Die invloed van Covid-19 op Wêreldgeletterdheiddag

lees-boek-seun

(Foto: Tookapic/Pexels.com)

Deur Marlien van der Westhuizen

Vir meer as 40 jaar vier ons op 8 September Wêreldgeletterdheiddag omdat geletterdheid nie net ‘n mensereg is nie, maar die grondslag van alle leer is. Geletterdheid is van kritieke belang vir sowel ekonomiese ontwikkeling as individuele en gemeenskapswelstand.

Enige ekonomie word verbeter as leerders hoër geletterdheidsvlakke het en die verband tussen opvoeding, gesondheid en voeding is onderling en aanvullend. Volgens Unesco is skole in meer 190 lande gedwing om te sluit weens die pandemie wat die onderrig van meer as 1.27 miljard leerders ontwrig het. Hierdie ontwrigting het ernstige gevolge vir wêreldgeletterdheid.

Laer wêreldgeletterdheid is ʼn omvangryke krisis wat almal beïnvloed. As ‘n persoon sukkel met lees, is die sosiale impak diep. Iemand wat nie kan lees nie, kan ‘n lae selfbeeld hê en met emosies soos skaamte, vrees en magteloosheid worstel. Leerders wat met geletterdheid sukkel, meen hulle is onwelkom in ’n akademiese omgewing en vermy dikwels situasies waar hulle onbekwaam mag voel. Geletterdheid infiltreer alle lewensterreine en is fundamenteel verantwoordelik vir die manier waarop ons leer, werk en sosialiseer. Geletterdheid is noodsaaklik vir ingeligte besluitneming, persoonlike bemagtiging en gemeenskapsbetrokkenheid.

Ongeletterdheid vloei dikwels van geslag tot geslag oor, ongeag of kinders skoolgaan.

Baie ongeletterde volwassenes het as kinders soveel frustrasie ervaar dat hulle doelbewus leeraktiwiteite in die latere lewe vermy het. As hulle later self kinders het, is hulle geneig om (dikwels nieverbaal) hul negatiewe gevoelens teenoor geletterdheid en skoolonderrig aan hul kinders oor te dra, en sodoende ‘n intergenerasie kringloop van ongeletterdheid voortsit.

Die gevolge van hierdie siklus is in verskeie opsigte baie skadelik. Behalwe dat ongeletterde individue self in hul daaglikse lewe geraak word en hul toekoms in gevaar gestel word, het hierdie “plaag” ‘n negatiewe uitwerking op die samelewing as geheel – beide sosiaal en ekonomies.

Die Covid-19-krisis het lig gewerp op die onvoorbereidheid van infrastruktuur, onderwysstelsels, programme en mense om die kontinuïteit van onderrig en leer in so ‘n situasie te verseker. Daar moet ernstig gekyk word na maniere waarop die jongste tegnologie gebruik kan word om die kontinuïteit van onderrig te verseker. Onderwysers speel ‘n belangrike rol in die herbedinking van suksesvolle onderrig- en leerstrategieë om die impak van die Covid-19-krisis tot die minimum te beperk.

Op Wêreldgeletterdheiddag 2020 moet daar opnuut ‘n beroep op beleidmakers, advokate, onderwysers, gesinne en studente gemaak word om hul kragte saam te snoer en tot aksie oor te gaan. Dit is ‘n algemene verantwoordelikheid om te verseker dat leerders aanhou leer tydens en ná hierdie wêreldwye krisis.

  • Marlien van der Westhuizen is ‘n navorser by Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.