie in Afrikaans” bekend. Dit bied dus ʼn platform vir Afrikaanssprekers om ook hul stempel op die internasionale projek af te druk.

Prof. Veli Mitova, departementshoof van Filosofie aan die Universiteit van Johannesburg, is die Suid-Afrikaanse spanleier. Mitova werk saam met dr. Josien Reijer, ʼn post-doktorale navorsingsgenoot aan die universiteit.

“Afrika is dié opkomende, groeiende vasteland van die eeu,” sê Mitova. “Die projek bring mense bymekaar en dit bied juis ʼn ideale geleentheid vir die vasteland om saam te groei.”

Buiten vir Suid-Afrika word die projek ook deur sewe ander streke verteenwoordig: Oos-Europa, Ecuador, Indië, Japan, Marokko, Peru, en Suid-Korea. Adviseurs van die Universiteit van Waterloo in Kanada en die Universiteit van Oxford in Engeland neem ook aan die projek deel.

Die Geografie in filosofie-projek word deur drie Amerikaanse navorsers gelei: Edouard Machery, ʼn professor in geskiedenis en filosofie van die wetenskap aan die Universiteit van Pittsburgh; Stephen Stich, professor in filosofie en kognitiewe wetenskap aan die Rutger-universiteit en H Clark Barrett, professor in antropologie aan die Universiteit van Kalifornië.

Die sentrale vraag van die navorsing is of die betrokke filosofiese begrippe godsdienstige en kruiskulturele universele begrippe is wat met dieselfde betekenis deur mense dwarsoor die wêreld gebruik word, en of dit begrippe is wat deur mense op diverse wyses gebruik word.

Mitova beskou die dekolonisering van filosofie as ʼn opwindende aspek van die projek.

“Filosofie is een van die dissiplines wat aanvaar dat Westerse beskouings vooropgestel word. Deur dié aanname te bevraagteken ondermyn die projek een van die kragtigste instrumente van kolonialisering. Dit skep dus  ʼn teelaarde vir die bevordering van menslike kennis in Afrika.”

Weens die Covid-19-pandemie is die projek vir ʼn jaar onderbreek. Mitova sê dit het die span ekstra tyd gegee om hul navorsingsplan deeglik te ontwikkel en te versterk. Die projek se finansiering is boonop verleng tot die einde van 2022.

“Die John Templeton-stigting het aanvanklik $2,5 miljoen (ongeveer R42 miljoen) beskikbaar gestel, maar dit verhoog na $3,1 miljoen (ongeveer R52,5 miljoen). Dit is ʼn verstommende bedrag vir ʼn akademiese navorsingsprojek van dié aard.”

Wil jy graag ʼn bydrae lewer? Klik hier om deel te neem of volg die Filosofie in Afrikaans-projek op Facebook of Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.