Dié Groot Debat: Waar die grootste name in Afrikaans hul sê kan sê

Mediaverklaring
Solidariteit
28 Julie 2011

Dié Groot Debat: Waar die grootste name in Afrikaans hul sê kan sê
Hiér is 42 van die voorste meningsvormers in Afrikaans

Musikante, politieke kenners, taalkenners en aktiviste – almal onder een dak! Oftewel almal op een webblad én in Afrikaans. Dit is die kern van Dié Groot Debat, ʼn Afrikaanse meningsruimte, wat deel vorm van Maroela Media, ʼn nuwe inisiatief van die Solidariteit Beweging.

Maroela Media is ʼn nuwe internetkuierplek wat besoekers op hoogte sal hou van dit wat in die wêreld van Afrikaans aan die gebeur is. Die webblad word môre amptelik in Pretoria bekendgestel. Tydens dié geleentheid sal ʼn debat oor Afrikaanse protesmusiek gehou word. Die sanger Steve Hofmeyr, dramaturg Deon Opperman, protesmusiekkenner Burgert Senekal en die Klopjag-sanger Salmon de Jager sal aan dié debat deelneem. Televisie- en radio-aanbieder Johann Botha sal die debat lei.

Maroela Media het vandag, aan die vooraand van hul amptelike bekendstelling, ʼn lys van die nagenoeg 50 skrywers wat aan Dié Groot Debat gaan deelneem, uitgereik. Volgens Piet le Roux, redakteur van Dié Groot Debat, is hierdie platform gerat daarvoor om die plek te word waar die voorste menings in Afrikaans getoets en aangevul word. “Nuwe rubrieke word daagliks deur bekendes in Afrikaanse kringe opgelaai in ʼn ruimte wat by uitstek geskik is vir meningswisseling oor ʼn verskeidenheid aktuele kwessies,” verduidelik hy.

Volgens Le Roux vul Dié Groot Debat ʼn groot leemte. “Daar is ʼn behoefte aan ʼn interaktiewe Afrikaanse ruimte met ʼn gemeenskapsfokus en ietwat behoudende karakter, waar bekende meningsvormers en gereelde lesers in hierdie gees kan saamgesels. Dié Groot Debat is die ideale platform hiervoor,” sê Le Roux.

Hy beklemtoon dat die platform nie ʼn kritiekforum is nie, maar eerder sal poog om oplossings vir probleme wat ʼn invloed op die Afrikaanse gemeenskap het, te soek.

Meningsvormers oor die ekonomie en politiek wat deel vorm van Dié Groot Debat sluit onder meer bekendes soos prof. André Duvenhage (politieke kenner verbonde aan die Noordwes-Universiteit), prof. Koos Malan (regsprofessor aan die Universiteit van Pretoria en skrywer van die boek Politokrasie) en Dawie Roodt (direkteur en hoofekonoom by die Efficient Groep) in.

Op taal- en kulturele vlak sal Charl-Pierre Naudé (digter en wenner van die Ingrid Jonker-prys in 2007), dr. Michael le Cordeur (ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad), Maretha Maartens (skrywer, joernalis en voormalige redakteur van Finesse) en Danny Titus (uitvoerende direkteur van kultuur by die ATKV) ook aan Dié Groot Debat deelneem.

Daarbenewens sal menseregte- en burgerregte-aktiviste soos die sangers Steve Hofmeyr en Sean Else sowel as Rhoda Kadalie (voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie) en Kallie Kriel en Alana Bailey van AfriForum ook gereeld hul menings oor brandpunte op die webwerf lug.

Wat sê die skrywers? 

  • “Debat of gesprek help dat mense mekaar beter verstaan. Daarby stimuleer dit gedagtes en, hopelik, oplossings. Suid-Afrika het ʼn behoefte aan ʼn debat waar integriteit ʼn groot rol speel.” – Prof. Piet Strauss.
  • “Ons praat hopeloos te min met mekaar, veral oor kleurgrense heen. Dit lyk asof almal weer terugtrek in hulle kampies. Openhartige debatvoering, veral oor dit wat ons nie wil hoor nie, is sentraal tot ons demokrasie.” – Danny Titus
  • “Afrikaans is ʼn Afrikataal. Ek is van Afrika en is gewortel in Afrika. Ek is Afrikaans. Ek praat Afrikaans, debatteer in Afrikaans en bid in Afrikaans. Afrikaanse mense is praat-mense. Nou het Afrikaans ook ʼn plek op die internet, danksy Maroela. Nog nooit voorheen het Afrikaanse mense so ʼn groot en geloofwaardige platform gehad waar hulle hul menings oor aktuele sake sonder skroom kan lug nie. Op Maroela se Groot Debat kan ons ʼn groter demokratiese ruimte vir Afrikaans in Suid-Afrika oop praat.” – Dirk Hermann
  • “Vryheid van spraak is een van Suid-Afrika se kernregte. Afrikaners en Afrikaanssprekendes het, soos alle ander Suid-Afrikaners, die reg om gehoor te word. Tog word Afrikaanssprekendes, as ʼn minderheidsgroep in Suid-Afrika, dikwels nie gehoor nie. Maroela Media se Groot Debat is ʼn plek waar ons waarlik gehoor kan word.” – Kallie Kriel

Piet le Roux
Redakteur: Dié Groot Debat, Maroela Media

 

Die volledige lys van skrywers wat aan Dié Groot Debat op Maroela Media (www.maroelamedia.co.za) gaan deelneem, is soos volg:

  • Alana Bailey (adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en skrywer van verskeie kinderboeke)
  • André Alkema (voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans)
  • André Duvenhage (politieke kenner verbonde aan die Noordwes-Universiteit)
  • Bennie van Zyl (hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie, oftewel die TLU)
  • Cerneels Lourens (ʼn prokureur van Brits wat ʼn tyd gelede opspraak verwek het met ʼn saak oor taalgelykheid wat hy teen die regering aangepak het)
  • Charl-Pierre Naudé (skrywer/digter en wenner van die Ingrid Jonker-prys in 2007)
  • Chris Klopper (uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, oftewel die SAOU)
  • Danie Goosen (voorsitter van die FAK)
  • Dr. Danie Langner (uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand)
  • Danny Titus (uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV)
  • Dave Steward (uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting)
  • Dawie Roodt (direkteur en hoofekonoom by die Efficient Groep)
  • Prof. Deon Geldenhuys (professor in politiek by die Universiteit van Johannesburg)
  • Deon Opperman (dramaturg)
  • Dr. Dirk Hermann (adjunk uitvoerende hoof Solidariteit)
  • Ernst Roets (kommunikasiehoof van AfriForum en voormalige voorsitter van AfriForum Jeug)
  • Flip Buys (uitvoerende hoof: Solidariteit)
  • Frans de Klerk (voormalige uitvoerende hoof van die Orania Beweging en uitvoerende hoof van die Orania-dorpsbestuur)
  • Freek Robinson (joernalis, aanbieder)
  • Dr. Heinrich Matthee (voormalige politieke ontleder by die Sentrum vir Militêre Studies in Stellenbosch)
  • Henk Schalekamp (adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit)
  • Ina Wilken (lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie)
  • Isak Burger (direkteur van Radio Kansel)
  • Jaco Kleynhans (uitvoerende hoof van die Orania Beweging)
  • Jacques van der Elst (hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns)
  • Jan Bosman (hoofsekretaris van die Afrikanerbond)
  • Kallie Kriel (uitvoerende hoof AfriForum)
  • Prof. Koos Malan (professor in regte by die Universiteit van Pretoria, skrywer van Politokrasie: Dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop)
  • Prof. Lawrence Schlemmer (een van die voorste sosiale wetenskaplikes in die land en direkteur van MarkData)
  • Louis du Plessis (oud-dosent by die millitêre akademie in Saldanha)
  • Maretha Maartens (skrywer, joernalis en voormalige redakteur van Finesse)
  • Dr. Michael le Cordeur (dosent in Afrikaans by die fakulteit van opvoedkunde van die Universiteit van Stellenbosch, ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad)
  • Petrus Kriel (dominee van die NG Gemeente Levubu)
  • Prof. Piet Strauss (moderator van die NG Kerk en professor in teologie by die Universiteit van die Vrystaat)
  • Polla Roux (voormalige sekretaris van die vakbond Solidariteit en die Blou Bulle Rugby-unie en voormalige Noord-Transvaal-rugbyspeler)
  • Rhoda Kadalie (menseregte-aktivis en voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie)
  • Sean Else (sanger, liedjieskrywer en aktivis)
  • Steve Hofmeyr (sanger, liedjieskrywer en aktivis)
  • Theo de Jager (adjunkpresident van AgriSA)
  • Wannie Carstens (direkteur van die Skool vir Tale van die Noordwes-Universiteit, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns)
  • Wikus Buys (direkteur van Akademiese Reformatoriese Opleiding en Studies, oftewel Aros)
  • Willie Spies (regsverteenwoordiger vir AfriForum en prokureur by Hurter Spies Ing.)

Oor Maroela Media

Maroela Media is ʼn internetkuierplek in Afrikaans. Die webwerf is daarop gemik om besoekers op hoogte te hou van alles wat in die Afrikaanse gemeenskap aan die gebeur is. Dit is ʼn nuwemediaplatform waar Afrikaanssprekendes hulle stem kan laat hoor, waar meningsvormers sinvol oor aktuele sake kan debatteer en waar nuus relevant tot die Afrikaanssprekendes se leefwêreld aangebied word. Daarbenewens is Maroela Media die plek waar Afrikaanse letterkunde, uitvoerende en skone kunste en musiek bevorder kan word. Dit is ook ʼn tuiste vir kreatiewe denke in Afrikaans. Klik hier om die Maroela Media-profiel af te laai.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

chris ·

Behalwe vir Steve Hofmeyr lyk die res van die groot name maar vir my na die tipiese afrikaner liberale elite.

Johan ·

Chris, ek stem saam met jou. Ek wonder wie ‘besluit’ wie nou eintlik die grootste name in Afrikanerdom is. Ek ruik ‘n broederbond rot!

Mike ·

Dit sal ook net by praat bly. Ek soek deesdae die organisasies op wat prakties iets doen vir die afrikaner, wat nie net webwerwe skep om nuttelose debat uit te lok nie. Die deelnemers aan die groot debat is meer afrikaanses wat maar net sy mening kom gee en dit is maar waar dit gaan bly. Die tyd vir oneindige debat is lankal verby dit is tyd om te begin doen.

Susan Lombaard (Bestuurder: Maroela Media) ·

Hallo Mike, Johan en Chris
Dankie vir julle terugvoer.
Ons beroep ons geensins daarop dat ons besluit of weet wie die grootste name onder Afrikaanssprekendes is nie – ons sê wel “42 van die” grootste name. As julle kyk na die lys skrywers wat tans aan Die Groot Debat deelneem en reeds deelgeneem het, sal julle sien dat ‘n groot klomp skrywers wat nie deel van die oorspronklike skrywerslys was nie, intussen by ons aangesluit het. Ons verwelkom Afrikaanse meningsvormers wat enige mening huldig. Sedert Maroela Media en Die Groot Debat se ontstaan sowat 10 maande gelede het ons ‘n groot hoeveelheid uiteenlopende debatte en menings gepubliseer. Ek dink as julle hierna gaan kyk, spreek dit vanself.
Piet le Roux, redakteur van Die Groot Debat, sal binnekort meer kommentaar op jul standpunte lewer.

Wat Maroela betref: Hou ons maar dop! Maroela Media is ‘n internetkuierplek vir Afrikaanssprekendes, en enig in sy soort. Platforms soos hierdie het op sigself bestaansreg – een van die belangrikste maniere om seker te maak dat ‘n taal voortbestaan, is deur die mediafunksie daarvan te beskerm, asook om seker te maak dat die mense wat die taal gebruik, dit op ‘n hoë standaard doen. Deur bloot die webwerf in stand te hou op die standaard waarop dit is, is op sigself om iets te “doen” vir Afrikaans.

Buiten die webwerf is Maroela betrokke by ‘n groot verskeidenheid projekte vir die bevordering van Afrikaans. Een hiervan is die vervaardiging van goeie kwaliteit Afrikaanse radioproduksies vir gebruik deur gemeenskapsradiostasies. Die eerste programme word binne die volgende maand bekend gestel.

Dis vir ons uiters belangrik om seker te maak dat ‘n taal soos Afrikaans ‘n stewige houvas in tegnologie kry. Dis ‘n tradisioneel Engelse veld, en deur vir Afrikaanssprekendes ‘n alternatief in Afrikaans daar te stel, doen ons baie om die behoud van Afrikaans te bevorder. Ons stel onder meer tans ondersoek in na die ontwikkel van slimfoontoepassings in Afrikaans, spesifiek vir kinders – ‘n sinvolle teenvoeter vir die swak taal wat jongmense deesdae spesifiek op hul fone gebruik.

Laastens: Ek verseker julle dat ons spannetjie aan die agterkant van Maroela Media passievol is oor Afrikaans – ons het geen verskuilde agendas nie. Kom loer gerus eendag by ons in, ontmoet ons, hoor hoe ons voel oor hierdie baba van ons en besluit vir julle self.

Vriendelike groete, Susan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.