Die goeie (en slegte) nuus vir Afrikaans

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport (Februarie 2017) Foto: Maroela Media

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport (Februarie 2017) Foto: Maroela Media

Kan Afrikaans floreer as hy sy status as universiteitstaal verloor? Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, het tydens die jaarlikse Johan Combrink-gedenklesing in Stellenbosch dié kwessie onder die loep geneem.

“Dis lankal nie meer ʼn hipotetiese vraag nie,” verduidelik Pelser. “Dis nie meer ʼn paranoïese sprong om te maak nie, ons is reeds amper daar.”

Waar lesings by universiteite nog in Afrikaans aangebied word, sien die universiteite dit as ʼn interim maatreël, ʼn tipe verversingspos met ʼn eindbestemming van eentaligheid.

“Hemingway het gesê mens raak op twee maniere bankrot: geleidelik en dan skielik. Só verskraal Afrikaans dan ook sedert 1994 in die openbare sfeer, dit wil sê die ruimtes wat gedeeltelik of ten volle met belastinggeld in stand gehou word: geleidelik, en dan skielik.

“Wat dit moeilik maak om te aanvaar, is dat Afrikaans nie plek maak vir ander inheemse tale nie. Afrikaans word nie in die Wes-Kaap deur Xhosa verplaas of in Gauteng deur Zulu of Noord-Sotho nie. Dit sou mens darem as die volbloed Afrikanisering van die akademie kon wegverduidelik; ʼn dekolonisering waarvan Engels die noodwendige hoofteiken en Afrikaans die toevallige slagoffer sou wees,” verduidelik Pelser.

“Die Afrikaans van Neville Alexander, Antjie Krog en Dirk Opperman word op kampusse verskraal ter wille van Engels, en dikwels ʼn tweederangse Engels, selfs in die Wes-Kaap waar Afrikaans die huistaal van 49% van die inwoners is.”

Hoe gaan dit dus op ander gebiede, benewens universiteite? “Nie alles om ons word Engels nie. Dit is die bietjie goeie nuus,” sê Pelser.

Die goeie nuus

Kultuurskepping in Afrikaans blom. “Afrikaanse boeke vlieg van die rak, Afrikaanse teater floreer, Afrikaanse flieks verbeter loketrekords. Die Afrikaanse TV-kanaal kykNET is die grootste op DStv se premiumboeket.

“Ek sê nie dat ʼn gesonde aanvraag na Afrikaanse kultuurgoedere ʼn genoegsame aanduiding daarvan is dat die taal floreer nie, maar dit is seker darem ʼn aanduiding van iets. Dit sê dat die sprekers van die taal, daar waar hulle deur die staat uitgelos word, betekenisvolle inhoud en kuns in Afrikaans skep en dat skeppingsgehore, kykers en lesers gelok word, wat die ANC en Twitterati ook al daaroor te sê mag hê.

“Dis natuurlik ʼn ANC wat op sy beste net nie omgee nie, en op sy slegste openlik vyandig teenoor kulturele minderhede is. Dit gaan egter nie in hierdie gesprek oor partypolitiek nie, maar ʼn Suid-Afrikaanse bate. Dit gaan oor kampusse ja, maar dit gaan ook oor die oplewing en skeppende werk in Afrikaans.

“As mens na die lyngrafiek kyk wat die trajek van Afrikaanse kultuurgoedere karteer, dan is dit ʼn weerbarstige, statistiese uitskieter wat doodstydings oor die taal na goedkoop sensasie laat lyk.”

Pelser verwys na die Afrikaanse boekemark wat al hoe meer markvoordeel geniet. Penguin Random House, Macmillan, Oxford en Pearson het almal intussen ook tot die Afrikaanse mark toegetree. In 2015 was al tien plaaslike topverkoper fiksieboeke in die land, Afrikaans. Net soos die toptien plaaslike gepubliseerde kinderboeke.

Hy verwys ook na die oplewing in die Afrikaanse fliekmark, ná ʼn hele – op die oog af – “terminale insinkings” sedert die eerste Afrikaanse fliek deur die Voortrekkers in 1916 vrygestel is. “Dit het aan die begin nogal beroerd gegaan. Die tweede Afrikaanse fliek, Sarie Marais, het eers 15 jaar ná fliek nommer een die lig gesien. Nog een of twee flieks het daarna gevolg. In die onstuimige jare ’70, het 23 Afrikaanse flieks egter in 1975 die lig gesien.

“Dié 23 flieks is ʼn rekord wat vandag nog steeds in 2017 staan, aldus Leon van Nierop in sy boek, Daar doer in die fliek. Dinge was goed op dreef tot in 1985 toe sewe Afrikaanse flieks vrygestel is. Maar in 1989, 1995, 1996, 1998, 1999, 2001, 2002 en 2005 is nie ʼn enkele Afrikaanse fliek vervaardig nie.

“Wie sou kon dink dat die tweede Renaissance vir Afrikaanse flieks sou aanbreek in 2007, die jaar wat Jacob Zuma verkies word tot president van die ANC?!

“Van twee films in 2007 na drie in 2008, vier in 2009, sewe in 2010 en 2011, agt in 2012, vyftien in 2013 en sestien in elk 2015 en 2016, is daar ʼn nuwe asem in Afrikaans. Zuma het dalk self nie iets daarmee te doen gehad nie, maar die nasionale departement van handel en nywerheid het sowat ʼn derde van die produksiekoste van baie van hierdie Afrikaanse flieks gedra – iets wat baie Afrikaanse mense nie weet nie.”

kykNET was ook ʼn belangrike borg en die Silwerskermfees het baie nuwe jong talent ontsluit.

“Afrikaanse teater word ook heelwat beter ondersteun as Engelse teater. Die Afrikaanse teatergangers het eers hoofsaaklik kaartjies na Afrikaanse produksies gekoop by die ‘groot vyf’-kunstefeeste. Maar nou is Afrikaanse produksies ook in die stede op die planke. Van die kunstefeeste het kosbare broeikaste vir kuns- en kultuurskepping in Afrikaans geword.”

Selfs die Markteater in Johannesburg, wat vir jare sy neus opgetrek het vir Afrikaanse teater,
bied nou ook Afrikaanse produksies aan, voeg Pelser by. “Afrikaanse koopkrag is raakgesien, Afrikaanse vriendskappe is gesmee, koppe is geswaai.”

Maar sal die ryk kultuurlewe in Afrikaans enduit gedy as al hoe meer Afrikaanse ouers kies om hul kinders Engels groot te maak, hulle na Engelse skole of Engelse staatsuniversiteite te stuur? “Die feit dat dit nóú goed gaan met die boeke en die flieks en die TV, sê tog bitter min hoe dit môre en oormôre sal gaan. Die hede voorspel nie die toekoms nie.”

Omdat skole en universiteite sulke belangrike sentra van kultuuroordrag is, sal dit ook op een of ander manier op al hierdie gebiede, waar dit nou so goed gaan, moet manifesteer.

Universiteite

Met die aanvang van die akademiese jaar in 2017 verdwyn Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Suid-Afrika. Al is nêrens gevra dat Afrikaans die enigste onderrigtaal moet wees nie, is diegene wat gestry het vir taaldiversiteit, gebrandmerk as bewakers van wit opperheerskappy. In ʼn land so divers soos ons sʼn, het die vegters se vereenselwigheid met eentaligheid in baie gevalle tussen brandende geboue en verskrikte dosente hul sin gekry.

“Die syfers ken u goed: Afrikaans is sowat 7,5 miljoen mense se huistaal, waarvan 3,6 miljoen bruin en 2,7 miljoen wit is – dit is 13,5% van die bevolking. Afrikaans is die huistaal van 76% van bruin mense en 61% van wit mense. Engels is die huistaal van 2,8% swart Suid-Afrikaners.

“Sowat 140 000 Afrikaanse studente (ongeveer 60% wit en 40% bruin) studeer tans aan die land se 26 universiteite. En tog is daar van die wil om op kampusse vertaalkapasiteit te verskaf, by die universiteitbestuur geen teken nie.

Skole

In skole gaan dit darem bietjie beter, voeg Pelser by.

Hy verwys na statistiek wat Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas), in November 2016 bekend gemaak het dat een uit elke 10 skole in Suid-Afrika tans onderrig in Afrikaans bied, insluitend meer as 300 skole in die Noord-Kaap.

“Al hoe meer skole skakel na parallelmedium oor – iets wat dikwels juis die behoud van ʼn Afrikaanse stroom op skool kan help verseker deur leerlinggetalle op te stoot.

Die prentjie lyk rooskleuriger as wat ons gedink het, aldus Deacon.

“Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, het gesê gemiddeld 18 Gautengse skole skakel jaarliks oor van enkelmedium Afrikaans na parallelmedium-onderrig. Eloff het gesê akademici aan ons universiteite wil nie in Engels én Afrikaans klasgee nie (in baie gevalle), en ouers glo hul kinders sal bevoordeel word as hulle in Engels skoolgaan. Daarom voorspel Eloff dat daar teen 2025 slegs een Afrikaanse universiteit in die land wees (en dit sal beslis nie in die Wes-Kaap wees nie).

“Baie ouers en skole ervaar die druk om die universiteite letterlik na te praat. Hul voel dat Afrikaanse skole op die platteland, wat weier om saam te smelt, natuurlik net die probleem vererger. Syfers van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) wys intussen dat sowat 600 000 Afrikaanse leerlinge tans onderrig kry in Engels, dat sowat 8% van matrieks hul eindeksamen aflê in Afrikaans, en dat die helfte van bruin Afrikaanse leerlinge en 15% van wit Afrikaanse leerlinge deesdae uitsluitlik in Engelse skole is.

“So ja, skole en universiteite verengels nie teen dieselfde tempo nie. Die groot verskil is dat alle residensiële universiteite staatsuniversiteite is, wat geweldig swaar steun op staatsubsidie, terwyl skole ʼn veel groter mate van outonomie geniet. Die kans is skraal dat Afrikaans gaan groei as akademiese taal by daardie universiteite waar die staat mee iets te doen het, behalwe as die politiek drasties verander.”

Pelser verwys dan na die digter en skrywer Breyten Breytenbach wat dít wat nou by voorheen Afrikaanse universiteite, veral die Universiteit Stellenbosch, gebeur, as “tekstuurvernietigend en reaksionêr” beskryf. “Hy sê dit is ʼn merker van radikaal teenstrydige sienings van wat ʼn universiteit (in die Boland, Suid-Afrika, Afrika, die wêreld) behoort te wees. Breytenbach vra, ‘wie gaan baat by die uitsluiting, by die afskaling van wat Afrikaans beteken. Van wanneer af is dit ʼn óf-óf-situasie?’. Geen redelike mens praat al vir jare van ʼn ‘slegs Afrikaanse universiteit’ nie, en dis beslis nie ʼn idee wat ek sal verdedig nie,” sê Pelser.

“Breytenbach betreur dat daar nie op Stellenbosch gehoor gegee word aan die legitieme verwagtinge van die universiteit se natuurlike en grotendeels plaaslike opvangsarea nie. Soos mens van enige universiteit sou verwag wat ernstig is oor plaaslike behoeftes en oorkoepelende doelwitte van waardes en moontlikhede. Die verlies aan taaldiversiteit benadeel almal, want tale is skeppend; dit help ons ontdek; dit dra by tot dit wat die mensdom weet. Dis op soveel maniere deel van ons eie volle uitlewing van ons burgerskap en ons menswees. Taal is, sê Breytenbach, ʼn lewende wese.”

Pelser sê daar is dan ook die ander kant. Soos ʼn vriend van hom wat onlangs daarop wys dat, indien ʼn mens toegee dat ʼn provinsie met soveel Afrikaanses in die Wes-Kaap wel aanspraak kan maak op een Afrikaanse universiteit, hoekom moet dit Stellenbosch wees? Eerder as die Universiteit van die Wes-Kaapland wat op ʼn kaart in ʼn baie beter posisie geleë is om bruin mense van tersiêre onderrig te bedien?

Hy verwys ook na ʼn kollega van hom wat daarop wys dat om oor Afrikaans by staatsuniversiteite te kla, dieselfde is as om langs jou bouvallige huis te staan nadat ʼn tsoenami deur die dorp is. “‘Dit moes nie gebeur het nie, maar dit het,’ sê sy. ‘Ons kan tog nie al ons energie daarin stort om Afrikaans op kampusse in stand te hou terwyl dit waarskynlik onmoontlik is nie. Dis nie die ideaal dat Afrikaans afgeskaal word nie,’ sê sy, ‘maar dit gebeur.’”

Pelser meen die manier om hierop te reageer is om aan integrerende en positiewe kultuurskepping deel te neem. “Dit wat die Afrikaanssprekende graag wil lees, sal ons self ook skryf. Die klasse of lesings wat ons wil bywoon, moet ons self aanbied. Dat ons die teaters moet volsit en die boeke en koerante moet koop wat nog in beduidende Afrikaanse joernalistiek belê.

“Ons moet ons hande in ons sakke steek om seker te maak dat daar binne reikafstand van Afrikaanse kinders, swart, bruin en wit oor die land heen, goeie Afrikaanse skole is – wat leerlinge lok nie omdat dit Afrikaanse skole is nie, maar omdat dit die distrik se beste skool is.

“Geen mens sal die volslae privatisering van die Afrikaanse leefwêreld bepleit indien die regering erns maak met meertaligheid nie. En dit is ook myns insiens eng en onnodig dogmaties om nie te kasty wat nog nie heeltemal opgegee is nie, wat die verbeelding en moed het om van die staat en die Grondwet nog iets te verwag.

Die toekoms van universiteite

“Oor universiteite verdien dit om genoem te word dat tegnologiese vooruitgang reusegeleenthede bied om vir jongmense toegang tot opleiding te gee in elke taal. Letterlik duisende kursusse, van hulle onderskryf deur van die wêreld se voorste universiteite of deur instansies soos Google, is reeds gratis aanlyn beskikbaar vir voornemende studente vir wie kampuslewe, weens afstand of geldtekort, nie beskore is nie.

“Afstandsonderrig in Afrikaans word reeds met groot vrug ingespan by Solidariteit se private instelling van hoër onderrig, Akademia, wat Afrikaanse vakkundiges inspan om oor die internet klas te gee. Ek verwag dat ons nog veel meer sulke inisiatiewe sal sien.

“Terwyl die toekoms van staatsuniversiteite waarskynlik bepaal sal word deur dit wat ons sien as ʼn redelik morsige onderhandeling tussen konvokasies, studente, gemeenskappe en die staat, staan die staat met die beursie in die hand.

“In ʼn ope mark sal jy ver moet soek na ʼn Afrikaanse kind wat dink dat alles wat die moeite werd is om te weet, in Afrikaans beskikbaar is.

“Vir dié wat kla dat alle inisiatiewe ten bate van Afrikaans op die vorming van ʼn parallelle staat neerkom, moet ons vra of hulle bereid sal wees om afstand te doen van ʼn mediese fonds, ADT, DStv, Netflix ens. – om slegs dit te kry wat die staat vir hulle gee. Gesonde verstand moet dikteer dat die hofsake by Maties en Kovsies nie die enigste inisiatief is om Afrikaans se legitieme aanspraak op ruimtes ʼn werklikheid te maak nie, maar dit verdien ook nie veroordeling nie.

“So, kan Afrikaans floreer as hy sy status as universiteitstaal verloor? In baie ruimtes, natuurlik ja, ongetwyfeld. Solank as wat daar Afrikaanse mense is wat lees, wat luister, wat kyk, wat vra, wat skoolgaan, wat musiek maak, wat skryf en sing, wat redeneer en wat ook koop en verkoop in Afrikaans.

“Maar, sonder Afrikaanse universiteite sal Afrikaans nooit ten volle kan floreer nie. Geen taal kan sy volle potensiaal bereik of daardie potensiaal aanhou verwesenlik as hy op kunsmatige wyse by die hekke van die akademie gestuit word nie. Die dag wat Afrikaans nié meer as universiteitstaal erken word nie, of eerder oral nie meer erken word nie, verdwyn hy as vaktaal, as taal waarmee jy oor voortdurende navorsing en ontwikkeling in die wetenskap skryf.

“As dit is wat die politiek op die ou end onvermydelik maak, as genoegsame steun vir die saak en genoegsame veglus nie afwesig is nie, sal Afrikaans natuurlik nie sterf nie, maar regtig floreer? As daar ʼn wil is, miskien eendag weer, ja, en veral as Afrikaans vriende het soos julle,” het Pelser afgesluit.

Die lesing is gereël deur Vriende vir Afrikaans en die ATKV en bekendes soos onder andere prof. Danny Titus (programleier), prof. Christo Viljoen, dr. Michael le Cordeur, dr. Pieter Mulder en dr. Pieter Groenewald het die lesing bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Hendrik ·

word Afrikaanse skole in Amerika en ander lande ook so onderdruk?

Alida ·

Waldimar, uitstekende artikel. Dit gee mens bietjie moed vir ons donker toekoms.

maria ·

Uitstekende stuk vol inligting wat jou diep laat dink. Ek hoop Afrikaanse mense van alle rasse vind en toon soveel meer toegeneentheid teenoor mekaar – opnuut . Daar is baie werk om te doen.

Johann ·

Adrikaans sterf want ons ondersteun dit nie. Ons is te gemaksugtig en te gefokus op die vergaar wat vatbaar is vir mot en oes. Ons staan ook nie saam .

John ·

Ons probleem le nie eintlik by die leerders/studente wat glo in Engels wil studeer nie, maar eerder by politici en oppertuniste wat in beheer wil staan van onderrig-instellings. Engelse afgestudeerdes, uitlanders maar veral politieke kaders wurm hulle in en soek statusposte langs groot staatstrommels. En nou word Afrikaans as die sondebok uitgewys. Die ‘bok’ ly beslis ‘n lewe: party wil hom steel, ander wil hom streel, baie wil hom vermoor en ander in verre lande besing sy unieke skoonheid. Hoe lief het ons die bok?

JC ·

Dankie vir die artikel. Die enigste Afrikaanse staatsuniversiteite wat oorbly gaan dalk net Pukke wees, en miskien Maties… Die werklikheid is, en ek se dit nie om te spog nie, dat die tersiere wereld verlore sonder Afrikaners en ons taal is(ek noem nie bruinmense nie want ek dink Afrikaners is op groter skaal aanwesig op die kampusse as bruin ouens wie se taal ook Afrikaans is). Weet julle dat die blanke inname by “kovsies” 300% geval het, 300%!!
Maar nee, ons moet glo die wegdoen van Afrikaans veroorsaak mos nie segregasie nie, ne, of hoe julle “geleerde” mense, en dat dit JUIS dit veroorsaak hehe??
Mmm, kan julle dink aan ‘n rede daarvoor, EN dit gaan net erger word?
Bogenoemde gegewe, dit is, dat Afrikaanse studente nie hul taal gaan prysgee nie, illustreer die realiteit. Beter empiriese bewyse as bogenoemde syfers kan jy nie vra nie.
Die skande is dat die inwoners van Bloemfontein grotendeels Afrikaans is. Dus is daar nou ‘n groot mate van afstand, vervreemding en wantroue tussen die gemeenskap en die studente. Daar is geen gemene grond meer nie. Daar kan nie wees wanneer daar op grond van taal gediskrimineer word nie.
My voorspelling dus: die Besonderse groei van Akademia, Pukke, Aros en die Afrikaanse Protestantse Akademie en ander universiteite wat onderrig in moedertaal aanbied en die totale verval, verskraling in nommers van Afrikaanse studente by staatsuniversiteite en die daling in prestige en kwaliteit van onderrig aldus daar.

JC ·

Die enigste Afrikaanse staatsuniversiteite wat oorbly gaan dalk net Pukke wees, en miskien Maties… Die werklikheid is, en ek se dit nie om te spog nie, dat die tersiere wereld verlore sonder Afrikaners en ons taal is(ek noem nie bruinmense nie want ek dink Afrikaners is op groter skaal aanwesig op die kampusse as bruin ouens wie se taal ook Afrikaans is). Weet julle dat die blanke inname by “kovsies” 300% geval het, 300%!!
Maar nee, ons moet glo die wegdoen van Afrikaans veroorsaak mos nie segregasie nie, ne, of hoe julle “geleerde” mense, en dat dit JUIS dit veroorsaak hehe??
Mmm, kan julle dink aan ‘n rede daarvoor, EN dit gaan net erger word?
Bogenoemde gegewe, dit is, dat Afrikaanse studente nie hul taal gaan prysgee nie, illustreer die realiteit. Beter empiriese bewyse as bogenoemde syfers kan jy nie vra nie.
Die skande is dat die inwoners van Bloemfontein grotendeels Afrikaans is. Dus is daar nou ‘n groot mate van afstand, vervreemding en wantroue tussen die gemeenskap en die studente. Daar is geen gemene grond meer nie. Daar kan nie wees wanneer daar op grond van taal gediskrimineer word nie.
My voorspelling dus: die Besonderse groei van Akademia, Pukke, Aros en die Afrikaanse Protestantse Akademie en ander universiteite wat onderrig in moedertaal aanbied en die totale verval, verskraling in nommers van Afrikaanse studente by staatsuniversiteite en die daling in prestige en kwaliteit van onderrig aldus daar.

Johan II ·

Ek dink jy het dot JC…net nog n universiteit met nuttelose grade. Ek kyk nie eers na CVs met engelse grade nie, tensy hul reeds ondervinding het, hul maak hul dit eenvoudig nie in die besigheid nie. Mens leer darem uit ondervinding.

jaco ·

Dis vreemd dat die ANC aanhou wegdoen met Afrikaans omdat dit die taal van die vorige wit onderdrukkers was, terwyl Engels veel meer daardie status van “taal van die onderdrukker het”. Die ANC vergeet blykbaar dat Engels oorspronklik afkomstig is van ‘n wit Europese land met die naam Engeland en dat die Engelse eers hulle taal op die Walliessers, Skotte en Iere afgedwing het, en toe ‘n hele empire oor 1 derde van die aardbol gevestig het en ORAL in daardie empire inheemse, dikwels swart, mense in Engels onderdruk het. As dit dat nie so was nie, waarom was daar dan so n stryd teen Britse beheer in al hulle Afrika-kolonies, Indië ens ens? So as die ANC so aangaan om alles Engels te maak, lag ek vir hulle, want 1 wit taal wat net in SA en in Namibië vir sogenaamde onderdrukking gebruik is, is nou vervang met ‘n ander wit taal wat op EEN DERDE van die aarbol ‘n taal van onderdrukking was.

Jaycee ·

Ek reken die skrif is al geruime tyd aan die muur dat Afrikaans as voertaal in enige instansie waarby die regering betrokke is, in ‘n doodloopstraat is. En dit is ook nie die eerste keer in ons land se geskiedenis dat die owerheid van die dag probeer om die Afrikaanse taal te onderdruk nie. Maar hierdie taalmoord aanslag sal weereens nie slaag nie want ek glo daar sal ‘n sterker besef by Afrikaners ontwikkel dat hulle na hulleself in hierdie verband sal moet omsien. En hierin sal geslaag word.

JC ·

Dankie vir jou kommentaar Jaycee, jy slaan die spyker SO op sy kop.
Dankie, jy’s bevonk!! ONS AFRIKAANSES SAL MAAR NOU DOODLUITERS NUWE (PRIVAAT) AFRIKAANSE UNIVERSITEITE WEER VAN VOOR AF MOET BOU. SOOS ONS DIT AL REEDS GEDOEN HET; EN ONS GAAN SO WAAR AS VET DIT WEER DOEN!! Eintlik is dit reeds daar=Akademia, APA en Aros. Solidariteit moet net seker maak dat daar nodige bevondsing is; met ons almal se hulp; vir behoeftige en verdienstelike Afrikaanse studente :-) Alles vir ons liefling Afrikaans!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.