Die digter Carina Stander skryf: My hartewens vir Suid-Afrika vir 2018 is dat dit goed sal gaan met die boere en boerinne van ons land. Hulle wat die kosmandjies in hulle hande hou, maar vanjaar verwond is deur skryende droogtes en plaasgeweld. Die familieboere, megaboere, bestaansboere, die swart, wit en bruin boere – mag 2018 ʼn beter oesjaar wees.
ʼn Boer sterf op sy plaas
ʼn Boer sterf op sy plaas.
Die weigras knak in die nanagwind,
knak kromrug en geruisloos.
Die saailinge is agteroorgebuig,
die wind waai: ʼn boer sterf op sy plaas.
Die saad sidder ondergronds.
ʼn Boer sterf op sy kindsbeenplaas.
Hy het osse gemaak uit miershoopklei,
diere met sekelmaanhorings.
Later sy kroos geabba deur die dorings –
sy vrou vonkelend en broos in die lamseisoen.
ʼn Boer sterf grusaam op sy plaas.
Hoor hoe bars die boord uit haar nate,
sap en pitte reën alomheen
in ʼn laaste seënwens
dat die bome steeds jaarringe sal maak
dat die plaas tot puinhoop van pyn nie verval.
ʼn Boer sterf op sy lieflingplaas.
Die aarde gooi haar arms vir hom oop,
die kudde in die kraal luister hoopvol vir sy gefluit,
die waghond tjank sag na binne.
In die stal stamp die hings sy hoewe.
ʼn Deurwinterde boer sterf op sy plaas
voordat ons kon sê
hoe die vleis uit sy veld oor ons kuiervuur sputter
die glansgroen groente van sy werf
die waatlemoene en lemoene die bulpampoene soos geel planete
bliknat sterre uit die lug geërf.
Die boer wat ons sorgsaam gevoed het
keer terug na die grond van geboorte en bloed.
Die boomgom stol traanvormig.
Vanjaar was die vrugte bittersoet.
– Carina Stander
Pragtig mooi, dis so uit die hart gese. Ja ons bid vir ons boere, die boere raak min, die kos raak op.
Hoendervleis mooi….
Kosbaar, dankie Carina. Mag 2018 die jaar wees met baie reën en geen geweld teenoor almal in SA nie. Net vir 1 dag, asb Here, net een daggie waar niemand vermoor word nie. Ons boere is in groot nood, gee asb vir hulle veiligheid en reën. ✝️
Hier is nou ‘n dame so na my hart.
Dit was nou pragtig .
Elke sel in my liggaam ontplof saam
Soos n oopgebarste granaat
Rooi en Wit
Die Pit