Die ATKV-Spelathon sit spel terug in spelling

spelathon-01

Bianca Stark van Cambridge Academy in Mpumalanga was in die derde plek, Kayla Stroud van Pretoria High School for Girls het as wenner uit die stryd getree en Bianca Gouws van Hoërskool Pearson in die Oos-Kaap was die naaswenner. Foto: Verskaf.

Tweede- en selfs derdetaalsprekers van Afrikaans het weereens tydens vanjaar se ATKV-Spelathon gewys hulle weet wat die verskil tussen verassing en verrassing is.

Die wenners van al die provinsiale kompetisies het Saterdag tydens die nasionale eindronde vir Afrikaans as eerste addisionele taal in Gauteng die gehoor op die punte van hulle stoele gehad. Die finaal het by die Leeuwenhof Akademie in Bedfordview plaasgevind. Prof. Gerhard van Huyssteen, van Op die Spel-faam, het tydens die geleentheid as vraesteller opgetree en die deelnemers met sy kenmerkende humoristiese aanslag gou op hulle gemak gestel.

Ná heelwat taai rondes en woorde soos maatreël, ammunisie, heffings, deurkosyn en heildronk wat die deelnemers gepootjie het, het Kayla Stroud van Pretoria High School for Girls as wenner uit die stryd getree in die graad 9-afdeling, gevolg deur Bianca Gouws van Hoërskool Pearson in die Oos-Kaap in die tweede plek en Bianca Stark van Cambridge Academy in Mpumalanga in die derde plek.

spelathon-02

Amirah Gabru van Rhenish Girls High School in die Wes-Kaap het die derde plek behaal, Abigail van der Mescht van Westering High School in die Oos-Kaap is as wenner aangewys en Christian Schmidt van Stanford Lake College in Limpopo beklee die tweede plek. Foto: Verskaf.

Abigail van der Mescht van Westering High School in die Oos-Kaap het die graad 10-afdeling gewen nadat sy amputasieproses korrek gespel het. Christian Schmidt van Stanford Lake College in Limpopo het die tweede plek behaal en Amirah Gabru van Rhenish Girls High School in die Wes-Kaap die derde plek. In hierdie afdeling moes die deelnemers woorde soos kroonarend, koëffisiënte, lewensoriëntering, aantyging en belastingbetalers spel.

Daniëlla van Heerden van eNuus was die seremoniemeester en het die deelnemers, ouers en onderwysers bedank vir die harde werk en tyd wat hulle aan die leer van die spelwoorde afgestaan het. Buiten kontantpryse het die wenners ook elkeen vir hulle skole toegang tot die elektroniese Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) gewen.

Volgens Evelyn Ferrreira, ʼn senior bestuurder by die ATKV, is die hoofdoel van die ATKV se taalafdeling om die Afrikaanse taal te bevorder. “Dit doen die ATKV deur verskeie projekte en dié spelkompetisie is een daarvan. Afgesien van die opvoedkundige waarde van hierdie projekte, het die gehoor ook met die vermaaklikheidswaarde daarvan kennis gemaak.”

Die nasionale eindronde vir Afrikaans as huistaal vind op 8 Oktober by die Leeuwenhof Akademie in Bedfordview plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marianne ·

Wel gedaan! Wys jou ne? Wys jou!
Afrikaans kan voortbestaan.
Hulle Afrikaans is baie beter as myne!
Congratulations you guys. You made all of us proud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.