Al singende en dansende na die Spier Digtersfees 2016

Argieffoto (Foto: Spier Poetry Festival, Facebook)

Argieffoto (Foto: Spier Poetry Festival, Facebook)

Op Saterdag 7 Mei kom digters, minnesangers, filosowe en musikante bymekaar om met woorde en taal te riel by die Spier Digtersfees, ook bekend as die dansende digtersfees.

Die geleentheid is ʼn verdere vergestalting van ʼn vennootskap tussen Spier en die Pirogue Kollektief, en word deur Breyten Breytenbach, Dominique Botha en Neo Muyanga byeengeroep.

Die 2016 aanbieding sluit in James Matthews (Suid-Afrika), Keorapetse ‘Bra Willie’ Kgositsile (Suid-Afrika), Michel Deguy (Frankryk), Maram al-Massri (Sirië/Frankryk), Efe Paul Azino (Nigerië), Yvette Christiansë (Suid-Afrika/Australië), Hans ten Berge (Holland) en Breyten Breytenbach (Suid-Afrika).

Die groep kom ’n week voor die aanvang van die eendag-fees bymekaar om saam deur die buite en binne landskappe van die Wes-Kaap te reis. Deguy en Al-Massri se deelname word deur die Franse Instituut Suid-Afrika ondersteun.

“Die fees sal weereens ʼn bevoorregte ruimte bied vir die vervlegting van stemme waar ons sal droom asof ons vir ewig gaan lewe”, sê Breytenbach. “Dit is met bietjie kennis en begrip vir die meerlagige diversiteit van mense wat hierdie deel van die wêreld artikuleer, die botsings en die streling van hierdie berge en wind, van die verworteling van ons drome – dit is wat ons deel en wat ons het om aan ons gaste van oorsee aan te bied. Hoe anders sou ons kon weet dat ons een is in ons ontmoeting met die mensoue – veelvoudigheid van poësie?”

Volgens Botha wou hulle in die begin net digters oor die ouderdom van 75 jaar nooi wat dans, drink en glo dat poësie die onbenulligste ding in die wêreld is waarsonder hulle nie kan klaarkom nie. “Ons het betreffende ouderdom ʼn paar toegewings gemaak…” sê sy.

Die fees se musiekregisseur, Neo Muyanga, se temas en leimotiewe word tydens die week se byeenkoms gekomponeer en dien as musikale onderbou van die voorlesings tydens die fees. “Ons, die koor, sal die geroep van die digters in beurtsang beantwoord met lofprysing, sugte en ’n omhelsing van solidariteit,” verduidelik hy. “Begeesterd deur die fees se leigedig, Po Tsju I’s Madly Singing in the Mountains, sal ons onsself in ʼn koor van musikale stemme fatsoeneer.”

Andrew Milne, Spier se hoof uitvoerende beampte, sê hulle glo onvoorwaardelik in die potensiaal van die kunste om mense en samelewings te omvorm. “Soos in vorige jare is hierdie besonderse samevloei van internasionale digters en poësie ʼn samekoms wat belangrike gesprekke ontketen en lieflike oomblikke na Spier bring.”

Waar en wanneer: Die fees vind plaas op Spier (Stellenbosch, Wes-Kaap) op Saterdag 7 Mei vanaf 10:00.
Koste: Alle gesprekke voor die aand se voorlesings word gratis aangebied (bespreek hier)
Die Poësie Voorlesing, wat alle deelnemende digters insluit, begin om 19:00. Kaartjies kos R220 en sluit ʼn driegangmaal en ʼn glas wyn in (bespreek hier)

Die program:

10:00 Gesprek 1: Is standbeeldbestormers die gewapende vleuel van politiese korrektheid?
Breyten Breytenbach, Michel Deguy, Yvette Christiansë en Keorapetse Kgositsile wonder of die vernietiging van simbole uit die verlede die wonde van die hede bind, of neerkom op die bestorming van windmeule?

12:00 Gesprek II: Selfs die engel van geskiedenis kan nie verdra om te kyk
Efe Paul Azino, Maram al-Massri, Hans ten Berge en Breyten Breytenbach in ‘n bespreking oor ontheemding, vlugtelinge, ballingskap en die potensiaal van die skrywer om gemeenskaplik die ruimte vir humanistiese begrip te vergroot.

14:30 Gesprek III: Taunting that powdered death called Respectability
Neo Muyanga, Keorapetse Kgositsile, James Matthews en Efe Paul Azino bespreek die geskiedenis van protes in poësie en sang, en die voortdurende stryd vir rewolusie, teen politiek.

16:30 Gesprek IV: Omtrent wyn. Omtrent tyd!
Spier Wyne bied ’n paring tussen wyn-en-woord aan.

19:00 Voorlesings deur al die deelnemende digters, met musikale regie deur Neo Muyanga.

Bespreek by www.webtickets.co.za
Besoek die Facebook-blad
Besoek die webwerf

Oor die deelnemende digters:

Yvette Christiansë. Suid-Afrikaans gebore digter, romansier en akademikus het op die ouderdom van 18 saam met haar ouers na Australië emigreer. Sy gee klas by Barnard Kollege, New York.

James David Matthews. Die wederstrewige digter wat meer as agt dekades gelede in die Bo-Kaap gebore is, word as ‘n man van talent, deernis en merkwaardige integriteit beskryf.

Prof. Keorapetse ‘Bra Willie’ Kgositsile. Suid-Afrika se Nasionale ‘poet laureate’ word sedert die l960’s beskou as een van die land se mees kenmerkende poëtiese stemme.

Michel Deguy. Die Franse denker-digter en filosoof is in 1930 in Parys gebore en sy werk word veral vir die diepte van sy filosofiese besinning bewonder.

Hans C ten Berge. Een van Nederland se voorste digters, en skryf ook prosa en opstelle en werk in vertaling.

Efe Paul Azino. Gereken as een van Nigerië se voorste praatdigters, en was reeds kurator van die land se belangrikste poësiefeeste.

Maram al-Massri. 2015 ontvanger van die Dante Alighieri prys, is oorspronklik van Lattakia in Sirië, maar het haarself 1982 in Parys gevestig. Sy skryf oor politieke en intieme temas, in Arabies en Frans.

Georges Lory. Voormalige hoof van die Alliance Française in Suider-Afrika, beide ’n digter asook ’n vertaler na Frans van Suid-Afrikaanse skrywers insluitend Gordimer, Breytenbach, Krog en Njabulo Ndebele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.