Ekonomiese waarde van Afrikaans op Moedertaaldag gevier

Nikkie Nel, Zellemari van Niekerk, ‘n Tinteltong-wenner, en Sanderien van der Walt. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Afrikaanse entrepreneurs van regoor Gauteng het Woensdag, op Internasionale Moedertaaldag, in Pretoria byeengekom om die AfriForum Sakenetwerk se jaarlikse Tinteltong-toekennings te vier en die koopkrag van Afrikaans te beklink.

Dit is die negende jaar dat dié toekenningsgeleentheid aangebied word om innoverende Afrikaanse entrepreneurs in verskillende bedrywe te bekroon vir die ekonomiese én kulturele impak van hul sakevernuf.

AfriForum Sakenetwerk het egter vanjaar dié jaarlikse spoggerige toekenningsaand vir ʼn padreis na vyf streke oor die hele land verruil om entrepreneurs wat woeker met Afrikaans in hul tuisdorpe te besoek en persoonlik te beloon.

“Julle as entrepreneurs is die hartklop van die plaaslike ekonomie en speel ʼn groot rol om nie net julle gesinne en gemeenskappe te dien nie, maar ook om julle taal te bevorder. Afrikaans is ʼn uitvoerproduk, so bly getrou aan jou wortels en wees trots daarop om Afrikaanse entrepreneurs te wees,” het Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, tydens die Gautengse Tinteltong-geleentheid gesê.

Entrepreneurs van handelsmerke soos IsMozBos, Grondpad Vellies, Roomyskind en Die Kaaskamer is onder vanjaar se noordelike wenners.

Soortgelyke geleenthede word ook in die Noord-Kaap, Noordwes, Vrystaat en Wes-Kaap aangebied.

Ané Kotzé, die digter agter die gewilde sosialemediadigtersblad Kaalwoorde, is een van vanjaar se Tinteltong-wenners.

“Dit is ʼn groot verrassing en groot eer om so ʼn toekenning te ontvang. Ek dink dis ongelooflik, want platforms soos hierdie laat mense ʼn bietjie dink oor hoe hulle hul ondernemings kan uitbrei én laat entrepreneurs raakgesien voel.”

Kaalwoorde is in 2017 gestig en bied die publiek die geleentheid om persoonlike gedigte aan of oor geliefdes te laat skryf. Die platform spog met meer as 100 000 gesamentlike volgelinge op Facebook en Instagram.

Ané het sedert Kaalwoorde se ontstaan drie bundels uitgereik en al saam met van Suid-Afrika se bekendste akteurs en musikante gewerk.

“Ek is elke dag dankbaar vir Kaalwoorde en die geleentheid om dit wat mense in hul harte voel in woorde vir hulle om te sit.”

Bloos Cosmetics, ʼn trots plaaslike skoonheid- en grimeringshandelsmerk, is ook onder vanjaar se wenners.

Thomas Hill, ʼn sakeman met ʼn agtergrond in ingenieurswese, en sy seun, ook Thomas, is die gesigte agter dié jong onderneming. Volgens Thomas word al Bloos se produkte, wat onder meer gesigwas, serums, vogroom, onderlaag en gesigpoeier, plaaslik vervaardig.

“As jong onderneming is dit lekker om te weet dat daar platforms soos die AfriForum Sakenetwerk is wat netwerkgeleenthede soos hierdie bied. Dis ʼn groot eer om erkenning vir ons werk te kry, ons is dankbaar vir die geleentheid.”

Johan Jansen van Vuuren, mede-eienaar van die Afrikaanse aanlyn klerewinkel Klerekas.com, het as gasspreker by die Gautengse Tinteltong-geleentheid opgetree en entrepreneurs aangemoedig om eg aan hulself en hul markte te bly.

Hy het nuwe en voornemende sakemanne en -vroue ook gewaarsku om nie té lank aan drome vas te klou nie, maar dit eerder “sou as moontlik ʼn werklikheid te maak.”

“Moenie dink dat jy die enigste een is wat ʼn spesifieke idee het nie, iemand anders is dalk reeds besig om werk te maak daarvan.”

Voordele soos ekonomiese vryheid en eie tydsbestuur is dalk die voordele van jou eie baas te wees, maar volgens Johan moet dié aspekte nie al wees wat entrepreneurs moet aanspoor nie.

“Entrepreneurswese is nie bloot ʼn werk nie, dis ʼn leefstyl en unieke denkwyse. Gedurende die pandemie het plaaslike entrepreneurswese met 11% gegroei, wat opnuut bewys het dat krisistye geleenthede kan skep – die vraag is of ʼn mens braaf en bekwaam genoeg is om dit aan te gryp?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.