Avbob-digkunsprojek lewer rekordgetal inskrywings

Johann de Lange, hoofredakteur van Avbob se poësiekompetisie (Foto: Verskaf)

“Aan die einde van die projek se derde bestaansjaar is die Avbob Poësiekompetisie ʼn onteenseglike bewys van die diep transformerende rol wat digkuns in ons lewe speel,” het Dirk de Vynck, Avbob se senior skakel-en-kommunikasiebestuurder, gesê.

“Gedurende die laaste kompetisieweek is meer as 7 000 gedigte ingeskryf waarvan 2 224 op die sluitingsdatum ingedien is,” verduidelik De Vynck.

Altesaam 30 573 gedigte is deur 5 807 digters ingeskryf.

Die begrafnisondernemer het dié kompetisie die eerste keer in 2017 met groot sukses aangebied toe ongeveer 20 000 gedigte ingeskryf is.

Die getal inskrywings vir 2019 is ook vyf persent meer as in 2018.

“ʼn Digter wat in isolasie in Stilbaai by ʼn plaaslike internetkafee of by ʼn gemeenskapsteater in Siyabuswa werk, kan nou vorendag kom met woorde wat oor afstande uitreik en ander harte aanraak,” vertel De Vynck oor poësie se waarde as spreekbuis en luidspreker vir mense.

Dit is juis dié veranderlike, haas geheimsinnige mag van poësie wat vanuit die staanspoor die inspirasie was agter Frik Rademan, Avbob se hoof- uitvoerende beampte, se visie vir die projek.

“Dit het nog altyd oor óns mense gegaan. Ons staan as bewakers by die hek van die universele ritueel van die begrafnis. Hierdeur het ons begin verstaan dat ons vir ons mense ʼn platform moes skep waarop hulle hul verlies kon verwoord en ʼn manier kon vind om te genees,” verduidelik Rademan.

Dit is dié baanbrekersvisie wat verwesenlik is deur die bekendstelling van die projek en wat die momentum verskaf agter die volgehoue groei en sosiale gebruikswaarde van die inisiatief.

Carl van der Riet, Avbob se bestuurshoof, is beïndruk met die groei van die kompetisie.

“Dit is merkwaardig om te aanskou,” sê hy. “As aktuaris waardeer ek weliswaar die toename van inskrywings. Maar wat my eweneens sterk tref, is die groei in die kaliber van die vakgebied self, die groei in die gehalte van die gedigte wat ingeskryf word en, bowenal, die groeiende aantal inskrywings in al 11 amptelike tale.”

Johann de Lange, hoofredakteur van die kompetisie, beaam die positiewe bydrae wat dié kompetisie lewer tot die ontwikkeling van plaaslike digkuns.

“Dié projek het daarin geslaag om mense, by uitstek jongmense, terug te bring na die skryf – én lees – van poësie,” verduidelik hy. “Die voordele hiervan sal groei en duidelik word in die jare wat kom.”

De Vynck meen die toename in inskrywings is merkwaardig en veelseggend.

“Daar is talle digters in ons land wat miskien onseker is van hul talent, dalk effens huiwerig is om hul binnewêreld op ʼn openbare platform bloot te lê, en wat dalk sukkel om die tyd te kry om te skryf in hul dol daaglikse handel en wandel,” vertel hy.

“Wat egter saak maak, is dat ons reeds derduisende digters het wat hul stemme ontdek het en diverse waarhede praat waaruit ons beeldskone en betekenisvolle land bestaan,” sluit hy af.

“Poësie mag dalk verlore raak in die harwar van die lewe, maar ons keer altyd daarna terug,” meen De Lange.

Teen dié agtergrond nooi Avbob aspirant- en gevestigde digters uit om in 2020 terug te keer na poësie. In afwagting van die bekendstelling van die vierde poësiekompetisie word mense aangemoedig om die digter in hulself te vind en op dié manier stories te vertel.

Vir meer inligting, en vir die allerbeste poësie in al 11 ampstale, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.