Die wêreld in Afrikaans

Daniel-Hugo

Dr Daniel Hugo tydens ’n spesiale dinee in die Centurion-teater waar hy sy versameling, wat voorheen by die US gehuisves is, aan Akademia oorhandig het. Foto: Maroela Media

Deur Dr Daniel Hugo, digter, vertaler, letterkundige en radioman.

In Breyten Breytenbach se jongste digbundel, die na-dood (Human & Rousseau, 2016), staan die volgende versreëls:

en die wêreld / die skepping / die kosmos
het met my gepraat in Afrikaans.

Hoe anders? Elke mens ervaar die wêreld in sy moedertaal. Daar is natuurlik mense wat in meer as een taal grootword, maar selfs hulle het in die meeste gevalle ’n voorkeur vir een taal. Die Afrikaanse digteres Olga Kirsch (1924-1997) wat op Koppies gebore is, het van kindsbeen af drie tale om haar gehoor. Haar pa was ’n immigrant uit Litoue en het Jiddisj gepraat, haar ma was Engels, die taal van haar speelmaats en laerskool was Vrystaatse Afrikaans. Sy het na die Engelse Hoërskool Eunice in Bloemfontein gegaan en gestudeer aan die Witwaterrandse Universiteit in Johannesburg. In 1947 het sy na Israel geëmigreer waar sy moderne Hebreeus (Iwriet) moes leer. En tog het sy haar gedigte in Afrikaans geskryf. Die wêreld het met haar gepraat in Afrikaans. En daarmee basta.

Ek het eentalig in Afrikaans grootgeword, hoewel ek Engels en Duits op skool as vakke gehad het. In die 1960’s het ’n mens selde Engels in Windhoek, die stad van my jeugjare, gehoor – maar heelwat Duits. Daar was ook Duitse kinders in my skool met wie ek bevriend geraak het. Die gevolg was dat ek veel vlotter in Duits as in Engels was toe ek skool verlaat het. Duits was vir my die sleutel tot Europa en vryer kosmopolitiese denke as waarin ek opgevoed is.

Eers op universiteit en met die koms van televisie in 1976 het ek bewus geword van die Duitse Nazi-geskiedenis. Die manjifieke TV-reeks oor die Tweede Wêreldoorlog, “The World at War”, het my in my vierde jaar op Stellenbosch oorrompel en geskok. En tog het ek toe al besef dat die Duitse taal nie verantwoordelik gehou kan word vir Hitler se wandade nie. Net so min as wat Russies skuld het aan Stalin se veel groter menseslagting.

In 1976 het die Soweto-skoliereopstand losgebars oor Afrikaans as verpligte vak en onderrigmedium. Dit het gou landwyd uitgekring, en op Stellenbosch het studente die administrasiegebou, biblioteek, lesingsale en koshuise snags bewaak teen moontlike oproeriges en petrolbomgooiers. Sommige van my koshuismaats het vuurwapens by hulle gehad. Ek het geweier om by dié groepshisterie betrek te word.

Ek was in Majuba-koskuis, en vier van ons het ’n petisie opgestel waarin die kanselier van die universiteit – John Vorster – versoek word om die universiteit vir alle rasse oop te stel. Die petisie het heelwat handtekeninge gekry, maar die kantoor  van die eerste minister nooit bereik nie, omdat die universiteitsbestuur ons effektief gefnuik het. Hulle het gedreig dat ons nie toegelaat sal word om aan die einde van daardie jaar eksamen te skryf as ons daarmee voortgaan nie.

In 1977 en 1978 doen ek diensplig in Pretoria, ek gee daarna ’n jaar lank onderwys in Windhoek by die Ella du Plessis Hoërskool in Khomasdal en in 1980 word ek as lektor aangestel by die Universiteit van die Oranje-Vrystaast. In dié tyd verskyn my eerste digbundels. Toe ek in 1990 as radio-omroeper begin werk in Kaapstad, besluit ek as voortvarende snotkop om my literêre papiere te gee aan die dokumentasiesentrum van die Universiteit van Stellenbosch. Die dokumente van C.J. Langenhoven, D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Hennie Aucamp en ander deurlugtige skrywers was toe al reeds daar. Van toe af het ek my versameling gereeld aangevul met artikels, rubrieke, resensies, korrespondensie met ander skrywers, manuskripte, foto’s, klankopnames van hoorbeelde, ensovoorts.

Toe breek 2015 aan en studente begin landwyd betoog teen alles en nog wat, maar ook teen Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite want dit is die taal van apartheid en kolonialisme. Op Stellenbosch word vuur gemaak aan die voet van Jannie Marais se standbeeeld – die man wat sy fortuin aan die universiteit bemaak het en daarmee die totstandkoming en voortsetting van die universiteit verseker het. Dit, nadat studente aan die Universiteit van Kaapstad die standbeeld van Cecil John Rhodes – hulle weldoener – met instemming van die rektor laat verwyder het. Daardie vuur aan die voet van die Marais-standbeeld was toevallig ook ’n vuur op die dak van die ondergrondse biblioteek waar my en die ander Afrikaanse skrywers se dokumente bewaar word.

In dieselfde tyd word die studente se protes teen Afrikaans ondersteun deur Matie-dosente wat hulle om pragmatiese (“no pun intended”) redes uitspreek ten gunste van Engels as taal van onderrig, navorsing en universiteitsadministrasie. Stellenbosch is dus nie meer ’n veilige hawe vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuurlewe nie. Ook nie vir die nalatenskap van Afrikaanse skrywers nie.

Daarom het ek my versameling weggehaal en aan Akademia geskenk. Kort nadat ek die veertigtal bokslêers sonder hulp van die stakende veiligheidspersoneel gaan haal het, is ’n kantoor van die administrasiegebou reg langs die biblioteek aan die brand gesteek.

Die wêreld / die skepping / die kosmos praat met ons in soveel tale as wat daar nog op aarde gebesig word. En in elke taal lyk die skepping kaleidoskopies anders. Waarom wil ons dan ons ervaring van die multidimensionele heelal verskraal tot een universele taal wat uit dermiljoene monde geradbraak word?

Breyten Breytenbach sluit sy gedig oor Afrikaans só af:

is dit dan nie diep bevredigend
om die laaste duisternis van jou asem
te mag mond in Afrikaans nie,
ondankbare hond!

Lees hier oor Daniel se skenking aan Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Henry ·

Dankie tog!
Daar is Afrikaners soos Daniël Hugo, Breyten en talle ander Afrikaanse skrywers wat met alhoe meer energie steeds die wonder van ons taal kan besing en wil beskerm.

Wat help om Afrikaans te beskerm teen die aanslae van ons taal se bekende vyande vanuit politiek-gedrewe oord.

Maar ewe belangrik – ook teen die aanslae wat dikwels vanuit eie geledere kom. Siele wat dikwels en soms uit onkunde met allerlei drogredenasies oor Afrikaans as sogenaamde ‘kombuistaaltaal’ vorendag kom.

Om nie eers te praat van al die probleme wat die afgelope tye op ons kampusse ervaar word nie. Onluste en geweld wat in baie gevalle aan gestook word met die geesdriftige hulp van Afrikaanssprekendes wat geen respek vir ons taal het nie. Wat dit steeds as die afgesaagde en uitgediende ‘taal van die onderdrukker’ wil verkleineer.

Dankie ook dat u ons aan Breyten se baie paslike slot van sy gedig oor Afrikaans herinner het. Goue woorde!

Henry ·

Jammer vir die tikfout by ‘kombuistaal’
Jammer dat daar nie ‘n redigeringsfunksie is nie.

Theuns ·

Dankie Danie Hugo en vir jou kommentaar Henry. Breyten Breytenbach het n verbysterende taalvermoe. Kyk nou weer met die gedig. Ek eer julle!

Henry ·

Baie dankie vir jou vriendelike dankie Theuns. Is onverdiend…
Ek is seker dat talle Maroela lesers jou positiewe insette waardeer. Soveel nuttiger en meer bruikbaar as die alewige ge-kerm, ge-temery en foutsoekery, veral wanneer dit oor ons Afrikanerskap en Afrikaner-wees handel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.