Die Drawwer se Moses

ou-hande-drankie

Argieffoto.

Ludwig Visser

In die Boesmanland beweeg min dinge vinnig. Dalk net die windpomp se wiel as die oostewind die dag opsteek, of miskien die dag as die springbokke dit in hulle kry om so aan die spring te raak, met die ruggies so sekelkrom getrek, die beentjies stokstyf en die pronkies wit teen die helder winterson. Dis al wat vinnig beweeg in die Boesmanland.

Die res sien nie kans vir haastig raak nie, veral nie in die somer nie, want as die son jou die dag daar bykom, kom hy jou behóórlik by en as dit gebeur wanneer jy die dag vinnig beweeg, kom hy jou sommer doodbrand-by. So vóél dit in elk geval.

O, ja, daar is tog die een ding wat vinnig beweeg in daardie geweste. Dis die Drawwer. En as ʼn mens ná sononder om ʼn staanvuurtjie die Drawwer noem, raak ou Jakob een van die ouer bruinmens-geslag wat in daardie geweste grootgeword het, so ietwat benoud. Dan staan hy baie nader aan die vuurlig.

Ons klompie bure het die aand daar op Duinpan,  Oom Sopie se plaas, by ʼn buite-veepos gesit om ietsie te braai, toe dié storie van Vinnige Sannie Grysduin sy lê daar tussen ons kom kry het. Maar vóór ons daarby uitgekom het, het die Drawwer ook weer ʼn slag ou Jakob se lewe kom versuur.

Ek het nogal die indruk gekry Oom Sopie doen dit sommer aspris, net om ou Jaob so bietjie onrustig te laat slaap. Sommer so sonder geniepsigheid, want hulle twee kom al baie jare saam hier in die Boesmanland en ek weet Oom Sopie sal nooit ʼn vinger verroer om hierdie troue ou regterhand van hom te na te kom nie.

Ons paartjies was almal daardie dag saam in die veld op ʼn rooikatjag. Dis maar ʼn gebruiklike ding in hierdie wêreld as die katte so begin maai onder ons lammers. Dan help ons mekaar maar so uit, want man-alleen kan jy nie juis hond-haaraf maak teen ʼn rooikat nie. Hy is veels te slim vir jou.

Dan kom ons gewoonlik vroegerig op ʼn plaas byeen, elkeen met ʼn haelgeweer en ʼn pakkie eetgoed vir die dag. Dan besluit die boer wie se plaas dit is in watter kamp ons na die katte gaan soek. Dan vorm ons so ʼn lang, reguit linie en begin dan saam deur die kamp beweeg.

Met ʼn stok in die hand steek ons oral in die bosse en gate waar die die kat dalk bedags kan skuil en as daar per geluk een uitvlie, peper ons hom met die hael. En elkeen wat platgetrek word, is ʼn wins, want gereken teen vandag se markprys vir skaap, rig hy sommer groot skade aan as hy oornag ʼn paar lammers doodbyt, net soʼn bekvol aan elkeen vreet en dan verder trek om ander lammers te gaan soek.

Die dag het goed verloop, want ons het  twee katte van die gras af gemaak.

Ewentwil, daar staan ons toe langs die staanvuurtjie. Op die braaivuurtjie langsaan is al ʼn paar span wors aan die braai en eenkant teen die kole staan ʼn keteltjie wat nou-nou sal kookwater verskaf vir die koffie.

Van die jongeres onder ons ken die storie van die Drawwer alte goed, maar uit skone moedswilligheid, vra hulle verder uit oor wat se ding lat dit nou is. “Man, mos nog nooit self gesien nie,” vertel Oom Sopie dan, “maar hulle vertel my hy is so ʼn klein mannetjie met sulke kort, krom beentjies. Maar hy het so ʼn yslike bek. Dis glo net tande wat jy sien as hy sy smoel oopmaak. En dan kan hy glo ook nog ʼn barshou hardloop.”

“Nou waarnatoe hol hy dan, Oom Sopie?” vra een van die jonger manne weer toe die oom so bietjie aarsel. “Nee, jong, hoe sul ek dan nou weet? Hy hol glo net waar die gees hom lei, sommer so kruis en dwars deur die veld, verstaan ek. Maar wee glo die arme mansmens wat dalk in sy pad kom as hy eers aan die hol  loop gaat het.”

“Hoe dan nou, oom? Hardloop hy hom onderstebo?” “Nee, man, as dit maar net onderstebo was, dan was dit nog níks,” sê Oom Sopie. “Hy hardloop glo met daai paar krom beentjies van hom woerts-warts van agter af so tússen ʼn mansmens se bene deur en so in die hardloop, verstaan ek, is sy bek yslik groot oop. So met die deurgaanslag byt hy dan glo alles af wat hy voor sy tanne kry. Ek sê jou, ʼn mansmens is glo glad nie meer dieselle as daai Drawwer eers tussen sy bene deurgehol het nie. Als is stomp af.”

Met dié hoor ons hoe klap Oom Sopie se bakkie se deur so ʼn paar tree van ons af. Dis toe ou Jakob wat solank gaan skuil, net vir ingeval die Drawwer dit dalk in sy kop kry om juis vanaand hier oor die vlakte te storm. Daar in die bakkie het ons toe maar later vir ou Jakob sy kossie en sy drinkdingetjie gaan gee. Hy was nie van plan om weer uit te kom nie.

Maar Oom Sopie sou nog by Vinnige Sannie Grysduin uitkom. Terwyl ons so onderlangs vir ou Jakob lag, stoot Oom Sopie die storie oor die haastige goed nog verder aan. “Ek verstaan darem ou Sannie Grysduin sou op haar dag selfs die Drawwer laat les opsê het,” laat hy hoor.

“Het sy ook die manne so die skrik op die lyf gejaag met haar skerp tanne?” wil ʼn moedswillige weet. “Nee, man, dit was vroeër toe ons nog gereeld  konsert gehou het op die dorp. Dis tóé dat sy gewys het sy staan gʼn niks agteruit vir die Drawwer nie.”

Ons ander geniet ons worsie en soetsuurdeegbrood en ons koffie, maar ons waag dit nie om Oom Sopie aan te jaag nie. Ons weet, as hy eers begin het met ʼn storie, sal hy hom sonder aanmoediging verder vertel, end-uit.

“Hier was mos destyds ʼn skoolmeestertjie wat nogal geweet het hoe om ʼn konsert te hou. En hy het omtrint ook altyd die hoofrol gespeel wat daar gespeel moes word. As daar gekonsert moes word, is daar op sy nommer gedruk en dit het altyd gewerk.” Oom Sopie vou ʼn dik sny soetsuurdeegbrood dubbel, doop die een hoek daarvan in sy beker koffie en geniet duidelik die nattigheidjie saam met die wors.

“Maar die arme vent het later jare seker ook maar moeg geraak omdat hier nie jong meisies was nie, of anders het die kinders in die skool hom opdraande gegee, toe het hy bietjie die bottel begin slaan. Later selfs kwaai geslaan, sodat hy later amper nie meer sonder ʼn gereelde snapsie of  twee oor die weg kon kom nie. Maar as daar gekonsert moes word, was hý die man na wie almal gekyk het.

“Een jaar is dit toe weer sulke tyd, maar dié keer sien Sannie Grysduin, die organiseerder, die ding gaan nie vanjaar so lekker werk nie, want die meestertjie raak al hoe senuweeagtiger as daar saans geoefen moet word. En so aljimmers verdwyn hy agter die gordyn in waar hy ʼn botteltjie versterkwater gebêre het. En as hy dan so ʼn paar minute later terugkom, was hy weer rustiger en kon alles voortgaan.” Nog ʼn kousel gedoopte brood en wors.

“Toe die konsert-aand aanbreek, is Sannie Grysduin omtrént al in ʼn toestand, want hoe gaan die meestertjie deur die aand kom sonder ʼn versterkinkie tussenin? En hy kan mos nie net so tussendeur gou wegglip om ietsie te gaan drink terwyl die konsert aan die gang is nie. Wat sal die mense dan nou dink en sê? En dominee sit gewoonlik heel voor in die saal.

“Maar toe kry sy ʼn plan. Sy sal sorg dat daar agter die gordyn altyd ʼn ou versterkinkie vir meester is. Elke keer as hy van die verhoog afgaan, sal hy sy knertsie kan drink om hom kalm te hou.

“Maar toe kom die lollery toe Sannie agterkom die meestertjie gaan elke keer aan ʼn ander kant van die verhoog af. Sy sal haar plan moet aanpas. Toe gaan neem sy maar self met meester se bottel vyfjaaroud agter die gordyn stelling in en sy luister as dit tyd raak vir hom om af te stap. Dan hol sy om na die kant waar hy gaan afkom en sy gaan lawe hom met die vyfjaaroud.

As hy oor ʼn rukkie dan weer aan die anderkant van die verhoog afkom, hol sy weer doerie kant toe om met die bottel vyfjaar en sy gaan lawe hom weer dáár. Maar wat sy nie mooi geweet het nie, is dat sy elke keer búite om die saaltjie moes hardloop om weer van die anderkant af agter die verhoog in te kom, en dit was nogal ʼn hele ent.

Dit sou te onstigtelik wees as sy agter die gordyn langs sou probeer hardloop, want sê nou die gordyn waai op en die dominee gewaar haar met die bottel?

“Toe die voorste gordyn daardie aand die heel laaste keer sak, vertel die mense, was Sannie Grysduin papnat gesweet en stokflou van die gehollery en die ge-lawery. En sy was elke keer op die regte plek as die meestertjie afkom. Sy was so gedaan, sy het glo sommer die laaste slukkie vyfjaar maar sélf weggeslaan.

“Maar dis dié dat ek sê die Drawwer kan dalk vir ou Jakob bang maak, maar hy sou nie by Sannie Grysduin bygehou het daardie aand nie. Sy sou hom stokflou gehol het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae