Die minder mooi neef

ou-hande-drankie

Argieffoto.

Ludwig Visser

“Nou wat darem waar is, is wraggies wáár,” laat Oom Sopie hoor. Ons het hom dadelik geglo, wat dit ook al is waarvan hy gepraat het. Want wat Oom Sopie waar verklaar het, sal in geen hof betwis kan word nie. Nie eens deur die beste advokaat nie.

Ons klompie Boesmanlanders het daar in die kerksaal op Pofadder gesit, so in ʼn halfmaantjie, sodat ons lekker kon gesels. Dit was kerkbasaar en die vrougoed was almal iewers by die tafels besig om te koop en te gesels. Hulle het net kort-kort hul aankope aangedra daar na ons toe en in hopies by ons neergesit om op te pas. So dan en wan het ene nog geld kom haal, maar dan weer pylreguit tafels toe koers gekry.

Kerkbasaar is mos ʼn groot geleentheid. Vir die vrouens om te loop kyk wat die ander vrouens in die ander wyke gemaak en gebak en gebrou het, vir die kinders om hulself te ooreet en oordrink aan lekkergoed en borrelrige koeldrank, en vir ons mansmense om sommer net bietjie te gesels en ʼn slag ander stemme te hoor as werksmense wat skeer of skaap laai, of jakkalse wat in die nag tjank as hulle jou skaaplammers kom soek.

Maar ons het ook nie ledig daar gesit nie. O, nee, ons het ook ons bydrae gelewer. Ons het geëet. Braaivleis en basaarpoeding. Party van ons was al verby ʼn besending braairibbetjie en roosterkoek en goed op pad met die bakkie poeding. Oom Sopie ook, en dis juis oor die poeding dat hy die waarheid so as waarheid bevestig het.

“Kyk,” sê hy weer, “poerieng is gewoonlik lekker. Soetgoed is mos altyd lekker. Maar gʼn poerieng is so lekker soos dié wat ʼn mens by ʼn kerkbasaar kry nie. So ʼn bakkie vol, rooi en groen en geel en met so ʼn soet sousie oor, is mos die lekkerste van al die lekkerstes. Dan is daar nog traaifel ook. Nog méér deurmekaar, maar net so lekker, veral as daar so ʼn goeie skeutjie wyn in is. Dis hoekom ek sê as ʼn ding waar is, is hy wáár, en dis wáár wat ek julle nou oor die poerieng sê.”

Die ander wat ook soos Oom Sopie al by die ribbetjie verby was en met hul poeding besig was, het dit alles beaam. Party het selfs die beaam beaam deur op te staan en nog ʼn bakkie te gaan koop. Van dié wat nog met die ribbetjie besig was, het laat hoor dat so ʼn stukkie gebraaide en brakkerige Boesmanlandse skaaprib darem self nie te versmaai is nie.

“Nee,” sê Oom Sopie, “dis ook waar. Hy ís lekker, Maar weet julle, daar was ʼn tyd toe ons hierlangs sommer so vir bietjie afwisseling nogal graag ʼn stukkie vark geëet het. Buitendien sê die slim mense die varkvleis is glo ook baie beter vir ʼn mens se kollestrol as die vetterige skaapvleis. Moet net nie vir my vra hoe werk dit nie, want ek wéét nie. Vet is mos maar vet. Ek glo ook maar wat die dokters my inprent.”

Weer kon ons nie stry nie. Ons weet van skaap en van skaapsiektes en van skaap doseer en jakkals van kant maak, maar nie van medisyne en siektes nie. Al wat ons weet is as ons olik is en witdulsies nie help nie, sal lewensessens dalk die ding doen, dan volg kasterolie, en as dit ook nie help nie, gaan ons maar dokter toe.

“Die varkvleis-etery het ongelukkig so half doodgeloop destyds met die varkverkoue wat hier was,” verduidelik Oom Sopie aan die jongeres onder ons wat nog nie so mooi weet wat in passeerde jare gebeur het nie.

Ons ander moes eers mooi dink voordat ons onthou het van die varkgriepstorie so ʼn klompie jaar gelede. En vir Oom Sopie is griep en verkoue mos maar een en dieselfde ou neussiekte, daarom was hy tevrede dat die varke deur varkverkoue gepla is. As gevolg van dié siekte was die vervoer van varkvleis heeltemal verbied en kon mens nie eens ʼn lekker varkribbetjie ander plek in die hande kry om by die huis op die kole te braai nie.

“Julle praat nou so van die varkverkoue,” gaan Oom Sopie voort, skoon vergeet dat hý die storie aangestoot het, en veeg so skelmpies-skelmpies met sy ou groot voorvinger die laaste sousies onder uit sy poedingbakkie en lek sy vinger af. “Julle het nou nie die ou klomp Smitte geken wat vroeër doer diep in die Boesmanland gewoon het nie. Goeie boere, maar hulle was bekend daarvoor dat hulle nou nie juis aansienlike mense was nie. Eintlik was die meeste van hulle maar vrek lelik. Jy kon spoke jaag met hulle.

“Twee van die lelikste Smitte, twee broers, het op ʼn erfplaas saam geboer, en so deur die varkverkoue raak hulle darem lus vir ʼn stukkie varkvleis, sommer net so vir iets ánders.”  Oom Sopie beduie eers gou sy seun Snapsie om vir hom nog ʼn bakkie poeding te gaan koop. “Maar mens kon g’n dooi stuk vark nêrens in die hande kry nie,” gaan Oom Sopie voort. “Die poelieste het jou selfs langs die pad voorgekeer en as jy dan vark by jou in die mouter gehad het, het hulle dié net daar afgevat. Seker om later self te loop braai.

“Maar die twee Smitte kry ver van hulle af by ʼn plaas buite die verkouestrook ʼn speenvark in die hande en gaan haal hom met die bakkie. Dis ʼn Saterdagaand. Hulle meen die poelieste sal mos Saterdagaand self braai, hulle sal nie die pad oppas nie. Maar dis net waar hulle ʼn mistykie maak, want daar is toe wel poelieste op hul pad aan diens.” Snapsie bring die bakkie poeding en Oom Sopie moet eers proe of die waar nog wáár is voordat hy kan voortgaan.

“Hulle gewaar die poelieste voor, maar sê vir mekaar varkverkoue of te not, maar hierdie speenvark gaan vanaand deur plaas toe. Hulle maak toe die speenvark tussen hulle sit, op die bakkie se voorste sitplek, en een van die twee druk sy breëband-plaashoed op die vark se kop  vas. Toe die poelieste hulle voorkeer, sit vark se kjend penorent in die donker onder die hoed in die bakkie tussen die broers. Toe die poelieste vra of hulle varkvleis het, sê die twee ewe sedig nee, hulle het gʼn dooi flentertjie varkvleis naby hulle nie. ‘En wie is die vriend daar by julle’, wil die een poeliesman weet. ‘Nee, dis sommer ʼn ou neef wat kom kuier het’, sê die een broer. Die ander een pomp toe die vark met die elmboog in die rib, en die vark los so ʼn knor. Die poeliesman groet toe ewe die neef en sê hulle kan maar ry, alles lyk olraait.

“Toe hulle so wegry, is die Smitte baie trots daarop dat hulle deurgekom het met hul vark en hulle dink al hoe lekker die vark gaan braai. Die poeliesmanne staan en kyk die bakkie so agterna. ‘Ai,’ sê die een, ‘daai twee ou broers is nou warempel nie juis twee mooi manne nie. Hulle is eintlik maar aan die vrek lelike kant. Maar ek sê julle, nog léliker is daai neef van hulle. Klink vir my die vent kan nie eens behoorlik praat nie, want hy knor dan net as mens hom groet. Dalk het hy nog varkverkoue’.

“Die Smitte is die nag deur plaas toe met hul onaansienlike neef, maar volgens wat hulle later vertel het oor hoe lekker daardie ‘neef’ toe gesmaak het, het dit hulle min geskeel wat die poelieste van hom gedink het. Solank hulle hom net kon geëet kry.”

Ons het Oom Sopie se storie geniet, of dit so waar was as sy beoordeling van die basaarpoeding, het ons nie geweet nie. Ons was net dankbaar dat daar nog nie weer varkverkoue in die geweste was nie, want sê nou dit het gemaak dat ander doen en late soos kerkbasaars ook verbied word? Sonder ʼn kerkbasaar sou ons die poeding misloop, sonder poeding die braairibbetjie, en sonder die braairibbetjie sou ons nooit van die minder mooi neef gehoor het nie! Ook nie of Oom Sopie se waar storie wáár was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Delia ·

Dankie Ludwig…..het dit baie geniet! Plaas asb vir ons meer Boemanland-stories!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.