Kyk gerus na die foto’s onderaan die gedig van Namakwaland se blommeprag in 2014 wat ‘n leser vir ons gestuur het.
Blommekykers
Deur George Weideman (Geb. 1947)
juliemaand en die familie skryf
sal daar blomme wees vanjaar?
is vooruitsigte goed of sleg?
nooit vra hoe staan die koring
het dit al gereën het die skaap kondisie nie
aljimmers net die blomme
en end augustus kom die konvooie
uit die kaap die baai en die transvaal
kom kombi’s en langslapgatkarre
kom trap gousblom en sporrie snuif
kom bier en braairib in die hand
die kameras die zirr en klik
van kykgat tot by kamieskroon
(tot selfs ouma nie meer kán lag nie)
julle noordwesters is dárem gasvry
maar hoe lééf julle sonder tv?
‘t amper vir hom gesê dankie ons sien vêr genoeg
maar verdee of hy sal verstaan
as ons vêr oor die vlaktes na die weste tuur
sien ons hoe wissel kleur op kleur:
bedags strikdassies pietsnot en hongerblom
en die baldadigste geel varkensknol
saans die son pure bóntkopdoek
snags die sterre ons eie silwerdoek
vroegskemer smôrs misroepertjie wat fuuut
die mis stoot oor klaasvakie stout sê sjuut
maar as die blomme vir hulle te veel word
of die water darem té brak, dan pak hulle in
wat die oë sien en die hande kan dra:
here wat sal pam sê van dié “karos” –
wat is dit nou weer? dassie of wildekat?
hoe groen sal ou herbie net nie wees nie!
imagine ʼn egte “tonteldoos”! dalk
kan jy die watsenaam – gat, nè? – gat-
skuur vir ʼn deurstop vat
en o ja dankievirriewildsbiltong
dis awfulnicevanjulle sê my watsievinnigstepad
uit hierdie godverlate gat
somtyds voel mens
jy sien net bittergousblom
en gifmelkbos
somtyds wil mens bid
kóm toemaakmis
kom trek jou sluier
kom maak jou kinders se oë toe
of oostewind
kom waai jou waai
kom waai maar
álles
moerland toe
So mooi verwoord en ek verstaan die digter se gevoelens. Maar almal gaan darem nie snuiftrap en sommiges stap katvoet om nie te verniel nie. Wees maar mededeelsaam met jul skatte, sommige van ons verstaan van ver kyk en diep sien! Dankie nogtans Maroela!
Terloops Maroela, siende dit Afrikaanse maand is en die blomkyktyd begin, wat van sommer nog Namakwaland van DJ Opperman ook plaas??