Gedig: Bollewange

Argieffoto

Die bekende kletsrymer Hemelbesem verduidelik in sy boek, God praat Afrikaans, sy dogtertjie Halo kan gou op haar perdjie spring.

“Dis vir my so poenankies! Sy sal by ʼn winkelvenster gaan staan as sy iets sien waarvan sy hou,” skryf Hemelbesem. “Ek sal ná ʼn paar treë besef sy is nie meer by ons nie, en dan tot by haar draf. Dan sal sy met haar hand na die item wys wat sy deur die venster sien om aan te dui ek moet dit vir haar koop. As ek nie byt nie, of my uit die gesprek wil wurm, dan begin haar onderlippie bewe. Een enkele traan wat afrol oor die wang volg, en dan sal sy begin huil. Dis haar manier van kwaad raak. Waar ek vandaan kom, het ons baie woorde vir kwaad wees, of kwaad raak. Ons sal praat van ‘daai ou se plaat skroei’. Maar die een wat my dogter met haar pragtige, ronde gesiggie die beste uitbeeld, is die woord ‘bollewange’.”

Bollewange

Sy staan stil…
weg is die bons.
Voorkop verkrummel,
dit verander in ʼn frons.
Ogies kyk stip in ʼn rigting in en nattigheid
vul dit van binne.
Eers een druppel, dan sal dit later spuit!

Soveel so,
mens kan in haar oëkaste duik!
Net nugter weet wat sy sien as sy so teen daai water kyk.

Haar lippe styf teen mekaar,
dit maak ʼn halfmaan
met mondhoeke wat afslaan.
Eers saggies, dan harder, dan “whaa!”,
so kom die klank aan,

en in tussenposes is daar tyd vir asemteugies.
Geplant waar jy staan, en niks gaan jou beweeg nie,

want…

Wie’s bollewange? Bollewange?
Wie’s bollewange? Bollewange?

 

Hemelbesem se boek, God praat Afrikaans, is beskikbaar by Graffiti Boeke.
Koop die boek vir slegs R150-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.