Geboortebeperking – ‘n standpunt slegs van mense wat klaar gebore is.
Geestesfiksheid – die toestand wat mense bereik deur voortdurend vier soorte oefeninge te doen:
– hulle verantwoordelikheid op ander mense afskuif;
– hulself op die voorgrond stoot;
– hulle medemense inloop; en
– hulle opinies met mag in ander se keel afdruk.
Gemeenskap – die wedersyds neersiende kombinasie van drie klasse mense: die opgevoedes, die grootgemaaktes en die opgebringdes.
Gesin– ‘n verwante groep vreemdelinge wat af en toe saam onder een dak eet.
Geskenkwinkel – ‘n plek waar mense ten duurste dié dinge koop wat niemand present wil hê nie.
Gesondheidsoorde – vetafskeppers van die finansiële room van die land.
Grafsteen – ‘n versteende leuen met skynbaar terugwerkende krag.
Grappe wat altyd snaaks is – ‘n ryk man s’n en jou baas s’n.
Sien ook:
Dol definisies – A
Dol definisies – B
Dol definisies – D
Dol definisies – E en F
Oorspronklik gepubliseer in die boek, Kwinksinnig: Taalskertse deur Johan Combrink en geïllustreer deur Piet Grobler.
Uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, 1998