As daar een ding is wat mense saambind, is dit die taal wat jy praat. Maak nie saak waar jy jou bevind nie, as iemand jou taal praat of verstaan, is daar ʼn onmiddellike gevoel van samehorigheid, ʼn mate van eenheid… Niemand kan homself beter laat geld of mooier uitdruk in sy hartstaal nie.
Ons eie Afrikaans is een van die kleurvolste, beskrywendste tale. Soos jy deur die mooie Suid-Afrika reis, ontdek jy nie altyd net die skoonheid van die omgewing nie, maar ook die skoonheid van die taal – verskillende dialekte, spreekwoorde, sêgoed, eie aan elke streek.
In watter ander taal kry jy blommename wat so beskrywend is soos volstruisvygies, geelkatsterte, kewermadeliefie, lepelblom, bokbaaivygies …
Wanneer jy deur Namakwaland reis, of jy nou tussen die blomme of vetplante kuier, kry elke plant en blom ʼn persoonlikheid, ʼn identiteit. Dit is asof jy ʼn persoonlike band vorm met die natuur se skoonheid. Hoe kan die spinnekopblom, engeltjies-malva, kameelvoetjies, bobbejaanvingers, bababoudjies, pietsnot en gansogies nie elk ʼn eie persoonlikheid hê nie?
Name soos Taraxacum officinale, Albuca canadensis, Ixia curta is vir die meeste van ons Afrika- kinders moeilik leesbaar, wat nog daarvan om dit uit te spreek! Maar as jy in Namakwaland reis, leer jy die Afrikaanse name – perdeblom, slymstok en bruinoogkalossie …
Maroela Media se Storiebustoer saam met Namakwa Toere, bied jou nie net die geleentheid om een van die mooiste dele van Suid-Afrika te ontdek nie, maar ook die geleentheid om in jou taal te toer. Ons gaan die Namakwalandse skoonheid indrink en op ʼn ander vlak leer ken, en boonop ook lekker stories vertel. In die aand gaan daar saam met Namakwalanders gekuier word: Gasvryheid gaan op ʼn ander vlak ervaar word!
Egbert Brink van Radio Namakwaland, en sy boereorkes, het die mooiste kontreistories wat hulle met ons gaan deel. Johny Klein, wat onder andere bekend is vir sy Ferdinand Deist-voorlesings, gaan ook saam met ons toer. Hy gaan ons een aand bederf met ʼn vertoning, eksklusief net vir die toerlede. Ons twee toerleiers, Mike en Marné, is ook Namakwa-kinders wat dié stuk aarde baie goed ken en hul kennis, stories en hart op ʼn baie besondere manier met elke toerlid deel.
Ná die toer gaan jy terugkom met ʼn nuwe liefde vir die mooie natuur en vir jou taal, Afrikaans.
Ons nooi jou saam: Maroela Media se Storiebustoer deur Namakwaland vind plaas vanaf 9 tot 13 September 2020. Pryse vir die toer begin vanaf slegs R10 000 pp wat deel. Vul die onderstaande vorm in vir meer inligting, besprekings en die toerprogram.
Ons kan nie wag om saam met jou te reis nie! Onthou daar is slegs ʼn beperkte hoeveelheid sitplekke op die bus.
Oops! We could not locate your form.
Hoor ook wat ander 2019-toerlede van die belewenis te sê gehad het:
- Foto’s: Waar woorde weer soos volstruisvygies blom
- Foto’s: Namakwalandtoer is meer as net ʼn skouspel blomme
- Hier is dit hemel op aarde