Gedig: Besoekersboek

Argieffoto van name wat op 'n muur uitgekrap is by Kenilworth-kasteel in Kenilworth, Engeland Foto: goodbyepertbreasts.com

Argieffoto van name wat op ‘n muur uitgekrap is by Kenilworth-kasteel in Kenilworth, Engeland Foto: goodbyepertbreasts.com

Fanie Olivier (Geb. 1949)

op die sel se mure het iemand uitgekrap
(of liewer: íngekrap): sy naam en al die dae
van sy duskantse verblyf. gaan mens op stap
deur duikweë stasies onder brûe bly draai die vrae

wie was dié peter? waar kom pam vandaan?
hoe het die vriendskap tussen brian en ed begin?
sou w.a.l. se ouers hom meer as normaal geslaan
het? hoe lank het lieb sy liesbet bly bemin?

ek loer na hiërogliewe. ʼn boer het my gewys
waar jagtonele oorgebly het teen die krans.
vóór in die gideons se bybel is ʼn lang lys
lesers wat hul teen sterflikheid probeer verskans.

ʼn kind hoes seer; ʼn lam huil stomgemaak. ek skraap
moed bymekaar: ek was hier en hier het ek geslaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.