Elf tale, die onderhandelde leuen

Die hooggeregshof in Kaapstad. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Verbaas die nuwe konseptaalbeleid van die Raad vir Regspraktisyns jou, of het jy verwag dat alle amptelike kommunikasie in dié beroep binne die afsienbare toekoms net in Engels sal moet wees? Verras die insmokkel van die hegemonie van Engels, nie net in ons howe nie, jou enigsins? Dan het jy, soos die meeste van ons, die subtiliteit van die ANC se taalstrategie onderskat.

Die grondwetlike leuen oor veeltaligheid is immers lank reeds duidelik as ʼn mens die taalbedrog van ons universiteitsbesture gevolg het. Die grondwetlike mite van taalgelykheid word subtiel afgebreek en litigasie teen die miskenning van die taalartikels in die Grondwet word afgemaak as ʼn gekerm van die bevoorregtes, veral wanneer die argument ter verdediging van Afrikaans gestaaf word deur die paternalistiese verweer dat dit eintlik om meertaligheid en die beswil van voorheen benadeelde inheemse tale gaan.

Miskien moet ons ophou om so vir mekaar te sit en lieg. Dit gaan vir my om die behoud van die hoë funksies van Afrikaans – funksies wat die taal juis nie net as voorheen bevoorregte taal verwerf het nie. Die ontwikkeling van die ander nege ampstale is net so belangrik, maar dit is ʼn afsonderlike kwessie wat ʼn eie strategie vereis.

Volg nou maar net die gesprek oor die voorgestelde taalbeleid in die howe, en jy sal agterkom die oorheersende argument ten gunste van die bevoorregting van Engels in ons howe is dié van die onpraktiese aard van meer as een amptelike hoftaal. Selfs ʼn gesiene Afrikaanse regter wys daarop hoe onprakties meertaligheid in ons howe sou wees. Kan jy nou meer! Kan jy jou iets meer onprakties voorstel as ʼn owerheid wat met die volk probeer kommunikeer in ʼn taal waarvan sy eie amptelike statistiek sê dat meer as die helfte van sy mense dié betrokke taal glad nie verstaan nie? Gʼn wonder die regering sukkel so om te geregeer nie … Wat op aarde is meer onprakties as elf amptelike nasionale tale? Hoe prakties is dit om die SAL te red en kan iemand vir my verduidelik wat die praktiese nut van korrupsie vir ʼn staat se fiskus is? Hoe bekostigbaar is meer as een kultuurgemeenskap in enige land? Wat is prakties aan vyftien mense in een pondok of drie slaapkamers in ʼn huis waarin net twee mense woon?

Die probleem, so lyk dit vir my, lê eintlik in die verabsolutering van die praktyk, asof ons voortbestaan uitsluitlik van die praktyk afhanklik is. Die voortbestaan van enige taal lê immers ook in die houding van sy sprekers en in die intellektuele produkte van sy kunstenaars. Die status van Afrikaans word, byvoorbeeld, ook bepaal deur die gehalte van sy skeppende en uitvoerende kuns. Kale praktyk sonder emosie is so smaakloos soos biltong sonder sout: verteerbaar, maar oneetbaar sleg.

Die voor die hand liggende praktiese oplossing vir meertalige howe sal vir die meerderheid Suid-Afrikaners emosioneel en polities onaanvaarbaar wees. Dit is naamlik die instelling van rasblinde taalspesifieke howe. ʼn Afrikaanse of isiXhosa-hof sal egter baie mense om verstaanbare redes darem alte veel aan kolonialisme en apartheid herinner. Die jag op Afrikaanse skole en universiteite is hiervan sprekende bewys.

Die historiese praktyk waarbinne Afrikaans as intellektuele alleengoed van Afrikaners gehandhaaf is, is vir goed verby. Die oorlewing van Afrikaans is nou aangewese op kreatiewer strategieë wat alle Afrikaansgebruikers daartoe kan aanspoor om as taalbewaring die negatiewe houding teenoor Afrikaans, van binne en na buite, te normaliseer deur die oorwoë woord en versoenende daad van onkreukbare gehalte.

Die praktiese oplossing vir taaleenheid in taalverskeidenheid in Suid-Afrika lê na my mening in ʼn grondwetlike wysiging van die taalartikel, artikel 6(1), wat elf amptelike tale daarstel: “Die amptelike tale van die Republiek is Sesotho sa Leboa, Sesotho, Setswana, Siswati, Tshivenda, Xitsonga, Afrikaans, English, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu.”

Die aanpassing van die betrokke taalartikel wat ek voorstel, behels vier nasionale amptelike tale in Suid-Afrika omdat dit die praktiese en die emosionele in ag neem. Die vier nasionale tale is die grootste Nguni-taal: isiZulu; die grootste Sothotaal: Sepedi (of Noord-Sotho); Afrikaans; en Engels. Xitsonga, Tshivenda en die oorblywende Nguni- en Sothotale moet as amptelike streektale gelyke status behou.

Gegrond op sensussyfers van 2011 loop my redenasie soos volg: Die vier Nguni-tale (isiZulu – 22,7% van die bevolking; isiXhosa – 16%; isiNdebele – 2,1%; en Siswati – 2,5%) stel 43% van die Suid-Afrikaanse bevolking daartoe in staat om amptelike kommunikasie redelik goed te kan verstaan. Nie dat al hierdie tale onderling volkome verstaanbaar is nie, maar dit is beslis vir hierdie sprekers meer verstaanbaar as koloniale Engels. Die gebruik van ʼn Sotho-taal beteken dat ʼn verdere 25% amptelike kommunikasie kan verstaan, want die drie tale, Sesotho (7,6%); Sepedi (9,1%); en Setswana (8,7%) is onderling betreklik verstaanbaar. Ongeveer 23% mense kan Afrikaans (13,5% of 17,2 miljoen mense) en Engels (9,6% of 15,9 miljoen) verstaan. Dit laat skaars 7% Suid-Afrikaners (Tshivenda [2,4%] en Xitsonga [4.5%]) wat op nasionale vlak nie ʼn amptelike taal as moedertaal verstaan nie. Hierdie vier amptelike nasionale tale bedien dus meer as 90% van die bevolking in ʼn taal wat hulle beter as Engels of Afrikaans kan verstaan. Dit maak terselfdertyd die ewige en ongegronde verskoning “dat ons tog nie in al elf tale kan kommunikeer nie”, nog belagliker.

Nee, ek het nie van die Khoi- en Santale vergeet nie. Maar kampvegters, waarvan ek een is, vir die herwaardering van hierdie oertale sal die strategie drasties moet aanpas. Daar bestaan nie iets soos ʼn Khoi-San-taal nie, ook nie ʼn taal soos Khoi of San nie. Daar is net ʼn verskeidenheid Khoi- en Santale waarvan daar bitter min moedertaalsprekers binne die Suid-Afrikaanse grense oorgebly het vanweë die grootskaalse moedertaalverplasing na Afrikaans sedert die 17de eeu. Dit het belangrike implikasies vir die aard van die strategie waarmee daar rekening gehou moet word in die stryd om die erkenning van die eerste inheemse tale in Suider-Afrika.

Die grootste taalprobleem in Suid-Afrika, soos dikwels in die verlede, is die institusionele afdwing van Engels en dit omdat ons die onderhandelde leuen van eenheid in verskeidenheid bly glo, terwyl die politieke werklikheid eintlik eenheid ten koste van verskeidenheid is. Ek wens ons wil ophou om die leuen so gelate te aanvaar, maar om daaroor hof toe te gaan, help nie. Dis moeilik om Afrikaans se saak op Engels te stel.

Al wat oorbly, is dat jy wat Afrikaans is, jou askieshouding oor meertaligheid verander: meertaligheid is ʼn bate, nie ʼn las nie! Verander jou houding ter wille van ʼn beter verhouding.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JJ ·

In die Wes-Kaap het die regter president lankal ‘n edik uitgevaardig dat die voertaal Engels is. As die verhoor in Afrikaans gehou is, en dit word op hersiening of appel geneem na die Hoer Hof, dan word die rekord en uitspraak vertaal na Engels. Die regters verstaan nie Afrikaans nie
.

annie ·

Sommer aan die begin die mensdom en die Bybel in Gen 11 het die mense groot planne gehad vir een wèreldtaal en ‘n toring wat ten hemele reik vir een grootse wèreldryk. Die Here was nie beìndruk nie. Die toring van Babel het geval en die mense, met ‘n verskeidenheid van tale toebedeel, is verstrooi. ‘Verander jou houding ter wille van ‘n beter verhouding’ vra blf vir Engels. Wat anders? Wat ons wel weet is dat die Here nie van eentaligheid hou nie.

Johannes ·

Ja, aan eens Afrikaanse universiteite word diversiteit en meertaligheid gepredik terwyl Afrikaans afgeskaal of afgeskaf word. Hans du Plessis noem dat hy hom vir taalbewaring beywer. Taalsuiwerheid is sekerlik ‘n noodsaaklike deel hiervan. Hy kan gerus volgende keer teen die skandalige verengelsing van Afrikaans te velde trek.

groenboer ·

Ja, nogal: die helfte van di e Afrikaners wat so te kere gaan oor hoe trots hulle op hul taal is, is self hard aan die werk om hom te vernietig.

In ieder geval, ek verwag nie dat die regering hul taalbeleid gaan verander nie, en jy kan seker wees dat in praktyk alle amptelike funksies gaan verengels. Ons kan straks niks daaraan doen nie.

Afrikaners gaan alles in die stryd moet werp om self so goed as moontlik na hul taal en kultuur om te sien, want niemand anders gaan nie.

J ·

Skitterende artikel Hans!

Vergeet van die ANC (rampokker) regering se goedkeuring, toestemming of hulp.

Ons sèlf …. WIL, SAL, KAN ons soetste taal laat dawer deur Afrika én die hele wêreld!

Ons ‘byteltjie’ kan ‘n rots kloof!

Adam Adriaan ·

Baie goeie artikel. In tussen verkrag die ANC/EFF Hulle eie beleid en beginsels deur die taal van die Koloniale Elite aan te neem en hulle floreer op al die moderne items en maaksels van die sogenaamde Westerse koloniale onderdrukkers.

Kokerboom ·

Ons moet net doelgerig ons taal bly praat en toepas dan is toekoms verseker

Andries ·

As dit nie vir sendelinge was wat die wonderlike Evangelie aan die heidenvolke wou bring nie, was nie ‘n enkele Afrika taal vandag ‘n geskrewe taal nie.. M.a.w. hulle het hulle taalskrywing ‘op ‘n skinkbord gekry’ – en dan ook daarom dat hulle so min erg aan hul eie taal het. In teenstelling daarmee moes die taalstryders vir Afrikaans tot vandag toe verbete stry vir erkenning en die behoud van Afrikaans.

Derek ·

Dit blyk dat Engels as voorkeur taal reeds met die onderhandelings as n versteekte agenda beding is, tereg opgemerk deur die skrywer. Dit opsig self is nie al leuen wat met die onderhandelings proses gepropageer is nie. Saam met dit ook die leuen van die vryheid van godsdiens wat deel vorm van artikel 15.1 van die handves van menseregte. Verskeie skrywes is gerig aan prominente persone, soos aan Allan Boesak en ander pastore en predikante, wie tot vandag toe nie reageer op hierdie sinnelose en verraadlike daad gepleeg deur ons eie kerk met al hulle doktorale grade en al nie. Dit blyk dat hulle nooit voorbereid was tydens die onderhandelings proses en totaal onkant betrap is.

Dit is dus geen geheim dat verskillende hof uitsprake afhang van watter ” godsdiens” die voorsittende beampte n lid is. Die stilswye van die kerk, wie veronderstel is om as Herders op te tree is kommerwekkend. Nog meer kommerwekkend die feit dat die liberale kerk die 1933/53 vertaling verander het, skokkend!

Adam Adriaan ·

Die linkse Liberale atiëste verander die Woord om hulle te pas.

Derek ·

Ek wil lidmate waarsku om nie enige ander Bybel te lees as die 1933/53 vertaling nie. Die vertalings daarna is bloot verdraaide weergawes wat die siening van die liberale kerk en Predikante se siening en opinies is. Klaarblyklik word daar tans weer n nuwe vertaling uitgereik, sekerlik om lidmate en Christene verder te verwar en te mislei. 2 Petrus 3 is juis die Skrif gedeelte wat ons waarsku teen die misleidende vertalings wat sedert die 1933/53 vertaling die rondte doen. Dit is tyd dat die kerk, met al sy Predikers, hulle moet bekeer tot die Lewende God, soos Christus Petrus beveel het om te doen. Dit is juis die leuen van godsdiens vryheid wie die geboorte gegee het aan die huidige krisis in Suid Afrika. Ook verbasend dat die Hoofregter die kerk moes aanspreek, eintlik n klap in die gesig van die huidige kerk met al sy doktorale predikante en pastore. Almal nog vasgevang onder ou verbontiese gebruike en dogmas. So jammer dat siele verlore gaan as gevolg van leuens.

Grys Uil ·

En ongelukkig is die NWU ook besig om Afrikaans totaal te negeer. Veral in die Ingenieursfakulteit (waar 2 van ons kinders tans studente is) is al die nuwe dosente slegs Engelssprekend en word Afrikaans glad nie meer van die 2e jaar af gebruik nie. Selfs vir onderwysstudente wat in Afrikaans gaan skoolhou, word sommige vakke in Engels aangebied……. Wikkel Akademia sodat daar die geleentheid vir ons kleinkinders kan wees om hopelik in enige rigting (veral die tegniese en wetenskaplike rigtings) in Afrikaans te kan studeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.