Gedig: Bolandse eik

Argieffoto (Foto: wolter_tom, Pixabay)

Argieffoto (Foto: wolter_tom, Pixabay)

IL de Villiers (1936 – 2009)

Die eik is in die akker waar dit skielik val –
diep in die somer as die laataand sonlig leen,
hop dit en rol tot in ʼn slootjie langs die wal
waar goud-gehelmde herfsbome wag op reën.

Die eerste buie spoel dit toe in sagte slik
van modder, blare, stukke bas en brokke mis.
Tussen erdwurms en mieregate lewe dit,
tót die gewassie uitbars uit sy dopbruin kis.

Die boom groei stadig vol seisoene en die vrot
slaan plek-plek gate uit van binne langs die pit.
Groen en fluweelfyn aan die bas kleef wintermos,
snoeiwonde sit swartoog by elke tak se lit.

Die eik kyk mense, jare, eeue agterna
terwyl hy aanhou uithol, blaar en akkers dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.