e-Hat se voortbestaan verwelkom

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). (Foto: Maroela Media)

Die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), ʼn filiaal van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), het Vrydag in ʼn ope brief gesê hy neem kennis van Pearson SA se besluit om nié die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) se aanlyn weergawe te staak nie.

Pearson SA het in 2021 aangekondig dat die HAT Aanlyn, asook die HAT Taal-en-feitegids en HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek, in Augustus 2022 tot ʼn einde sou kom.

Diensverskaffers wat subskripsie tot HAT Aanlyn verskaf, soos die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), sou uiteraard ook hierdie diens moes beëindig.

Maroela Media het verlede week berig dat dié besluit intussen hersien is te danke aan Afrikaanse taalorganisasies wat onverpoosd geveg het om die uitgewer van plan te laat verander.

In die brief spreek die NTLA sy dank uit aan verskeie rolspelers in die Afrikaanse taalgemeenskap wat hieroor met Pearson SA in gesprek getree het ten einde hulle tot ander insigte te bring.

Die NTLA rig ook ʼn dankwoord aan die uitgewer wat ingestem het om die e‑Hat te laat voortbestaan.

“Dit is verblydend om te sien dat Pearson sy gebruikers se belange op die hart dra en begrip toon vir die unieke taalsituasie in Suid-Afrika. Ons hoop dat hierdie stap deur Pearson SA vir ander uitgewers tot voorbeeld sal strek.

“Ons wil ook die Afrikaanse taalgemeenskap aanmoedig om voort te gaan om Afrikaanse produkte en instellings te ondersteun,” lui die brief.

Pansat rig ten slotte ook ʼn versoek aan Pearson SA om “oorweging te skenk aan ander Suid-Afrikaanse tale in ʼn poging om tot die bevordering van veeltaligheid en sosiale kohesie by te dra”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.