Digter gee terug met woorde

Francois van Zyl (Foto: Verskaf)

“Die woorde in my gedigte is wonderwerke wat op plekke gebeur het waar ek padlangs gestop het,” vertel Francois van Zyl, wat pas sy debuutbundel As kombi-spieëltjies kon praat, uitgereik het.

Die bundel bevat ongeveer 90 gedigte wat oor ʼn tydperk van 15 jaar geskryf is.

“Tussen my grootwordjare op ʼn plot, helde wat ek verloor het, en verskeie oorloë wat ek moes veg, het alles bygedra tot waar ek vandag is,” vertel Van Zyl. “Ek sit met ʼn versameling woorde wat oor die jare bymekaargemaak is en nou in my bundel verpak word.”

Van Zyl meen dat elke oomblik en emosie wat hy tot dusver op sy lewenspad ervaar het, ʼn onlosmaaklike rol in sy gedigte speel.

“Partykeer het die lewe net gebeur, soms teen my eie sin en ander kere was dit as gevolg van keuses,” vertel hy verder. “Ek het elkeen van daardie oomblikke ervaar, beleef, ek het gelag en by tye gehuil ook. Ander kere was ek trots, maar uiteindelik het ek elke oomblik en emosie vir die langpad ingelaai.”

Verskeie van Van Zyl se verse is al in ander bundels gepubliseer, maar As kombi-spieëltjies kon praat is die eerste bundel onder sy eie naam. Dit vestig hom as ʼn nuweling, maar ook as gesoute digter in eie reg.

Van Zyl moes ook ʼn ánder struikelblok oorkom.

“Ek sukkel van kleins af met ʼn spraakprobleem,” vertel hy. “Maar danksy die McGuire-program kon ek as’t ware weer my woorde vind.”

Dié spraakprogram is ontwikkel om mense te help wat hakkel. Van Zyl spreek sy waardering uit teenoor die kursus en die rol wat dit in sy eie lewe gespeel het.

“Ek skenk 50% van elke bundel wat verkoop word aan die McGuire-program. Op dié manier kan ek iemand anders ook help om hul woorde terug te kry.”

Lees hier een van die gedigte wat in Van Zyl se bundel gepubliseer is:

kokiepen liefde

jou arm lyk so leeg
sonder my gekrap daarop
nes my rooi emmer hart
het die winter sy wit kom skyn op jou vel
tussen jasmyn
lê die pienk op jou naels uitgestrek

tussen bollemakiesies van boom tot boom
lê ʼn leë pringle blik
die label sê plain
ons 3 maande was nie so nie

jou kus was ʼn stoomtrein
die blou kombers, ons lugkasteel matras

op ʼn pot vol groen gras het ek kom verklaar
dat liefde soms wreed is, maar opreg is

die geel fleur van jou lag het my laat bont staan
tussen blare van jeug en my swart rekkie wat jy nog het

ʼn opgeskorte piekniek was ʼn erger vonnis
van dit wat ek nog wou sê,
dat elke sproet op jou arm het om my hele aarde kom lê

al was dit net een krap, sou jou arm en my oranje roes
mense jaloers maak

die kokiepen, daai kokiepen
lê in my kar se deur
al die tyd..
en wag..

soos ʼn skip
wat wag vir ʼn absolusie

Om ‘n kopie van As kombi-spieëltjies kon praat te koop stuur gerus ʼn e-pos na Francois van Zyl of bel Zoolily Manufacturing by 082 758 1232.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mel ·

Talentvol!!!!
Ek onthou nog ons milkshakes by Spur toe ons 12 was. Nou is jy skielik ‘n ‘celebrity’. Jy is voorwaar ‘n ongelooflike mens met ongelooflike talent Francois!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.