Erepenning vir Hermann Giliomee

Erepenning 2011
Commendatio vir Prof Hermann Giliomee

Hermann Buhr Giliomee is op 4 April 1938 in Sterkstroom gebore. Hy gaan skool op Porterville en studeer onder meer geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Na ’n kort verbintenis met die departement buitelandse sake in die vroeë sestigerjare doseer hy geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1983 word hy as professor in die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad aangestel. Tydens sy akademiese loopbaan dien hy onder meer as postdoktorale navorsingsgenoot aan die Yale Universiteit in die VSA, as Jan Smuts-navorsingsgenoot aan die Universiteit van Cambridge en as president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-aangeleenthede. Tans dien hy as buitengewone professor in die geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy word in 2001 onder meer met die Stals-prys vir prestasies in die politieke wetenskap en in 2004 met die Stals- en die Recht Malan-prys vir prestasie in die geskiedenis vereer.

Prof. Giliomee het as akademikus bekendheid verwerf deur ’n omvangryke hoeveelheid werke sowel binne as buite die formele akademie te publiseer. Hy was onder meer mede-stigter van die Afrikaanse opinieblad, Die Suid-Afrikaan, ’n gereelde bydraer tot die Cape Times, Rand Daily Mail, redaksionele medewerker van die FAK se Die Vrye Afrikaan en die afgelope jare ’n rigtinggewende skrywer in Afrikaanse koerante soos Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport.

Van die belangrikste boeke wat uit sy pen verskyn het, is die volgende:
Ethnic power mobilized – Can South Africa change? (met Heribert Adam), 1979.
Die Kaap tydens die eerste Britse bewind, 1795–1803, 1971.
The parting of the ways, 1982.
Up against the fences, 1985.
The Shaping of South African Society 1652-1840, 1988.
From apartheid to nation-building, 1989.
Negotiating South Africa’s future, 1989.
The Bold experiment, 1994.
The awkward embrace, 1999.
Kruispad, 2001.
The Afrikaners: Biography of a people, 2003.
Die Afrikaners: `n Biografie, 2004.
‘n Vaste plek vir Afrikaans (met Lawrence Schlemmer), 2006.
Nog altyd hier gewees – Die storie van ‘n Stellenbosse gemeenskap, 2007.
New History of South Africa / Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika, (met Bernard Mbenga).

Die Afrikaners as kultuur-gemeenskap bevind hulleself die afgelope dekades in waarna verwys kan word as ’n toestand van simboliese onsekerheid. Dit is ’n toestand wat onder meer neerslag vind in ’n onsekere selfbeskouing en in die besonder in die twyfel aan ’n histories legitieme selfbeeld.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die werk van prof. Hermann Giliomee as van buitengewone historiese betekenis beskou moet word. Prof. Giliomee lewer in ’n wye reeks van invloedryke lesings en rigtinggewende publikasies, waaronder sy internasionaal erkende werk oor die geskiedenis van die Afrikaners, ’n ongeëwenaarde bygedra daartoe dat ’n ewewigtige selfbeeld onder Afrikaners herstel word.

Vanaf sy eerste oomblikke as akademikus en vooraanstaande ‘openbare intellektueel’ het prof. Giliomee nog nooit gehuiwer om kritiek uit te spreek waar dit nodig is nie. Sy loopbaan staan in die teken van die moed om hierdie kritiese rol te speel.

Tegelyk word die werk van prof. Giliomee onderlê deur ’n diepe simpatie met en betrokkenheid by die wel en weë van sy mense. Sy kritiek gaan daarom ook nooit met siniese afskeid en ontnugterde omdraai gepaard nie. Inteendeel, in wat beskou kan word as ’n buitengewoon voortreflike voorbeeld van kritiese empatie is die werk van prof. Giliomee sonder uitsondering gerig op meelewing, herstel en herskepping – ook en veral met betrekking tot die simboliese onsekerheid waarna hierbo verwys is.

Aristoteles het gesê dat moed eers werklik moed is wanneer dit deur deugde soos grootsheid en wysheid vergesel word. Soos by weinig ander openbare figure tydens die afgelope dekades word hierdie klassieke deugde op ’n voortreflike wyse in die persoon van Hermann Buhr Giliomee beliggaam.

As sy werk onder meer daarop gerig is om die historiese selfbeeld van Afrikaners te herstel, het dit reeds ’n aanvang geneem in en deur sy persoon en in die besonder deur die voorbeeld wat hy as openbare figuur en leidinggewende denker aan ons almal stel.

Dit gebeur net soms in die lewe van ’n kultuur-gemeenskap dat hy die voorreg het om dapperheid, grootsheid en wysheid so saamgeknoop in een persoon te sien. Dit is vir die FAK ’n buitengewone voorreg om sy hoogste eerbetoon, die Erepenning, aan prof. Hermann Giliomee te bewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.