Foto’s van bekendes se “selfies” volg onderaan die berig. Die woord “selfie”, ʼn foto wat met ʼn selfoonkamera van jouself geneem word, is pas deur die Oxford English Dictionary as die Woord van die Jaar aangewys.
“Dit wil voorkom of almal wat enigiemand is, iewers al ʼn “selfie” op die internet gelaai het,” het Oxford Dictionaries op sy blog geskryf. “As dit goed genoeg vir die Obamas en die pous is, dan is dit goed genoeg vir die Woord van die Jaar.”
Pous Francis het in Augustus vanjaar protokol verontagsaam toe hy saam met ‘n groep tieners op ‘n sogenaamde “selfie”-foto verskyn het. Klik hier om meer te lees.
Die gebruik van die woord het oor die afgelope 12 maande glo met 17 000% toegeneem.
Die begrip is vir die eerste keer in 2002 in Australië gebruik, en nie in Amerika of Engeland, soos mens sou verwag nie. ʼn Deelnemer aan ʼn internetforum het ná ʼn besope ongeluk op ʼn stel trappe ʼn selfportret opgelaai. “Ek het ʼn gat deur my onderste lip,” het die person geskryf. “En jammer oor die fokus, dit was ʼn “selfie”.”
Die derde uitgawe van die Oxford English Dictionary, wat aanvanklik in 2010 verwag is, gaan moontlik eers oor 20 jaar uitgereik word.