Dogter van Ingrid Jonker sterf, koester ma se erfenis

Simone Garcia Marques (Foto verskaf)

“Simone se dood is ʼn groot skok en hartseer.”

Só sê dr. Danie Langer, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), oor Simone Garcia Marques, die enigste dogter van ikoniese digter Ingrid Jonker.

Sy is Maandagmiddag in die ouderdom van 65 in Hermanus dood weens ʼn infeksie wat deur ʼn aggressiewe soort kanker veroorsaak is.

Simone was 8 jaar oud toe Ingrid in 1965 by Drieankerbaai in die see ingeloop en verdrink het.

Volgens Danie het FAK die afgelope ruk saam met Simone gewerk om haar ma se dokumente van Nederland na Suid-Afrika te bring.

Maroela Media het vroeër berig oor die uitstalling, genoem die Ingrid-Jonker-argief, wat in die Literêre Museum in Den Haag, Nederland, te sien was. Dit het hoofsaaklik bestaan uit briewe van en aan Jack Cope, André P Brink en ander skryfkollegas, getikte gedigte, boeke, koerantberigte, manuskripte en ʼn paar foto’s van Ingrid.

Simone was ontevrede met die aanbieding hiervan en die feit dat haar ma se nalatenskap in die buiteland is.

‘n Foto van Ingrid Jonker wat deel is van die Ingrid Jonker-argief wat tans in die Literêre Museum in Den Haag, Nederland te sien. (Foto: literatuurmuseum.nl)

“Ek het ʼn reg tot my erfenis. Tot vandag toe het ek nog nooit die versameling wat nou in Den Haag is gesien nie. Ek is ʼn verantwoordelike persoon wat deur die jare my ma se graf mooi onderhou het,” het sy destyds gesê.

Langner sê die FAK sou haar juis bystaan in die proses om hierdie dokumente terug te kry.

“Simone wou graag ʼn Ingrid Jonker-sentrum oprig om jong digters te help. Die FAK sou haar bystaan. Dit is Simone se hartswens dat haar ma se dokumente weer ʼn tuiskomplek in Suid-Afrika vind.”

Hy sê verder dat Simone se gemis aan Ingrid uit hul gesprekke geblyk het. “Ek het agtergekom dat sy na haar ma verlang.”

Zalman S Davis, uitgewer van Minimal Press wat in 2019 die Ingrid Jonker L’Art Poetique-poësiekompetisie begin het, het ook dié hunkering by Simone ervaar.

“Sy het baie seer gehad en die verlange na haar ma was groot. Ek dink sy wou tog meer van Ingrid gehad het. Simone het in 2019 tydens ʼn televisieonderhoud gesê: ‘Ek mis my ma se arms om my’. Daardie woorde het my nogal ontroer en ek onthou dit tot vandag toe.

“Dit waarvoor sy gestaan en geveg het, het ʼn blywende indruk op my gemaak. Sy het geveg vir haar ma se nalatenskap om voort te leef en om dit terug Suid-Afrika toe te bring. Haar ma was absoluut haar alles.”

Nog een van die herinneringe wat Zalman altyd sal bybly, is die dag toe Simone een van haar ma se haarlokke en tekeninge van Ingrid in Frankryk, vir hom gegee het.

“Dit was op die dag wat ons mekaar die eerste keer ontmoet het en hier gee sy sulke kosbare besittings vir ʼn vreemdeling. Dat sy so baie vertroue in my gehad het, was ongelooflik.”

Die gebaar was met die oog op Waterfall of moss and sun, ʼn samestelling van Jonker se gedigte wat Simone na Engels vertaal het en waarmee Zalman in daardie stadium besig was.

Hy het onlangs weer aan Simone se deur geklop met ʼn versoek dat sy haar belewings as die dogter van ʼn gevierde digter neerpen. “Ek het vir haar gevra of sy ʼn boek sal skryf oor hoe dit is om Ingrid as jou ma te hê, en sy het laat weet dat sy daaraan werk en opgewonde oor die projek is.”

Simone Garcia Marques by haar ma se graf. (Foto: Facebook)

Hoewel Zalman Simone se skielik afsterwe as ʼn verlies ervaar, is hy dankbaar dat sy nou verlos is van haar seer en dat sy met Ingrid herenig is.

“Dit is vir my ʼn skok, maar ten minste is haar swaarkry verby en is sy darem nou by haar ma.”

Zalman sê Simone was in opdrag van hom besig om ʼn boek te skryf oor haar ervaring as Ingrid se dogter. “Sy het laat weet dat sy opgewonde daaroor is.”

ʼn Informele huldeblyk is op Saterdag 4 Februarie om 11:00 by Ingrid se graf in die Maitland-begraafplaas in Kaapstad gehou. Mense kon die geleentheid bywoon en het herinneringe, gedigte en liedjies by die byeenkoms gedeel.

Simone se dogter, Margarita, het Dinsdagmiddag op Facebook geskryf dat sy gebroke is oor haar ma se dood. Sy het onder meer ook gevra dat die familie se privaatheid gerespekteer moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.