Die taal van skaak

skaak-strategie-dink-skaakbord-skaakspeler

(Foto: Pixabay/Pexels)

Deur Karien Brits

Daar is iets bevredigends daaraan om vir iemand “skaakmat” te sê – dit is die beloning vir die inspanning van jou strategiese denke.

Vandag (20 Julie) vier ons Wêreldskaakdag en al is jy nie noodwendig die wêreld se volgende Garri Kasparof nie, mag jy vandag dalk minstens net ʼn paar interessante taalskuiwe leer maak.

Ek sal maar die eerste skuif maak en begin met die skaakterme wat in ons alledaagse taal voorkom, selfs al weet ons nie aldag wat die verskil tussen die pion en die loper (biskop) is nie. Gepraat van pionne. Ons verwys dikwels na mense wat deur ander gemanipuleer word om hulle (dikwels bedenklike) doelwitte te bereik as pionne. In die skaakspel is die pion ook die stuk wat die minste waarde het en die maklikste opgeoffer word.

Ons moet dan die regte skuif maak en hierdie mense, wat ander soos pionne behandel, in hulle voetspore stuit. Dan gebruik ons die uitdrukking: “Dit is tyd dat iemand hulle skaak sit.” As daar dan geen ander uitweg oor is nie, is dit skaakmat. Hierdie skaak kom van die Persiese shāh wat koning beteken en mat in Arabies beteken “hy is dood”. Skaakmat is dus: “die koning is dood”.

Skaak as spel is al eeue oud en dit is daarom nie vreemd dat die skaakstukke verskillende name en betekenisse oor die jare gekry het nie. Kom ons begin met die pionne. Die woord kom van die Oudfrans pehon wat uit Middeleeuse Latyn pedō kom en voetsoldaat beteken. So terloops, die Engelse pawn kom ook uit Oudfrans, maar in ander tale staan hierdie skaakstuk as plattelander (peasant) of seun bekend. Hulle is die voorste linie.

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra. (Foto verskaf)

Die skaakstuk wat in die laaste ry op die hoeke staan, staan as die toring bekend (in Engels is dit rook wat van die Persiese rukh kom en strydwa beteken). Hierdie skaakstuk staan in ander tale ook as ʼn kasteel, olifant, skip, boot of kanon bekend. Langs die toring staan die ruiter, dit is nou die skaakstuk wat soos ʼn perd lyk. In Engels is dit knight en in ander tale staan dit ook as ʼn springer en selfs as ʼn donkie bekend.

Die twee stukke weerskante van die koning en die dame (koningin) is die lopers, in ander tale is dit (en nou moet jy kophou) ook ʼn biskop, gek, jagter, skieter, kameel of olifant. Die dame wat langs die belangrikste stuk op die bord staan, is nie in al die tale vroulik of koningin nie, maar staan ook as die minister, premier, raadgewer of selfs vlag bekend.

Skaakmat!

  • Karien Brits is ʼn taalpraktisyn by Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Skaak word as die ‘Gimnasium van die Brein’ beskou. Skaak is ook die ‘Sport van Konings’. De doel van skaak is om die Koning in skaakmat te kry. Skaak ontwikkel ook verskeie lewensvaardighede.
Skaak help ook kinders om op akademiese gebied te presteer. Skaak kan ook as instrument gebruik word om misdaad te bekamp.

Scholtz ·

Smulkos vir die taalpuris en woordsmid. (Dis wat die artikel van Karien Brits is.)

Ten opsigte van skaak is daar die spreekwoord, “Aan die einde van die spel gaan die koning en die pion in dieselfde kissie.”

‘n Sjninese spreekwoord verklaar, “Hy wat na ‘n spel skaak kan kyk in stilte, is werklik uitsonderlik.”

“n Ander spreekwoord lui, “As jy met mense omgaan asof hulle pionne is, sal jy gou vind dat jou [deel van die] skaakbord leeg is.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.