Doodsklok lui vir aanlyn woordeboek

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). (Foto: Maroela Media)

Pearson SA het aangekondig dat die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) se aanlyn weergawe, oftewel HAT Aanlyn, asook die HAT Taal-en-feitegids en HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek, in Augustus 2022 tot ʼn einde kom. Diensverskaffers wat subskripsie tot HAT Aanlyn verskaf, soos die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), sal uiteraard ook hierdie diens moet beëindig.

Die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), ʼn filiaal van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), het in ʼn ope brief sy misnoeë oor dié besluit te kenne gegee.

“Hoewel ons verheug is om te verneem dat Pearson SA steeds verbind is tot die publikasie van die HAT, is die staking van die e-weergawe nietemin ʼn tragiese besluit,” lui die brief.

Dit beteken dat alle Afrikaanse opvoeders, studente, skoliere, joernaliste, taalpraktisyns en regsgeleerdes wat op HAT Aanlyn as hul voorkeurnaslaanwerk staatmaak, binnekort nie meer toegang tot hierdie waardevolle bron sal hê nie.

Volgens prof. Rufus Gouws, wêreldbekende leksikograaf, word standaard  verklarende woordeboeke algemeen deur taalgebruikers geraadpleeg en gerespekteer. Gouws sê: “Die HAT word sedert sy totstandkoming in 1965 en dus vir meer as vyf dekades as die gesaghebbendste handwoordeboek van Afrikaans beskou.”

“Dit het ʼn huishoudelike naam geword en is ʼn staatmaker in die Afrikaanse taalgemeenskap – die gesegde ‘Wat is ʼn huis sonder ʼn HAT?’ is tekenend hiervan,” sê die NTLA.

Gouws, sowel as prof. Danie Prinsloo, ook ʼn gerekende leksikograaf, wys daarop dat elektroniese leksikografie in die laaste paar dekades geweldig ontwikkel het.

Die elektroniese medium het toenemend belangrik geword vir die oordrag van kennis aangesien ons in ʼn voortdurend veranderende wêreld leef wat in ʼn voortdurend veranderende taal uitdrukking vind, meen die NTLA.

Soos wat die geskiedenis ons leer, is ʼn woordeboek van ʼn lewende taal nooit voltooi nie, meen die NTLA. Dit is juis hierdie feit wat aanlyn woordeboeke so waardevol maak – die feit dat dit voortdurend bygewerk kan word om deurlopend die wêreld en omgewing waarin die sprekers van Afrikaans daagliks funksioneer, te weerspieël. Daarom steun taalpraktisyns en ander taalwerkers al hoe meer op aanlyn bronne soos HAT Aanlyn.

Volgens die NTLA kan die voortydige staking van ʼn gesaghebbende aanlyn bron syns insiens as terugslag vir Afrikaans en ʼn groot tragedie vir die taalgemeenskap beskou word.

Indien Pearson SA nie langer sy weg kan oop sien om die beskikbaarheid van die HAT se aanlyn weergawe te ondersteun nie, doen die NTLA ʼn ernstige beroep op die maatskappy om dit te oorweeg om die aanlyn regte tot hierdie woordeboek aan ander diensverskaffers beskikbaar te maak.

Die NTLA sê hy is bewus van meer as een uitgewer wat bereid is om ʼn aanbod ten opsigte van HAT Aanlyn te maak en stel hom derhalwe beskikbaar om as fasiliteerder in hierdie verband op te tree.

“Die NTLA het, as bewaarders van die taalskat van die Afrikaanse gemeenskap – waarvan die HAT beslis deel uitmaak – ʼn grondwetlike verantwoordelikheid om die voortgesette welsyn van en toegang tot die HAT te bewaar. Sy verdwyning van die internet is daarom ontoelaatbaar en ondenkbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louis ·

En so word daar orals op enige vlak afstand van AFRIKAANS te doen.

Harley Davidson ·

Die rede daarvoor is omdat die Afrikaner of Afrikaans sprekende Suid Afrikaner geen land of leiers het nie daarom is dit so belangrik om te onderhandel vir ‘n onafhanklike tuisstaat.

Andre ·

Woordeboeke het in iedere geval soveel engelse woorde wat net in Afrikaans uitgespreek word, dat die ou skoolwoordeboeke meer geloofwaardig is.

Ou Baardbek ·

Geagte Andre, dit is die mees sinvolle kommentaar op hierdie berig wat verseker gegee kan word!! Geluk daarmee! Kyk gerus na die “sogenaamde ontwikkeling” van die Afrikaanse taal deesdae. Kan jy dit werklik glo dat woorde soos “koel”, van die “ingilse” “cool”, sibbe, van die “Ingilse siblings” en dergelike veragtelike gemors deesdae aanvaarbaar is en opgeneem word in die Afrikaanse taal??? Het ons mense sowaar SO MIN eie inisiatief en oorspronklikheid om te vertoon, en dan spog hulle nogal ook daarmee?!!! Verfoeilik, om die minste daarvan te sê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.