Eerstes, tweedes, sewes en onderes – nog een vir die jaarblaaie

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire, Pixabay)

Die jaarbladjuffrouens bel VivA se foon warm. Die medaljes is gedek in die blog Watter soort blink is jou medalje?, maar hoe gemaak met die sportspanne waarin die beste spelers speel? Is dit eerste span of eerstespan? En wat maak ʼn mens met daardie span as jy nou wil aandui dat dit rugbyspelers is wat daarin speel? Is dit eersterugbyspan, eerste- rugbyspan of eerste rugbyspan? Hoe gemaak met sewespan/sewesspan? En dan kom die onder ook nog by. Waarvandaan sal ons hulp tog kom in dié samestellingspellingdoolhof?

Kom ons kry net eers die toepaslike reëls vir samestellings onder die knie:

  • AWS 15.33 bepaal dat telwoorde (ook rangtelwoorde soos eerste) los van die selfstandige naamwoord geskryf word.
  • AWS 15.34 bepaal dat telwoorde by betekenisverdigting vas geskryf word, bv. eersteklas teenoor die eerste klas en eerstejaar (die student) teenoor die eerste jaar (die studiejaar).

Ingevolge AWS 15.33 is die oplossing dus eenvoudig: dis eerste span. Dit gaan jou pla tot jy begin nadink oor die spelwyse van veertiende span. Sou jy ooit wou skryf veertiendespan? Waarskynlik (hopelik) nie. Jy gaan die rangtelwoord en soortnaamwoord gemaklik los skryf by tweede span, derde span, negende span, veertiende span. Afgesien van 15.33 is daar natuurlik ook die grondbeginsel van Afrikaans se spelsisteem wat bepaal dat ons eenvormig spel. As jy veertiende span los skryf, moet jy dieselfde konstruksie (rangtelwoord + soortnaamwoord) deurlopend los skryf. As jy dit aanvaar, skryf jy makliker eerste span. Om dan van daar af eerste rugbyspan, eerste hokkiespan, eerste swemspan, eerste atletiekspan, eerste skaakspan te skryf, is nie moeilik nie.

Maar, hoor ek jou vra, wat van AWS 15.34 wat bepaal dat ʼn mens eerstejaar mag skryf? Hoe is eerstejaar dan anders as eerste span? Betekenisverdigting is ʼn glibberige kalant, en daar is in dieselfde blog oor die medaljes ʼn bespreking daarvan. Baie mense verstaan betekenisverdigting gewoon as “dit dui ʼn soort aan”. ʼn Geelperske is ʼn soort perske, teenoor geel perske wat ʼn beskrywing van ʼn perske is. Dis nie so eenvoudig nie. Betekenisverdigting hou in dat die vaste vorm ʼn ander betekenis te kenne gee as die los vorm. Dit is duidelik die geval by geelperske x geel perske, swartlys x swart lys, driehoeke x drie hoeke, eenkant x een kant. Ons kan nie ʼn saak uitmaak vir verskille in betekenis by *witsjokolade x wit sjokolade of *pienkwyn x pienk wyn nie, daarom is die vaste vorm hier verkeerd. Ons kan ook nie ʼn betekenisverskil aandui tussen *eerstespan en eerste span nie, daarom is die vaste vorm verkeerd.

Hoe nou gemaak met eerste sewesspan/sewespan? Dit was nogal ʼn kopkrapper, ook vir my, en dit het naderhand ʼn gedinkery en geraadplegery oor kontinente heen afgegee. Hier is die antwoord: sewesspan. Hier is die rede: Die sport se naam is sewesrugby. Die verkorting daarvan (wat ons gereeld in spreektaal hoor) is sewes. Die samestelling tussen die sportnaam en ­-span is sewesspan. Saam met eerste is dit eerste sewesspan. Saam met rugby is dit eerste sewesrugbyspan.

Nou kom die onderes by. Die volvorm is onder vyftien, maar ons skryf daardie getal baie selde in woorde. Ons sal baie eerder die syfer gebruik, byvoorbeeld onder 15, en ons sal ook eerder die afkorting gebruik, nl. o. 15. Die feit dat ons nou hier met syfers werk, beteken hoofstuk 7 van die AWS raak van toepassing, en veral AWS 7.2 is vir ons van belang:

  • Daardie spasie tussen die onder en die syfer is ʼn gegewe, of dit nou die woord onder of die afkorting is.

Dit beteken al skryf jy die onder 15 in ʼn samestelling soos onder 15-span, gaan die spasie tussen die onder en die 15 behoue bly. Dit geld ook die afkorting: o. 15-span. Let wel: daar is nie by die samestelling ʼn koppelteken tussen die onder of die o. en die 15 nie. En as jy span uitbrei, bly 7.2 van krag: o. 15-rugbyspan, o. 15-sewesrugbyspan, o. 15-onderwaterhokkiespan, o. 15-onderwaterhokkiespankaptein. Hoe maak jy met eerste by hierdie monsters? Los, en voor: eerste o. 15-span, eerste o. 15-rugbyspan, eerste o.15-sewesspan, eerste o. 15-onderwaterhokkiespan. En kaptein van die eerste o. 15-onderwaterhokkiespan.

Geluk! As jy hierdie klompie onder die knie het, is jy die kaptein van die skool se eerste spelspan.

VivA-groete

Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.