Marlise Joubert (Geb. 1945)
by die venster sou jy sit
terwyl ’n wind die skoolboeke
van jou leerlinge liggies omblaai
bloeisels uit die somertuin inwaai
om jou aandag te laat gly
jy sou weet van kraaie wat in die vlamboom skuil
jy sou weet van my wat ’n ander land verken
jy sou die venster later toemaak
weer agter die lessenaar inskuif
geliefde inkpen in die hand en bril oor die oë
toe sou jy skielik opkyk –
iewers het ’n klok waansinnig in jou bors begin bons
die pen het jou greep ontsluit
jy het opgestaan uit jou stoel en na regs geswenk
jou klam vingers om jou keel geklem
jy sou miskien die glas met yswater hoor breek
terugtree en na haar roep voordat jy agteroor sou val
ek het pas aangekom in egelshoek
dit was november 1974
die koue mis het oor kanale opgestuif
jou kleinseun was honger
en het al fietsende na jou gaan soek
ek het verslae die spoedtelegram gelees –
sy het iets gehoor wat anders as gewoonlik was
sy het die gang afgeloop en na jou geroep
jou agter die lessenaar gevind
uitgestrek op jou rug
stil en vreedsaam oor die kantlyn van die mat
nou sit ek agter jou lessenaar, al jare lank
en ek vra jou dikwels nog of hierdie vlek
gekreukel soos ’n bloeisel op die eikehoutblad
die laaste ink was uit jou pen
(Uit: bladspieël. Marlise Joubert, Human & Rousseau, 2015)
Wat kan mens hierop sê…? So mooi en hartseer ook nog