Die steweltjies van Sannie

F.W. Reitz

Pas altyd vir ‘n vroumens op;
Dit help jou net g’n stuk nie:
Steek jy jou nek eers in die strop,
Dan kan jy nooit losruk nie.

So is dit ook met my gewees;
Ek was nie reg van plan nie,
Toen was dit al lank klaar met Kees:
Ek was geknoop aan Sannie.

Skaars was ek agtien jare oud,
Toen vry ek al na Sannie;
Myn sakhorlosie was van goud,
En ‘k gee pad vir g’n man nie.

Haar ouers het ons uitgelag,
Hul seg ons is maar vulletjies,
En ek moet nog ‘n bietjie wag
Met sulke kinderspulletjies.

Maar neef, ek moet jou tog verhaal,
Hoe dit met my gebeur is;
Jou tyd die kom ook nog eenmaal
Voor jy mooi reg daardeur is.

Ek droom mos dat sy voor my staat
Met splinternuwe stewels;
Hul mag van kleine voetjies praat,
Maar Sannie het twee knewels.

Ek trek my aan die oggend vroe:
“Saal op die skimmel daar!”
Toen ry ek reguit na Sannie toe,
Om te hoor hoe sy nog vaar.

“Goeiemôre, Tante, – môre, Oom! –
En waar is Sannie dan?”
Daar kom sy net soos in myn droom
Met dieselfde stewels aan.

Wel, ek sal jou maar kortaf sê,
Ek het haar toen gevra
Of sy my vir ‘n man wil hê,
Toen sê sy sommer “Ja!”

‘n Mens die bly tog maar net ‘n mens
Ek weet nie wat’s die rede,
Maar soos hy kry net wat hy wens,
Dan word hy ontevrede.

Dit help nou weinig om te huil,
Al het ek spyt van Sannie;
Kon ek die ou ding maar verruil,
Dan sou ek – maar ek kan nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.