‘Die pad na selfbestuur’: ‘Hulle, julle en ons’

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

Flip Buys omskryf in die slothoofstuk van sy boek, Die pad na selfbestuur, ’n gesprek wat hy met ’n groep sakemanne gehad het oor die toekoms van die land. Buys beskryf hoe een van die sakemanne voorstel dat die oplossings vir die land daarin opgesluit lê dat die regering die polisie moet regruk, die misdaadprobleem oplos, Eskom en die SAL en ander sukkelende staatsondernemings privatiseer, die staatsdiens moet besnoei en belyn en nog vele meer doen om sakevertroue in te win.

Buys skryf egter hoe hy in antwoord op die sakeman se voorstelle ten volle met hom saamstem, maar tog realisties is: “Ek is dit volkome eens met jou voorstelle. Hulle moet dit beslis alles doen, en ek sal baie bly wees as hulle dit doen. Die probleem is net dat al jou voorstelle van hulle afhang, en dat nie een van ons enigsins beheer het oor wat hulle doen nie. Hulle regeer die land, hulle maak wette en beleid, en ná 25 jaar kan ’n mens moeilik tot ’n ander gevolgtrekking kom as dat hulle nie ’n moderne land met ’n verouderde ideologie kán regeer nie.”

In opvolg hierop beskryf Buys hoe ’n ander sakeman hom toe vra: “Kan julle nie met die regering praat nie, dit help tog nie om net te kritiseer nie. Ja, julle is soms té teenkantig, julle moet eerder meer met hulle probeer saamwerk, die ‘ons en hulle’-ding werk nie. Dit is tyd dat julle met die regering moet praat. ’n Mens kan nie net op die kantlyn sit en kritiseer nie.”

Weereens antwoord Buys ook dié sakeman diplomaties: “Ek stem heeltemal saam. Daarom het ons al baie gesprekke gehad, en daarom probeer ons om meer met die regering te praat. Hulle het oorweldigende politieke mag, en daar is geen sin daarin om in ’n strategiese konflik met hulle betrokke te raak nie. Dit is in ons eie én in landsbelang dat ons met die regering saamwerk. Die probleem is net dat die regering sê hulle wil met almal praat, maar tog luister hulle na niemand nie ‒ nie eens as ’n mens met hulle wil saamwerk nie.”

(Grafika: Verskaf)

Uiteindelik vra ’n ander aan Buys wat dan nou eintlik die oplossing is. “Ons moet op die ‘ons moet’-sake wat binne ons beheer is, fokus,” antwoord Buys hom.

“Ek wens ook hulle sal alles doen wat julle voorstel, en ek wens ons het die bronne om al jul voorstelle uit te voer, maar dit is ongelukkig buite ons vermoë. Daarom is ons hele plan gegrond op ‘ons moet’- en ‘ons kan’-planne ‒ dit is dinge wat ons kán uitvoer, al is dit moeilik.

“Ons kan nie die land se misdaadprobleem oplos nie, maar ons kán buurtwagte stig en saam met die polisie en sekerheidsmaatskappye dorp vir dorp veiliger maak. Ons kan nie die land se onderwysprobleem oplos nie, maar ons kán Afrikaanse skole ondersteun. Ons kan nie die land se tegniese opleidingskrisis oplos nie, maar ons kán ’n tegniese kollege bedryf.”

Buys sluit uiteindelik sy boek af met die suksesresep wat ons voorouers ingespan het om krisisse te oorkom:

  1. Neem een groot krisis.
  2. Meng dit met leierskap en visie.
  3. Gooi ’n paar stewige skeute wilskrag by.
  4. Versterk die mengsel met kinderlike geloof.
  5. Vermenigvuldig dit met helpmekaar-energie.
  6. Klits hope harde werk by.
  7. Voeg ’n knypie broedertwis na smaak by.
  8. Versoet met ’n groot skep saamstaan.
  9. Bak nou vir sowat ’n dekade in ’n groot bak vol volharding en vasbyt.

Luister na hierdie hoofstuk soos voorgelees deur Martin Jansen.

  • Die boek kan ook op Kraal Uitgewers se webwerf bestel word. Maroela Media-lesers kry spesiale korting op Die pad na selfbestuur. Gebruik die woord selfbestuur as koeponkode om R100 afslag te kry wanneer jy hierdie besonderse boek aanlyn bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Selfbestuur in SA is ‘n onderwerp wat al hoe sterker voorkom en meer invloedryke mense stem daarmee saam. Ek het onlangs gelees wat ‘n bekende sekerheids ontleder se voorspelling vir SA se toekoms is, hy is baie optimisties en deel ook die sentiment van selfbestuur. ‘n Meer praktiese voorbeeld van ons land se toekoms is dat die ANC nog steeds die regering van die dag gaan wees (op papier) maar dit gaan ‘n kunsmatige regering wees wat gaan bestaan uit mense wat by die Unie gebou werk met niks tot geen impak oor die bestaan van die land. Die mense self (publiek) gaan SA vanuit streke beheer en onderhou met mense wat vanuit die streke verkies en aangestel gaan word. Die wat Afriforum se beleid en planne volg sal weet van die streke wat alreeds geidentifiseer is om die planne te implementeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.