Die missie van tradisie

Foto: Verskaf

Deur Petronel Fourie

Skaapboud op ʼn Sondag en ʼn salige middagslapie daarna, laggende kinders wat die Kersboom vroeg in Desember versier, ʼn soen vir elk van die sestien familielede wat verjaarsdaggeskenke aandra, “lank sal hul lewe in hul gloria” wat uitbundig by ʼn bruilof uitgebasuin word. Dit is alles stokou tradisies wat ons – sonder om veel daaroor te dink – van week tot week, maand tot maand, jaar in en jaar uit voortsit. Tradisies soos dié en tientalle ander is die lewensaar van ʼn gemeenskap, die hartklop van ʼn kultuur.

Die HAT omskryf tradisie as sekere gebruike, opvattings en gevoelens wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word. Op sy beurt beskryf die Etimologiewoordeboek van Afrikaans tradisie as oorgelewerde geestelike besittings soos opvattings, gebruike en geloof, asook kontinuïteit van ontwikkeling binne ‘n bepaalde groep. Die woord se oorsprong kom uit die Nederlandse traditie, die Franse tradition of direk uit Latyn traditio, wat “oordrag” of “oorlewering” beteken.

Tradisie word ook beskryf as ʼn leefwyse, roetine, ʼn voortgang. Tradisionalisme kom voor wanneer sekere waardes uit die verlede as onontbeerlik vir die hede en toekoms gesien word.

Die begrip tradisie word in verskeie kontekste ingespan. Mens kry kosmaaktradisie, wat vir die Afrikaner koeksisters en melktert insluit. Kos is in soveel opsigte ’n tasbare, smaaklike tradisie. In 1994 het Elria Wessels, senior navorser by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein, die eerste uitgawe van die boek Boerespyse die lig laat sien, met resepte van geregte wat hoofsaaklik voor, tydens en ná die Anglo-Boereoorlog in die binneland van Suid-Afrika gemaak is. Tydens die oorlog was biltong en stormjaers (vetkoek) byvoorbeeld gewilde tradisionele kos omdat dit nie gou bederf nie. Die verlange na hul vaderland het krygsgevangenes in Ceylon, Bermuda, Indië en St. Helena aangespoor om tradisionele geregte voor te berei en daarom is talle pannekoek- en gemmerbierstalletjies in die kampe deur entrepreneurs begin. Met die tradisie van handgeskrewe resepteboeke is resepte van geslag tot geslag oorgedra.

Daar is ook godsdienstradisies, soos die liturgie of handelinge en liedere by ’n erediens in sekere kerke. Orrelspel begelei tradisioneel die geestelike gesange en daardie gesellige koppie tee ná die laaste amen is ook al as tradisie vasgelê.

Die uniform is deel van kledingtradisie, hetsy dit die onweerstaanbare weermaguniform van ouds is, of ʼn doodgewone skooluniform wat ʼn kind deel van die groter geheel maak. In die Afrikaanse musiektradisie slaan die konsertina sekerlik die figuurlike kitaar, met die bekfluitjie ʼn kortkop agter. Buiten die lekker boeremusiek wat by die konsertina uitborrel, beskryf dié instrument ook ander verskynsels in die volksmond. As iemand se kouse konsertina speel om sy enkels, lê dit op sy skoene en moet hy waarskynlik sy sokkies optrek! Maar wanneer sy knieë die dag konsertina speel, is hy so bang dat sy bene bewe.

Literêre tradisie is nog ʼn tak van die stokou reus van ʼn boom genaamd Tradisie. In die publikasie Literêre terme en teorieë skryf Anna-Marie Bisschoff dat die term tradisie in sowel ‘n positiewe as ‘n negatiewe sin gebruik kan word. Daar word ‘n positiewe konnotasie aan geheg as ‘n mens sê dat ‘n skrywer se werk strook met ‘n eeue oue en geëerde tradisie. Wanneer ‘n mens egter beweer dat sy werk bloot tradisioneel is, word tradisie in ‘n negatiewe sin gebruik.

Sy skryf verder dat tradisie ‘n negatiewe konnotasie het wanneer ‘n skrywer passief en verbeeldingloos van sy kulturele erfenis gebruik maak; wanneer hy die konvensies van die verlede gebruik om nuwe lig op die hede te werp of die hede in die lig van die verlede te sien, word ‘n positiewe betekenis aan tradisie geheg.

In die psige van die moderne Afrikaner kan die pad van tradisie soms met duwweltjies besaai wees. Ons worstel juis met daardie vraagstuk oor of tradisie – ook buite die literêre konteks – ʼn positiewe of negatiewe uitwerking het. Is dit nog reg om van oom en tannie te praat, en vir wie presies noem ek deesdae só? Sluit tradisie te min mense in, en te veel uit? Is dit nog aanvaarbaar in die tyd waarin ons leef, of hou dit my terug in my strewe na sukses en geluk in sonnige Suid-Afrika?

Afrikaner

Argieffoto.

In sy boek Die Afrikaner skryf Herman Giliomee dat party mense dink hulle moet ʼn keuse tussen Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap maak.

“Daar is ʼn wanopvatting dat ʼn mens moet kies tussen jou betrokkenheid by jou land en die samelewing as geheel en jou bepaalde taal- of etniese gemeenskap. Die toekoms van Afrikaners en Afrikaans as taal lê in veelvuldige lojaliteite: Afrikaner én Suid-Afrikaner, Afrikaner én Afrikaan, Afrikaner én Westerling, Afrikaner én wêreldburger.”

In onlangse jare het die gestaltes van Afrikaner-wees radikaal verander. Dit beteken nou ʼn vrye, mobiele en soms virtuele gemeenskap, wat mekaar op kuns- en musiekfeeste vlugtig ontmoet, op die internet met mekaar in aanraking bly en moeite doen om Afrikaans in die huisgesin en op skool en universiteit lewend te hou.

“As Afrikaners as gemeenskap en Afrikaans as taal wil oorleef,” skryf Giliomee, “sal mense moet weet uit watter hoek hulle kom en hul eie storie – hul eie “historie” – ken.”

Is tradisie dan nie juis die alledaagse uitleef van daardie eie storie, daardie goue telefoonverbinding met die verlede nie? NP van Wyk Louw het immers gesê dat om uit ʼn tradisie te lewe is om in ’n bestendige debat met die verlede te staan. ʼn Gesonde, gebalanseerde debat, wat nie vir ʼn stryery soek nie, maar bloot die goeie waardes uit die verlede voortsit.

Winston Churchill het dit goed opgesom: “As ons ʼn getwis tussen die verlede en die hede begin, sal ons vind dat ons die toekoms verloor het.”

Kom ons behou die toekoms en bou daaraan, tradisies en al.

  • Hierdie artikel is geplaas met die vergunning van Flink, die FAK se tydskrif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Julius ·

Afrikaan is enige swart stam van Afrika, dierek vertaal uit engels (african) ek is ‘n Afrikaner en nie ‘n Afrikaan nie.

Kerneels ·

Net so, Julius. Ek is ‘n trotse Afrikaner van Suid-Afrika – en nie skaam daaroor soos baie mede-Afrikaners wat asseblief tog net polities korrek wil wees nie.

John ·

… dankie tog dat ons nie weer moes hoor dat koeksisters uit die Ooste na ons gebring is nie… die ou koekroller waarmee boervroue gereeld geslaan word… Dit was gesofistikeerde Europeèrs (via die Joods-gedrewe VOC-skeepsredery (die waarheid)) wat hier voet-aan-wal gesit het en kruie was toe reeds honderde jare in gebruik. Romeinse resepteboeke is in biblioteke beskikbaar… Tannie Maria en oom Jan was uit die voorste burgery en hul kleredrag toon hul fyn smaak. Foto’s en skilderye uit vervloè dae plus geskrifte dien as bewysstukke… diè dat sommiges a la 1984 moeite doen om die geskiedenis te wil oorskryf/herrangskik vir ‘n verhoogstuk van ‘waarhede’…

André André ·

Lekker gelees, net jammer tradisionele skaapboud is lankal nie meer vir ons beskore nie, nie eens ‘n tjoppie nie, maar ons geniet nog ons rys met ‘n lekker sous oor en aartappels, groente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.