DEKAT vier 30ste verjaardag

DEKAT vier sy 30ste verjaarsdag by The Showroom (Stellenbosch) (Foto verskaf aan Maroela Media)

DEKAT vier sy 30ste verjaarsdag by The Showroom (Stellenbosch) (Foto verskaf aan Maroela Media)

Die tydskrif DEKAT het saam met 30 van Suid-Afrika se skrywers hul 30ste bestaansjaar by The Showroom met ’n Bacchusmaaltyd gevier.

Die land se gunsteling-skrywers het by ’n lang eklektiese feestafel aangesit en stories en gesprekke met mekaar gedeel.

Elzilda Becker, die uitgewer van die tydskrif, en Gerard Scholtz, die tydskrif se boekeredakteur het as seremoniemeesters opgetree. Gaste kon van die heerlike kos geniet, terwyl hulle oor ’n glasie Leopard’s Leap-wyn, wat die La Motte-wynlandgoed beskikbaar gestel het, gekuier het. Van die skrywers wat die feesviering bygewoon het, was bekendes soos Irma Joubert, Lina Spies, Marita van der Vyver, Stephanus Muller en Leon van Nierop.

Elzilda Becker, uitgewer van DEKAT-tydskrif spreek die gaste toe (Foto aan Maroela Media verskaf)

Elzilda Becker, uitgewer van DEKAT-tydskrif spreek die gaste toe (Foto aan Maroela Media verskaf)

“Afrikaans verkeer omtrent altyd in ’n krisis, maar ’n aktiewe skrywerskorps hou die taal aan die gang,” het Becker verduidelik. “Van al die erkende tale wêreldwyd, tel Afrikaans sekerlik onder die mees unieke en daarom is dit vir DEKAT belangrik om ons land se uitsonderlike skrywers te vereer.”

Mareli Roux, senior skakelbeampte van die La Motte-wynlandgoed in Franschhoek het gesê literatuur lê Leopard’s Leap baie na aan die hart. “Dit was juis daarom ’n besonderse voorreg om deel te wees van DEKAT se Woordfeestafel – ’n ware viering van wyn, kos en woord,” het sy gesê.

Volgens Leon van Nierop was dit ʼn vreugde om “onbevange met ander skrywers oor die skryfproses te praat en skryfkennis te deel oor ʼn glasie wyn”.

DEKAT skep ’n platform vir skrywersprofiele, kultuurentoesiaste, koskenners, eiendomsagente en kunstenaars deur vir elkeen ’n spasie in die glanstydskrif te maak.

Die volgende lang feestafel sal vanjaar in Pretoria gehou word.

*DEKAT-tydskrif, besit en gepubliseer deur Elzilda Becker van African Sky Media, is in 1985 gestig en is ’n bekroonde publikasie wat sy 30ste verjaardag in 2015 gevier het. DEKAT was een van die eerste publikasies wat die taalsprong gemaak het en sedert 2006 ook in Engels beskikbaar is. Die tydskrif word tweemaandeliks gepubliseer. DEKATv is in 2009 van stapel gestuur as ’n aanvulling tot die publikasies en het een van die Top-20 programme op DStv se kykNet geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.