Die tannie se boeke en die toekoms van Afrikaans

afrikaanse boekeDit was ʼn Donderdagmiddag ʼn rukkie ná werk toe die groot kar voor die Solidariteit- hoofkantoor stilhou. Die bestuurder staan half onseker nader: “Is dit hier waar ons klere en dinge vir die arm mense kan aflaai?” Ek stap nader, maar sê niks, my woorde droog partykeer op. “My ma’t gesê ons moet hierdie boeke sommer ook afgee. Dit het nog aan my pa behoort.”

Ek buk af om te groet. In die kar sit sy vrou, twee laerskoolseuntjies en sy ma. “Ons gaan Australië toe, oom,” sê een opgewonde. Die ouma sê niks. Ek vat die ou kleretas met die boeke; hy vat die sakke met klere, en roep die kinders om te kom help. Die tas is baie swaar. Sy vrou en ma stap ook saam. “Ja,” sê hy. “Ons het maar besluit om te trek. Die misdaad en al die dinge. Jy weet mos.”

Ek knik, want ek weet mos. By die Helpende Hand se stoor aangekom, fluit hy verbaas. “Waar gaan al hierdie goed heen?” Ek begin verduidelik, hou toe maar op toe ek sien sy kop is klaar in Australië.

“Sal jy asseblief die boeke uitpak?” vra hy. “Ons het ongelukkig die tas nodig.” Dis ʼn goeie tas. Ek begin uitpak. “Jammer vir die moeite, julle moet dit maar vir ʼn museum gee of iets,” sê hy. “Ma het ongelukkig nie plek in haar nuwe huis nie. Sy trek nou na ʼn lekker veilige plekkie.” Die ouma sê niks. Sy lyk nie baie opgewonde oor die lekker veilige plekkie waar sy nou alleen gaan bly nie.

Daar is goeie boeke. “Pa was baie lief vir Afrikaans,” sê hy. “Natuurlik is ek ook”, voeg hy vinnig by. “Ons gaan nog Afrikaans met hulle praat,” sê hy oortuigend na die kinders se kant toe. Sy vrou lyk nie so seker nie. Ek pak verder uit. Hierdie boeke is behoorlik gebruik. Langenhoven se Spookstories. Die Woordeboeke van die Afrikaanse Taal. FA Venter, Van Wyk Louw, Die Groot Verlange. Die FAK. Een Long Road to Freedom – onoopgemaak. “Dit was ʼn present. Pa is dood voordat hy dit kon lees,” sê hy half verleë. Hy sê nie hoekom h‎‎‎ý dit nie gelees het nie.

Ek en die ouma kyk na die hopie boeke op die tafel. Die man en die vrou kyk vir haar. Sy neem afskeid van iets meer as die boeke. “Sy is nou 83,” sê die man sag. “Hulle was onderwysers.” Hy voel skuldig oor die weggaan. Ek werk vinnig uit. Sy is gebore in 1925, in die jaar toe Afrikaans ʼn amptelike taal geword het. Binne een leeftyd, van die wieg tot in die museum. Ek sê dit amper vir hom, maar bedink my betyds. Ek tel een van die woordeboeke op, dink aan alles wat agter dit sit. Die reeks is nog nie eens voltooi nie, en die taal word al weer onderdruk, dink ek wrang. Die ouma tel een van MER op, vryf stadig daaroor, en sit dit neer sonder om daarna te kyk.

Die kinders raak nou woelig. “Ons moet ry,” raak die pa haastig. Ek wil iets vir sy ma sê, maar my woorde is nog op. Ek weet baie van haar, al het ek haar nog nooit werklik ontmoet nie. Ek wens ek het haar man ontmoet, al ken ek hom nou ook. Ek kan dink hoe mis sy hom in hierdie tyd. Hoe sy al by voorbaat na haar kleinkinders verlang. Ons stap stadig terug, weg van haar lewe af wat nou daar op die tafel lê.

By die kar gaan sy staan, en praat vir die eerste keer. “Gee die boeke vir ʼn laerskool,” vra sy. “Nie vir ʼn museum nie; ons taal is mos nie dood nie.” Ek sien die verlede en die toekoms van Afrikaans in haar oë. Ek verstaan presies, en voel lus om haar te salueer. Ek maak die deur vir haar oop, en terwyl hulle wegtrek, wonder ek of daar nie so iets is soos ʼn Taalmisdaad teen die Mensdom nie.

Die Solidariteit Beweging hou Dinsdag 5 Mei ’n krisisberaad, met die tema “Ons is hier om te bly”, en doen ’n beroep op sy lede om die beraad by te woon. Omdat plek beperk is, word belangstellendes versoek om so gou moontlik hul bywoning te bevestig sodat reëlings betyds getref kan word. Klik hier om te registreer. Die doel van die beraad is om indringend te besin oor die groeiende krisis in die land en om oplossings vir die uitwerking daarvan op die Afrikanergemeenskap te ontwikkel.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Benito Odendal ·

” Die Tannie se Boeke”……Sjoe!!! ‘n knop in die keel as jy dieper lees….laat die kosbare van ons vaders vir ons kinders ook kosbaar bly …..Ons MAG DIT NIE van ons kinders weerhou nie !!! Afrikaans hoort in ons bloed…..nie in museums nie. ….Dankie Flip…..Dankie Tannie !!!

Roelien ·

Hoendervleis…. Afrikaans is en sal altyd my droom, bid en praat taal bly….dit is in my bloed.

Marilie ·

Om die boeke af te gee, is een ding. Om die ouma af te gee, ‘n heel ander hartseer realiteit van emigreer!

Johannes Comestor ·

‘n Aangrypende artikel. Ek wens julle wysheid en sukses toe met die beraad.

Emile ·

Sal die beraad oor die internet gebeeldsend word vir die Kapenaars en ander belanghebbennes wat ver is?

Maryna ·

Ek het begin lees met ‘n knop in my keel en klaar gemaak met traanspore oor my wange. As ons planne uitwerk, kan ons ook oor ‘n paar maande vir julle boeke bring..

Marinda Venter ·

Ek kry die ouma baie jammer. Om na kleinkinders te verlang is die seerste verlange. Ek bid dat dinge in ons mooi land kan regkom en families nie so verskeur raak nie. Afrikaans is die mooiste taal. Dit sal nooit dood gaan nie.

Johan ·

“Ons mooiste land”…ek verstaan die sin nie meer nie.

Estelle Piek ·

Afrikaans kan self besluit wie sy wil wees…gaan sy n Voortekkerrok aantrek, , stywe pakkie met hoepolvy, n jean en tekkies of gemaklike overall en boots. Dit gaan haar oorlewing en aanvaarding bepaal. Taal is iets wat dinamies is en altyd vernuwend is en stu na groei soos broodddeeg wat ingesuur is. Haal die stepping van die dame af en laat haar los om nuwe vriendskappe te smee.
En ek verstaan die tannie se hart…boeke is my koffietafels en my sytafels, my eerste uitreik in die oggend en laaste woord in die aand. Daarom het hul nuwe vriende nodig.

Jerrie Conradie ·

Wat ‘n insiggewende artikel! Ek voel saam met die Ouma. Maar, die Anglo-Afrikaans van vandag! Jammer, ek bevraagteken die pad vorentoe… Ek is ook op pad – nie oorsee nie, maar na die beste Vadeland

Maria ·

Laai maar vir Ouma en Oupa af by ‘veilige plekkie’, maar onthou jy mag dalk self daardie paadjie stap eendag. Hopenlik onthou jy dan van die seerkry van grootouers wat eenkant toe geskuif te word.

Jax ·

So dankbaar dat ek terug is in my land en kan terugploeg wat ek geleer het! Hier bly ek tot ek Lang-boompies toe moet gaan.
Die tyd in die buiteland het my geleer dat, onder die vel, is almal dieselfde – dieselfde behoeftes, drome, wense en hoop. Ek het geleer hoe mooi my taal werklik is, geleer hoe ongelooflik uniek my land is en geleer dat ek hierdie land onsettend lief het!
My oogklappe het genadiglik afgeval en besef my dam se eende, is fantasties!
Tydskrifte, boeke en ander media, in my eie taal koester ek meer as ooit!
So bly ek swem weer saam in die mooi dam! :-)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.