Dié groep vir skrywersresidensie goedgekeur

Die Gerwel-huis in Somerset-Oos (Foto: Jakes Gerwil Stigting)

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het die suksesvolle aansoekers bekend gemaak vir die skrywersresidensie wat dié twee organisasies vanjaar aanbied.

Die fokus van die residensieprogram is veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Na deeglike oorweging van die aansoeke, wat van hoogstaande gehalte was, is die volgende ses skrywers as suksesvolle aansoekers aangewys:
– Jeremy Vearey
– Kirby van der Merwe
– Lynthia Julius
– Nathan Trantraal
– Ronelda Kamfer
– Ryan Pedro

Die skrywersverblyf sal die skrywers in staat stel om vir ’n maand aan ’n manuskrip te slyp in die rustige en prentjiemooi omgewing van die Paulethuis in Somerset-Oos.

Maroela Media het vroeër berig opbetaalde lede van PEN Afrikaans is genooi om aansoek te doen vir die skrywersresidensie. Gepubliseerde en ongepubliseerde skrywers kon hiervoor aansoek doen.

“Dit was ’n plesier om deur soveel sterk aansoeke te werk,” vertel Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting. “Daar is belangrike verhale wat wag om vertel te word en gedigte wat wag om geskryf te word. Ons wil met hierdie projek Jakes Gerwel se liefde vir Afrikaans vier en ons pas gerestoureerde skrywershuis benut om soveel as moontlik skrywers te ondersteun. Ons glo dat die skrywersresidensie die skrywers die nodige tyd en ruimte sal gee om goed met hulle skryfwerk te vorder. Dit is uiteindelik tot ons almal se voordeel.”

Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans, sê as ’n skrywersvereniging is PEN Afrikaans onder meer daarop gemik om skrywersbelange te verteenwoordig en te bevorder. “Die skrywersresidensie is presies die tipe projek wat ons graag ondersteun en ons is dankbaar om dit in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting te kan doen. Ons wens die skrywers ’n goeie en produktiewe verblyf in Somerset-Oos toe.”

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 8 Julie tot 5 Augustus 2019, insluitende internet, skoonmaakdienste, retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe. Vervoer in Somerset-Oos sal ook aangebied word.

Die Jakes Gerwel Stigting het ten doel om die werksaamhede en belangstellings van Gert Johannes “Jakes” Gerwel voort te sit in die ontwikkeling en bevordering van die opvoedkunde, kuns en kultuur en die sosiale geregtigheid in Suid-Afrika in die algemeen. Die stigting fokus veral op die bevordering en uitbouing van die Suid-Afrikaanse letterkunde.

PEN Afrikaans is ’n vereniging van skrywers, joernaliste, uitgewers en belanghebbendes wat, deur lidmaatskap aan PEN Internasionaal, sy lede in ’n internasionale konteks verteenwoordig. PEN Afrikaans is gerig op die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en die reg tot vryheid van uitdrukking.

Klik hier om aansoek te doen om ’n lid van PEN Afrikaans te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.