Johann de Lange
’n Haan soos Blink Stefaans
se skop trek bloed, hy skrop & heers oor gans die werf.
Hy laat die ander hane eierdans.
Met die son bo die oker bakkrans
trap sy geel geskubde pote elke lê-hen op die werf.
’n Haan soos Blink Stefaans
kloek op die perdestal se onderdeur, sý toringtrans,
loods ’n klaroengeskal wat oor sy domein wegsterf.
Hy laat die ander hane eierdans.
Sy bloedrooi kam & lelle, die kobaltglans
van sy stertvere, & sy strooiblonde kraag is oorgeërf.
’n Haan soos Blink Stefaans
vlam sweisblou & bronsgroen in die oggendglans;
sy kraai, soos ystergoed, kerf tot in die dag se nerf.
Hy laat die ander hane eierdans.
Blink Stefaans, is dit jý wat so hans
die dagbreek keelaf sny & die ouwerf verf?
’n Haan soos Blink Stefaans
laat die ander hoenderhane eierdans.
Uit: ’n Hunkering se grein
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke
Mooiste gedig wat ek in ‘n lang tyd gelees het