Die lekkerte om in jou eie taal te leer

(Foto via Afrikaans.com)

Is jy een van die bevoorregtes wat in jou moedertaal kon skoolgaan? Ongelukkig is dit nie ʼn voorreg wat almal beskore is nie. Die klem op die belangrikheid van moedertaalonderrig het reeds dekades gelede navorsers se belangstelling begin prikkel en daar is meer as genoeg bewyse gelewer om met reg te kan sê: Moedertaalonderrig bevorder nie net leerderprestasie nie, maar is ook die bousteen van meertaligheid en kulturele diversiteit.

In Suid-Afrika neem ons ook jaarliks deel aan die viering van Internasionale Moedertaaldag. Hierdie dag, wat in 1999 deur Unesco ingestel is, word sedert 2008 op 21 Februarie gevier. Ongelukkig word daar hier in ons land, met elf amptelike tale, nog nie naastenby genoeg gedoen om die voorreg van moedertaalonderrig deel te maak van elke kind se lewe nie. Talle kinders word weens kwessies soos ʼn plek in ʼn spesifieke skool, onbeskikbaarheid van leermateriaal en ouers se wanpersepsies, van hierdie voorreg ontneem.

Een van die algemeenste wanopvattings oor moedertaalonderrig is mense wat besluit dat Engels ʼn sogenaamde wêreldtaal is, en daarom moet hulle kinders, wat in werklikheid Afrikaans, isiXhosa, of isiZulu as huistaal het, in Engels onderrig word. Het jy geweet dat in lande soos Nederland, Duitsland, Frankryk, Japan, China en Indië die kinders in hulle moedertaal onderrig word? Tog beskik hierdie lande tans oor van die grootste ekonomieë in die wêreld.

ʼn Paar rolspelers het vanjaar hande gevat om die belangrike boodskap ook in die Suid-Afrikaanse samelewing te versprei. Afrikaans.com, die Afrikaanse Taalraad, die ATKV, Fedsas, VivA en Helpende Hand het saamgewerk en al die inligting rakende die belangrikheid van moedertaalonderrig, is byeengebring op ʼn moedertaalonderrig-blad op  Afrikaans.com se webwerf.

Op die moedertaalblad is daar gratis plakkate beskikbaar wat afgelaai kan word en enige onderwyser of ouer kan hierdie kleurvolle plakkate gebruik om klaskamers mee op te vrolik. Daar is ook ʼn moedertaalboekie beskikbaar op die moedertaal-blad wat enige ouer wat die belangrike besluit moet neem oor ʼn kind se taal van onderrig, kan bystaan. Al weet jy Afrikaans is die regte keuse vir die onderrig van jou kind of kleinkind, ken jy dalk iemand wat nog nie finaal besluit het nie. Met dié boekie in die hand, is dit soveel makliker om ʼn ingeligte besluit te neem.

Dana Snyman, wat ook deel is van Afirkans.com se span ambassadeurs vir Afrikaans, sê hy kry kinders jammer wanneer hulle Afrikaanse ouers besluit om hulle in Engels groot te maak, of laat skoolgaan. “Daar lê vir my iets baie oppervlakkig in so ʼn besluit. Sulke ouers redeneer gewoonlik hulle wil die beste vir die kind hê. As jy regtig die heel beste vir jou kind wil hê, sal jy iets doen wat vir jou kind se siel die beste gaan wees, want die siel is belangriker as enigiets anders. Niks anders kan jou kind se siel so opvoed soos sy moedertaal nie.

“Ek dink op ʼn sekere manier is ʼn mens eentalig en dit verwys na die taal waarin jy grootgeword het. Dis ʼn reusebonus as jy meer tale as jou moedertaal kan praat. Die taal waarin jy bid en dink en droom, is die taal waarin jy ook gaan doodgaan en dit is jou moedertaal. Afrikaans is so ʼn deel van wie ek is, ek kan myself nie eers indink dat ek hierdie dinge moet doen in enige ander taal nie. Wanneer ʼn mens na wêreldskrywers kyk, en ek praat oor al die eeue heen, is daar seker nie meer as ʼn handvol van die groot, groot skrywers, wat in ʼn ander taal as hulle moedertaal geskryf het nie,” sê Dana.

Nog ʼn ambassadeur vir Afrikaans wat baie sterk oor hierdie saak voel, is Elize Parker. Hoor wat sê Elize oor moedertaalonderrig:

Onthou ook: Kinders wat in hulle moedertaal leer en daardeur meertalig word:

  • kry ’n geweldige leervoorsprong omdat hulle verstand vinniger ontwikkel;
  • het gewoonlik baie meer selfvertroue as kinders wat in ’n tweede taal moet leer;
  • het beter taalvermoëns as enkeltaliges en leer makliker ’n derde taal aan;
  • het toegang tot baie meer geleenthede in Suid-Afrika en in die wêreld;
  • het minder vooroordele, verstaan ander kulture beter, en hanteer verandering beter; en
  • leer ʼn derde taal vinniger aan en kan ander mense help om beter te kommunikeer.

Om meer oor die onderwerp te wete te kom, gaan loer sommer nou in by www.afrikaans.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanna ·

Ek is versot op my taal, maar nie ‘n taalkundige nie. Ek probeer egter onthou om basiese Afrikaanse reëls toe te pas (sommige wat ek reeds in Gr. 2 geleer het!). Mense vergeet dat as die letter “s” twee woorde verbind word dit as een woord geskryf – bv. werk plus plek word werksplek. Verder, en hoor dit daagliks op televisie, praat mense van “mees wonderlikste” in plaas van “mees wonderlike” of net “wonderlikste”. En in die fliek Pad na Jou Hart is die woord “profyt” as ”profeit” gespel – hoe kon hulle dit miskyk? As kind het ek televisie, boeke en gedrukte media as hulpmiddel gebruik om my Afrikaans te bevorder. Deesdae is die basiese taalgebruik skokkend op televisie. Kan draaiboeke en tekste nie ook geredigeer word, soos boeke wat uitgegee word geredigeer word, nie (sonder om aan ‘n karakter te verander)? En stel vir jouself ‘n uitdaging – vir elke Engelse woord wat jy sê, dink aan wat die Afrikaanse woord is en gebruik dit. Eers dán kan jy sê dat jy trots Afrikaans is. Groete vanuit Amerika (waar ek Afrikaanse nuus en Afrikaanse programme d.m.v. Showmax volg).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.