Pieter Odendaal
en winterreën Bloemfontein beset
luister ek, terwyl die gedoofde dag
teen my ooglede terugspeel
na die crescendo’s van druppel op sink
soos die opmars van opstandiges
hoeveel liters het die lug
al laat val in hierdie land,
hoekom is die grond steeds so rooi?
die getimmer van swak suur
wat karre en kragdrade afgemete wegroes
die bliksemslae wat die wolke
soos vergelding terug aarde toe skiet
die druppels liefdesverklarings op my buurman se voete
as hy opnuut vergifnis op sy stoep onthou
hoeveel liters het die lug
al laat val in hierdie land,
hoekom is die grond steeds so rooi?
ek hoor ook
die waterasems wat val
deur die fotons van straatligte
die moeë dans op middelklasdakke
die trippe-trappe-trone in geute
die draaikolke in dreine –
die wegvoer van klank
hoeveel liters het die lug
al laat val in hierdie land,
hoekom is die grond steeds so rooi?
en iewers, anderkant die reën,
staan ’n ander ek bakoor
onder klakkelose sterre
en wag saam met die grond vir die wind om te draai
Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg, 2018)
Lees meer oor die digter Pieter Odendaal hier.
Pragtig!