Gedig: By die Sondagmiddagmaal

Argieffoto Foto: "Grace" deur Eric Enstrom (1918) via Wikimedia Commons

Argieffoto Foto: “Grace” deur Eric Enstrom (1918) via Wikimedia Commons

Martjie Bosman (Geb. 1954)

Ons vra u seën, o Heer, by die gebruik van die voedsel,
van die brood, van die fyngemaalde koringkorrel,
van die wyn en die druiwe verpletter in die kuip,
van die sap gestort in die glas.

Dink aan dié wat minder bevoorreg is,
die straatkind en die steenkoolperd van Soweto,
die pampoene, patats en ertjies, gepluk, geskil, gekook:
hoe seer moet hulle lywe nie wees nie.

Seën die hande wat dit voorberei het,
die eelterige hand gesteek in koue water,
die hand wat huiwer by die inpak van die trollie,
die bang hand wat die krimpende loon ontvang.

Vergeef ons al ons skulde ook teenoor
die vetgemaakte kalf en die afkophoenderhaan,
op die skottel die skaap gelei ter slagting,
die Lam Gods gekruisig op die heuwel.

Laat ons u Naam nooit vergeet nie.
Laat ons die gawes uit u hand met vreugde geniet.
Laat ons die gewels van ons bestaan voor oë hou.
Laat die lewe by ons bly en ons die dood onthou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eliza-beth ·

Wat ‘n wonderlik-mooie gedig en die foto van die skildery daarby is ook so van pas! Ek is dankbaar dat ek genoeg het en gereeld kan gee and ander…

HEVW ·

Gedig met ware geestelike voedsel. Baie treffend. Lank na die lees daarvan vang dit steeds my gedagtes vas. Dit is waaraan die vereistes van n gedig moet voldoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.