Die toppunt van top: vas of los?

Argieffoto (Foto; carloscuellito87, Pixabay)

Een van die samestellings in Afrikaans wat gebruikers groot hoofbrekens besorg, is die een met top waar dit beste beteken. Is dit nou los, vas of met ʼn koppelteken? Vas! Maar hoekom dan? Beste is dan los, hoekom is top vas?

Voor ek verduidelik, moet jy twee goed in gedagte hou: 1) In Afrikaans skryf ʼn mens byvoeglike naamwoorde los. 2) Top kan nie in Afrikaans ʼn byvoeglike naamwoord wees nie.

Watter woordsoort is top? Volgens die HAT kan top een van vier woordsoortfunksies vervul:

  1. Dit kan ʼn selfstandige naamwoord wees. Selfstandige naamwoorde kan lidwoorde en/of fleksie kry, bv.: Die toppe van die bome buig in die wind.
  2. Top kan ʼn werkwoord wees, bv.: Ons sal hierdie struik voor die lente moet top.
  3. Dit kan ʼn bywoord wees (wat ʼn werkwoord modifiseer): Hierdie wyn eindig elke jaar top in die kategorie.
  4. Dit kan ʼn tussenwerpsel wees: Het jy die lekkergoed behoorlik weggesteek? Top! Sodra die kinders slaap, kan ons dit eet.

Die implikasie van bogenoemde is dat top wat saam met ander selfstandige naamwoorde optree altyd vas geskryf gaan word, soos enige ander samestelling, bv.: topleerder, toppresteerder, topkandidaat, topwyn, topvakansie, topvermaak, topafrigter, topklas, topbesienswaardighede. As jy nou dadelik wil begin stry omdat top vir jou dieselfde beteken as beste en soos beste los geskryf moet word, moet jy onthou dat samestellings nie met betekenis werk nie, maar met woordsoortfunksie. Die feit dat top en beste min of meer dieselfde betekenis het, beteken nie hulle gaan noodwendig dieselfde woordsoort wees nie. Hulle is juis nie: top is hier ʼn selfstandige naamwoord en beste is ʼn byvoeglike naamwoord. Die eerste is in ʼn samestelling vas, die tweede word los van die selfstandige naamwoord geskryf.

Maar daar is ʼn verdere komplikasie aan die skryfwyse van top. Dit kom voor in samestellings wat ons maklik onderbreek. Ons skryf baie oor die klas of die skool se toptienleerders of die topdrierugbyspelers van die jaar. Hoekom dié woorde vas skryf?

Samestellings wat so deur ander woorde onderbreek word, bly vas indien die afstand nie deur ʼn byvoeglike naamwoord geskep word nie. Kyk byvoorbeeld na voorbeelde soos voetstut en voetbrugstut, klasdeur en klaskamerdeur, strandvakansie en strandkampvakansie. In hierdie gevalle is die onderbreker elke keer ʼn selfstandige naamwoord. By topleerders wat toptienleerders word, is die onderbreker ʼn telwoord. Telwoorde word ook in samestellings vas geskryf: vyfjaarplan, graaddrieleerder, nommersesskoen.

Die woorde wat nie in afstandsamestellings vas geskryf kan word nie, is byvoeglike naamwoorde. Vir hulle is daar die sogenaamde afstandskoppelteken (sien AWS 12.24 vir die volledige reël): hoof- uitvoerende beampte, langtermyn- finansiële beplanning, top- akademiese presteerders. Die spasies tussen die eerste en laaste deel van die samestelling word dus afgedwing deur die byvoeglike naamwoord, en die afstandskoppelteken help die leser om te verstaan dat die samestelling se tweede deel nog op pad is. Ander woordsoorte benodig nie hierdie spasies en koppelteken nie; dis net byvoeglike naamwoorde wat dit afdwing.

ʼn Volgende kopseer is die verkorting van samestellings met top, bv.: Sy het in die toptien geëindig. Wat eintlik daar staan, is Sy het in die toptiengroep geëindig, wat beteken dat die samestelling steeds vas gaan wees, al is die selfstandige naamwoord wat die kern daarvan was, weggelaat. Kyk so daarna: Jy kan nie skryf Sy het in die tien geëindig nie. Jy kan wel skryf Sy het in die topgroep geëindig, en dan aandui die topgroep bestaan uit tien lede. Daarom is toptien ʼn verkorting van toptiengroep en is Sy het in die top tien geëindig ʼn spelfout.

Een laaste opmerking: Die koppelteken is nie hier ʼn uitweg, omweg of goue middeweg nie. Ek merk op dat mense ʼn koppelteken wil gebruik om die vaste skryfwyse van samestellings te “versag”. ʼn Koppelteken is (ongelukkig!) nie ʼn instrument waarmee draadsitters hulle onsekerhede oor morfologie kan verdoesel nie. Die reëls vir die gebruik van die koppelteken is baie spesifiek en word in hoofstuk 12 van die AWS gegee en “Die woord is nie vas nie, dis ook nie los nie, dis so tusseninnerig” is nie ʼn rede vir koppeltekengebruik nie.

As dit vir jou na ʼn akademiese geredekawel klink, gee ek geredelik toe: Dit is ʼn akademiese geredekawel. Maar dit is ʼn akkurate taalkundige argument, en dit spaar jou die moeite om te sit en wonder wat jy met top moet maak. Dis ʼn selfstandige naamwoord in ʼn samestelling. Dis vas. Daarsy, nou kan jy agteroor sit, jou skoene uitskop en ʼn wyntjie skink – jou werk is gedoen, en dit is reg gedoen. Lechaim!

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Lorinda Gerber ·

Dankie vir die verduideliking en julle lesse in taal. Ek vind dit baie interessant. Ek het aan die ‘spel’ deelgeneem tydens die Gesondheidsdag en erg op my neus gekyk. Sal duidelik meer moet aandag skenk aan my Moedertaal!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.