Downingstraat 10: Ongewone pligte vir ʼn ongewone werknemer

Larry die kat (Foto: Wikipedia)

Larry die kat (Foto: Wikipedia)

Larry die kat het reeds in 2011 die amp as hoofmuisvanger van die kabinetskantoor by Downingstraat 10 aanvaar, maar dit is sy amptelike pligte en toekennings wat hom bekendheid laat verwerf het.

Larry is by die woning van die Britse premier aangestel nadat rotte by twee geleenthede agter televisienuusverslaggewers se regstreekse uitsendings waargeneem is.

Larry, wat op 3 Januarie 2007 gebore is, was ʼn rondloperkat wat deur die personeel van Downingstraat uitgekies is ná sy voorganger, Sybil, in 2009 haar nege lewens kwyt is.

Volgens die Downingstraat-webwerf behels sy pligte die verwelkoming van die gaste by die huis; die inspeksie van veiligheidsbeskerming; en die uittoets van antieke meubels vir slaapgehalte. Larry se oplossing vir die muisbesetting in die huis is glo in die “taktiese beplanningsfase”.

Hy het ook ʼn reputasie opgedoen as “gewelddadig” in sy interaksie met ander plaaslike muisvangers.

Larry is een van die ongewone en interessante karakters wat op die Afrikaanse Wikipedia beskikbaar is. Volgens dié ensiklopedie wat deur vrywilligers saamgestel word, is Larry se loopbaan nie sonder omstredenheid nie.

Larry die kat saam met David Cameron en President Barack Obama (Foto: Wikipedia/Official White House)

Larry die kat saam met David Cameron en President Barack Obama (Foto: Wikipedia/Official White House)

“Op 14 November 2011 het dit aan die lig gekom dat Larry meer tyd aan slaap en die opsoek van die geselskap van ’n wyfiekat, Maisie, as werklike jag van muise, bestee,” verduidelik Jeanne-Marie Lombard, verantwoordelik vir die artikel oor Larry op die Afrikaanse Wikipedia. “Die eerste minister moes tydens ’n kabinetsete maar self ’n vurk na ’n muis gooi. Toe hy gevra is of Larry moet bedank, het die eerste minister se woordvoerder glo gesê, ‘Larry verskaf baie plesier vir baie mense.’”

Larry het ook opspraak gewek toe hy ure lank gelê en slaap het, terwyl die hele kabinet vir ‘n vergadering by Downingstraat in-en-uitgesluip het. “Larry se oënskynlike luiheid is daarna positief vergelyk met sy mededinger, Freya, se entoesiasme vir topgeheime plekke, soos die opdragsentrum tydens ’n militêre oefening wat, waarskynlik tong-in-die-kies, tot bewerings van ‘lafhartige buitelandse spioenasie’ gelei het,” het Lombard bygevoeg.

Dié interessante brokkie is een van duisende artikels wat op die Afrikaanse Wikipedia beskikbaar is.

Lombard, wat die skryf en vertaling van artikels in haar vrye tyd doen, raai almal aan wat entoesiasties oor Afrikaans is, om ook by die Afrikaanse Wikipedia-projek betrokke te raak.

“Wikipedia was nog altyd ʼn ongelooflike kennisbron. As dit boonop nog in Afrikaans is, maak dit Wikipedia net soveel beter. Ek is baie lief vir lees en skryf en om direk betrokke te wees by ʼn projek soos die Afrikaanse Wikipedia, laat mens voel jy bou aan iets,” het sy aan Maroela Media vertel.

Lombard is ʼn binnenshuise versierder van Johannesburg en verduidelik dit is veral die eenvoud daarvan om betrokke te raak, wat van die Afrikaanse Wikipedia ʼn sukses maak. “Mense verstaan nie hoe maklik dit is nie. Ek het ook nie verstaan nie, totdat ek Maroela Media se kursus bygewoon en besef het hoe eenvoudig dit is.

“My raad aan mense wat vir die eerste keer betrokke raak, is om te begin met ʼn kort artikel. Dit moenie iets wees wat moeilik is of waarvoor jy nie kans sien nie. Daarom vertaal ek artikels soos dié van Larry, sodat dit vir my lekker bly,” het sy bygevoeg.

Besoek die Afrikaanse Wikipedia se webwerf vir meer inligting oor bydraes. As jy ook wil betrokke raak en wil help bou aan die Afrikaanse Wikipedia, stuur gerus ʼn e-pos na [email protected]. Laat weet wat jou gebied van kundigheid is en waaroor jy graag sal wil skryf.

Op soek na nog ʼn bietjie inspirasie om betrokke te raak? Loer gerus na dié video om te sien watter impak die Afrikaanse Wikipedia op skoliere het:

Loer gerus ook na hierdie video wat vir jou verduidelik hoe jy jou artikel op Wikipedia kan laai:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Inez ·

Ons taal bly maar mooi, en dit is ‘n plesier om ‘n artikel te lees wat met humor en duidelike pret geskryf is.

Heidi ·

Oulik! Dankie julle vir die lekker lag oor “Veselperske Groef”! :D

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.