Delikate blik op oudword in ‘Spertyd’

Sandra Prinsloo in ‘Spertyd’. (Foto: Robert Hamblin)

Die doyenne van teater, Sandra Prinsloo, se uitbeelding van Elsa Joubert in Spertyd het vroeër vanjaar vir haar die Fleur du Cap-prys vir beste vertoning in ʼn eenpersoonstuk besorg.

Spertyd is vandeesweek op die planke by die Woordfees in Stellenbosch en is ook later die maand in Pretoria te sien.

Prinsloo, onder meer bekend vir die eenpersoonvertonings Oscar en die pienk tannie en Kamphoer, is ook by die 57ste Fleur du Cap-geleentheid ook vir haar lewensbydrae tot Suid-Afrikaanse teater- en televisiebedryf gehuldig.

“Om Spertyd te kyk, is ʼn belewenis. Die produksie bring as’t ware twee ikone byeen en Sandra se vertolking van Elsa is briljant. Sy word Elsa in die stuk en ʼn mens stap die pad saam met haar tot op die einde met grasie,” sê Margit Meyer-Rödenbeck, medevervaardiger van die stuk, aan Maroela Media.

“Dit is een ding wat Elsa was: ʼn grasieuse grand dame. Ek kan nie aan enigiemand anders dink wat die rol moet vertolk as Sandra nie.”

Joubert, wat as een van die mees gevierde Afrikaanse skrywers beskou word, is in 2020 in die ouderdom van 97 dood. Sy het Spertyd op 95 geskryf en hiermee word haar outobiografiese drieluik voltooi wat deur Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009) ingelei is.

In haar laaste boek kyk Joubert terug op ʼn vol lewe, van haar kinderjare, haar huwelik, tot waar sy as weduwee in ʼn aftreeoord woon. Die herinneringe daag bloot op, soos wat herinneringe maar doen.

Spertyd is in 2020 tydens die inperking tot ʼn teaterstuk ontwikkel deur teaterveterane Alexa Strachan, Meyer-Rödenbeck en Prinsloo. Philip Rademeyer behartig die regie.

Die stuk het reeds ʼn paar speelvakke gehad en Prinsloo se ervaring is dat gehore gaande daaroor is. Dit is veral Joubert se woorde en haar manier van skryf wat mense aangryp en stimuleer.

“Sy pak ʼn baie delikate onderwerp aan, naamlik dié van oudword en eensaam wees in ʼn fisiek en emosioneel krimpende wêreld. Wat Elsa vir my so wonderlik doen, is dat sy die balans vind tussen ironie en die werklike hartseer van die situasie.

“Ek het al baie terugvoer van vriende en die publiek gekry en hulle hou in die algemeen baie van die produksie. Daar moet ek vir Elsa dankie sê dat sy vir ʼn mens die woorde gee om so ʼn delikate stuk werk te kan aanbied en met ander mense te deel,” sê sy.

Prinsloo voeg by dat Rademeyer ʼn briljante verwerking van die teks gedoen het. “Dit is nogal ʼn lywige boek en dan sit jy altyd met die groot vraag oor wat om te gebruik en wat om te los. Ek dink Philip het verskriklik fyn en mooi daarmee gewerk.”

Die subtitel van die teaterproduksie is “ʼn reis deur die kontinent van ouderdom”. Volgens Prinsloo was dit vir haar ook ʼn reis wat sy saam met Joubert kon onderneem.

“Ek voel na dese baie meer gerus oor die doodgaanstorie. Dit is nie meer vir my so ʼn vreesaanjaende of vreemde ding nie,” vertel sy laggend.

“Mense kan dit gerus kom kyk, want Elsa Joubert gaan nooit weer ʼn boek skryf nie en Spertyd is ʼn briljante teks. Ek dink dit is ʼn wonderlike ervaring met Philip se regie en die pragtige stel.”

Spertyd is op 15 en 16 Oktober by die Woordfees in Stellenbosch en van 19 tot 23 Oktober by die AfriForum Teater in Pretoria te sien. Kaartjies is by Webtickets en op AfriForum Teater se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.