Die ABC van Afrikaanse organisasies

Taalmonument (Foto: Alexander Mickel)

Ter viering van Moedertaalmaand wat tans in volle gang is, word Afrikaans in al sy glorie verken. Dié taal staan dalk nog in sy kinderskoene, maar danksy miljoene sprekers, ywerige organisasies en talle inisiatiewe ontwikkel Afrikaans in ʼn dinamiese en kleurryke taal.

Afrikaans.com het onlangs ʼn lys saamgestel met organisasies wat op verskeie maniere ʼn bydrae tot Afrikaans lewer.

Kultuurorganisasies

Die organisasies fokus op projekte van kunstenaars, onderwysers en gemeenskappe. Kultuurhistoriese projekte en die ontwikkeling van toekomstige leiers word ook hierby betrek.

Dit sluit die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Erfenisstigting (ES), die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die Voortrekkermonument en die Voortrekkers in.

afrikaans scrabble

Argieffoto

Taalorganisasies

Dit sluit ʼn wye spektrum van organisasies en inisiatiewe in wat spesifiek taalverwante navrae en projekte hanteer.

Organisasies wat onder meer hierby ingereken word, is die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI), die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA).

Hulporganisasies

Die groep verleen bystand aan skoolbeheerliggame, studente en bejaardesorg en bevorder burgerregte.

Van die organisasies wat ingesluit word, is AfriForum, die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA), die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) en die Afrikaanse Studiefonds.

Die bekendstelling van Afrikaans.com op 26 Mei 2016 by The Venue in Hyde Park

Akademiese organisasies

Taalnavrae, onderrighulp, ambagsopleiding en allerlei akademies georiënteerde aspekte word deur die organisasies ondersteun en bevorder.

LitNET Akademies, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), die Afrikaanse Taalraad (ATR), PEN Afrikaans en Sol-Tech is van die organisasies wat hierby ingesluit word.

Vir meer inligting oor dié organisasies, moedertaalsprekers en Afrikaans besoek Afrikaans.com se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.