“Vandag eer ons jou met jou verfkwas uit die siel. Jy wat bereid is om ons ʼn kykie te gee deur ʼn venster na ʼn dieper binnekant,” het dr. Dirk Hermann tydens sy toespraak by die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) se jaarlikse glansgeleentheid gesê.
Die genootskap het op Saterdag 9 November sy nuwe digbundel Stemme uit die Suiderland bekendgestel, asook die wenners van vanjaar se digkompetisie aangekondig.
Hermann, beskermheer van dié kompetisie, het tydens sy inspirerende toespraak getiteld “Ode aan ʼn digter” gesê dat gedigte wat in dié bundel opgeneem is eintlik ʼn notule is van wat Afrikaners tans in die land ervaar.
Hy het digters ook vir hul artistieke bydrae tot digkuns én die gemeenskap geloof. “In jou sien ek die hart van my mense, ʼn dieper dagboek van my gemeenskap se binnekant.”
Francis Grobler is as die algehele wenner aangewys en Anzé Bezuidenhout is as die naaswenner aangekondig.
Grobler se drie wengedigte is “Ek sal manna oor jou bid”, “Ek ken nie meer jou spoor nie” en “Kyk hoe skreeu die aarde”.
Bezuidenhout het ʼn tweede plek behaal vir “Gebars tot volmaaktheid” en “Die stil gebed”.
“Meer as 750 gedigte is vanjaar ingeskryf en daar was altesaam 141 deelnemende digters,” het die genootskap in ʼn verklaring gesê. “Uiteindelik is 404 gedigte deur 118 digters in die veertiende uitgawe van Stemme uit die Suiderland opgeneem.
“Dit is die hoogste getal inskrywings in die afgelope 15 jaar sedert die GHA sy digkompetisie van stapel gestuur het.”
Toe die GHA in 1875 gestig is, het ds. SJ du Toit die volk aangemoedig om te dig. Die genootskap bou 145 jaar later steeds aan Du Toit se droom met sy jaarlikse digkompetisie.
Waar kan mens die digbundel bekom ? ….seker nie by die anglofiele Exclusive Books nie; dit sal seker net by uitgewers soos Kraal beskikbaar wees, …. en miskien by BB.
Wat ‘n belewenis. Geluk Francis en Anze.
My gunsteling onder daai ouens was “Oom Lokomotief”