Avbob-digkompetisie: Inskrywings dán oop

Avbob se poësiekompetisie is oop vir sprekers van al 11 amptelike tale in Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

Dit is weer tyd vir aspirant- en gevestigde digters om in te skryf vir Avbob se digkompetisie, wat vanjaar die vyfde keer aangebied word.

“Woorde van troos en vertroosting kan ons help om hierdie ongelooflik moeilike tyd te oorleef,” sê Carl van der Riet, Avbob se uitvoerende hoof.

Die Avbob Poësiekompetisie is in 2017 van stapel gestuur om te voldoen aan ʼn universele behoefte – die verwoording van die verlies van ʼn geliefde. Wanneer mense geliefdes aan die dood moet afstaan, ervaar hulle ʼn groot, en dikwels blywende, leemte, asook die behoefte en gelyktydige onvermoë om die verlies te verwoord.

“Ons bied graag ʼn platform waar mense uiting aan hul emosies kan gee. Ons hoop dat digters wat hiervoor inskryf se hart en gees bemoedig word en dat die poësie lesers se harte sal aanraak.”

Avbob se poësiekompetisie is oop vir sprekers van al 11 amptelike tale in Suid-Afrika. Die wenner in elke taalgroep ontvang R12 500 kontant, ʼn boekbewys ter waarde van R2 500 en die Avbob-poësietrofee. Daarbenewens ontvang die digters R300 kontant vir elke gedig wat op Avbob se poësiewebwerf gepubliseer word.

Die top-3 gedigte in elke taalkategorie word saam met dié van bekende digters in ʼn  gedrukte bloemlesing opgeneem. Alle gedigte op die kortlys sal in Engels vertaal word in die gees van die bevordering van begrip en meegevoel, en om die rykdom van Suid-Afrikaanse tale te vier.

Avbob se poësiewebwerf bevat ʼn magdom bronne, wat nuttige artikels met raad oor hoe om gedigte te skryf en bloginskrywings deur suksesvolle digters insluit. Redakteurs deel ook wenke en inspirasie op die kompetisie se sosialemediaplatforms.

Inskrywings vir vanjaar se poësiekompetisie is oop van 1 Augustus tot 30 November. Alle inskrywings kan aanlyn op Avbob se poësiewebwerf ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.